Kerksweer bars oop

Die volgende artikel het in die Rapport op 17 November 2013 verskyn.

Kyk ook:

**********

Kerksweer bars oop

2013-11-17 00:08

Pieter Malan

Die NG Kerk se Woordfees-sweer het die afgelope week op ’n skouspelagtige wyse op Facebook oopgebars in ’n gesprek waarin dominees, voormalige dominees en lidmate mekaar die vieslikste skeldname toegesnou het.

Ds. Danie Mouton, die voorsitter van die direksies van BybelMedia en Tydskriftemaatskappy, is onder meer uitgekryt as ’n “paling in ’n emmer snot” terwyl dr. Johann “Tokkie” Ernst, aktuaris van die algemene sinode, beskryf word as die kerk se “Heinrich Himmler”.

Met verwysing na ’n gesprek tussen hom en Mouton oor Kerkbode se omstrede onttrekking as borg van ’n reeks godsdiensgeprekke by die Stellenbosse Woordfees vanjaar skryf ds. Eduan Naudé van Lyttelton in Pretoria: “Ek het binne die eerste minuut met my gesprek met Danie Mouton agtergekom dat hy so glad is soos ’n paling in ’n emmer snot…” Hy het later dié opmerking van Facebook verwyder.

Ernst was self een van die voorsingers in dié vuige koor. Ondanks sy verontwaardiging oor Naudé se opmerkings het hy nie geskroom om ook die teerkwas “met fyn venyn” (soos een deelnemer dit gestel het) aan te wend nie.

In ’n “sielkundige analise” beskryf hy mense soos Jean Oosthuizen, die voormalige nuusredakteur van Kerkbode, as “iemand van gemiddelde intel- lek… veeleisend en dikvellig… (sonder) die vermoë om konflik objektief en oordeelkundig te hanteer”.

Ernst se gewoonte om deelnemers aan die gesprek swart te smeer met oortredings wat hulle kwansuis dekades gelede begaan het en waarvan hy die details “iewers” op lêer het, laat een deelnemer opmerk: “Hoe lank is hy al Big Brother?… Hoekom word dit geduld? Heinrich Himmler van die NG Kerk?”

Ernst, een van die mees se­nior amptenare in die kerkhiërargie, se uitsprake – en veral sy energieke verdediging van die wyse waarop Kerkbode destyds onttrek het uit die Woordfeesgesprekke – werp ’n skadu oor ’n “versoeningsgeprek” wat vir Dinsdag in Pretoria beplan word.

Dié gesprek, waarna twee voormalige redakteurs van Kerkbode, ds. Barend Vos en me. Adri-Louise van Renen-Fourie en ds. Danie Nel van Wynberg in Kaapstad, genooi is, het ten doel om die geskil, wat nou al maande lank die kerk verdeel, by te lê. Mouton en dr. Pieter Fourie, die uitvoerende hoof van BybelMedia, sal ook daar wees. Hulle sal hul saak aan drie senior kerkleiers stel: die moderator, prof. Nelus Niemandt, die algemene sekretaris, dr. Kobus Gerber, en Ernst.

Dr. André Bartlett, hoof van die sentrum vir bedieningsontwikkeling by die Universiteit van Pretoria, meen Ernst is “baie naby die punt” waar hy op grond van sy bevooroordeeldheid van dié gesprek sal moet onttrek. In ’n brief aan die algemene sinodale moderamen (ASM) vra Bartlett en ds. Carin van Schalkwyk, ’n predikant in Phillipolis in die Vrystaat, vir ’n onafhanklike ondersoek na die debakel.

“Ek dink ons is verby die punt waar die saak inhuis opgelos kan word,” skryf Van Schalkwyk op Facebook.

Ernst het egter die afgelope week geskryf dat die ASM nie by magte is om ’n onafhanklike ondersoek na “interne” geskille by BybelMedia te loods nie. Later in die Facebook-gesprek verander hy egter van deuntjie en waarsku dat ’n onafhanklike ondersoek “ons almal kaal voor die keiser (kan) laat staan. Ek is bereid daarvoor.
Solank ons dit net weet.”

Só lyk dit as dominees baklei…

* Johan Smit (lidmaat): Hulle praat van ’n seisoen van luister. Ek meen ons moet eerder praat van die seisoen van duister!
* Terblanche Jordaan (voormalige NG predikant): Jou moer ­Johann Heinrich Ernst, jy het jou stories aan die gat beet en die hele wêreld probeer dit vir jou sê.
* Renier Lourens (predikant in Oshakati): Ons moet leef en werk met kerkleiers wat hoegenaamd geen vertroue inboesem nie en wat talle mense laat skeefbek trek vir die NG Kerk.
* Bertus Osbloed van Niekerk (leraar in ’n renaissance-gemeente): Ek dink Jesus draai in sy graf om as hy die toedrag van sake sien!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui