Steve se uitlating oor LGBTQ+ ‘roekeloos, stook haat’

 

*******

Steve se uitlating oor LGBTQ+ ‘roekeloos, stook haat’ | Netwerk24

Breyten Cupido

03 April 2022

Steve Hofmeyr se uitlatings in ’n video op sosiale media dat die LGBTQ+-gemeenskap ook bestialiteit insluit, is sterk veroordeel en as “roekeloos” en onsin afgemaak.

Minstens een aktivis meen die sanger se uitlatings stook haat.

Hofmeyr het die video oënskynlik Donderdag op sy Facebook-blad met nagenoeg 655 000 volgelinge gedeel.

In die video, wat hy later verwyder het, het hy verwys na ’n berig van die New York Post waarin ’n uitvoerende lid van Disney se bestuur gesê het hulle gaan meer inklusief word met hul inhoud.

Dit het gevolg dat Disney gekritiseer is omdat hy glo nie standpunt teen omstrede wetgewing ingeneem het nie. Die maatskappy het egter intussen die “Don’t say gay”-wetgewing veroordeel en gevra dat dit herroep word.

Hofmeyr sê in die video: “Disney waarsku die wêreld dat hy sy kinderkarakters gaan verander in elke seksuele LGBTQ+-voorkeur onder die son.”

Hy sê voorts dit is nie ’n aangename gesprek nie, veral nie vir “linkses” nie en dat dit laasgenoemde se idee was.

“Waar my generasie geleer het om met muise, honde en eende te praat, gaan ons kinders geleer word hoe om met muise, honde en eende seks te hê.”

Die akroniem LGBTQ+ staan vir lesbies, gay, bisexual, transgender en queer. Die + aan die einde sluit ander seksuele voorkeure, soos non-binêr en panseksueel, in.

Hy het later in ’n plasing gesê: “Een persoon, iemand wat waarskynlik nie kinders het nie, kla dat my opinie van LGBTQ+-infiltrasie by Disney verkeerd is.”

Maar Hofmeyr meen miljoene ouers wêreldwyd stem saam met hom.

“Moenie ons kinders groom vir jul grille nie. Totsiens, Disney,” sluit hy die plasing af.

Sedert Hofmeyr se plasing het lede uit die LGBTQ+-gemeenskap teen hom uitgevaar.

Louw Breytenbach, ’n menseregte-aktivis en voormalige Mnr. Gay Wêreld, sê Hofmeyr se stellings is skokkend en onverantwoordelik.

“Die grootste bekommernis is die disinformasie wat hy gee en hy het die video op Transgender Day of Visibility (31 Maart) gedeel het.”

Breytenbach is bekommerd dat Hofmeyr se uitlatings tot verdere haat teenoor die LGBTQ+-gemeenskap kan bydra.

“Hy het die video verwyder, maar die skade is gedoen. Hy het dit ook opgevolg met ’n plasing wat sy uitlatings regverdig. As hy dalk die besluit geneem het om homself te gaan opvoed en om verskoning te vra, kon ’n mens dalk gesê het dat almal foute maak.”

Breytenbach het gesê kinders wat lid van die LGBTQ+- gemeenskap is, is reeds onder geweldige druk en van hulle neem hul eie lewe.

Hofmeyr is tans op toer in Namibië en ’n LGBTQ+-organisasie in die land, Out and Proud Namibia, se voorsitter, Chris se Villiers, sê hulle is ontstoke oor sy kommentaar.

“Ons het vandag vergader en ons almal veroordeel sy uitlatings ten sterkste. Dit is na ons mening baie roekeloos.”

Volgens De Villiers beoog hulle om ’n klag by die Menseregtekommissie in te dien.

De Villiers het Hofmeyr aangeraai om homself met kundige navorsing op te voed. Hofmeyr kon nog nie vir kommentaar bereik word nie. Volgens sy seun Armand is sy pa op toer en twyfel hy of hy bereikbaar is.

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui