Kommer oor dwaalleer by Tukkies neem toe

*******

Kommer oor dwaalleer by Tukkies neem toe | Volksblad

20 Oktober 2005

NADAT ‘n groep studente onder leiding van mnr Ferdie Mulder hul besorgdheid uitgespreek het oor dwaalleringe wat aan die kweek- skool vir NG predikante aan studente by Tuks oorgedra word, het die kommer daaror verder uitgebrei. Die Oos- Transvaalse sinode van die kerk wat aanstaande week plaasvind, het ‘n besprekingspunt daaroor op die agenda.

Tans word tugstappe teen mnr Mulder geneem omdat hy dit durf waag het om die leer wat deur dosente aan studente oorgedra word, te bevraagteken. Die dosente voel in hul eer aangetas, en daar is oorgegaan om mnr Mulder as teologiese student te skors.

Nou het voornemende deelnemers aan die Oos-Transvaalse sinode van die NG Kerk te kenne gegee dat hulle mnr Mulder se bedenkinge deel. As gronde vir hul kommer word aangehaal uit tydskrifartikels wat deur teologiese professore geskryf is waarin basiese Skrifwaarhede onder verdenking geplaas word. Dr Johann Ernst, moderator van die kerk in Oos-Transvaal erken dat die probleem veel groter is as wat tot dusver toegegee is. Daarom het die kuratorium van die kerk besluit om die saak op die agenda te plaas sodat dit in diepte bespreek kan word. Hy het dit ook benadruk dat indien daar kritiek op sekere teoloë aan die kerk se kweekskool bestaan, dit deeglik begrond en bewys moet word.

Die uitvloeisel daarvan kan wees dat, as dit gegrond bevind word, die NG Kerk daartoe kan oorgaan om sy verbintenis met die kweekskool aan die universiteit te beëindig, en sy eie maatreëls te tref vir die opleiding van teologiese studente.

Vroeër was daar reeds ‘n suggestie van dr Jan Grey dat predikante van die NG Kerk selfs in Amerika opgelei kan word omdat die leer wat aan NG Kerk se teologiese skole verkondig word, nie meer suiwer is nie.

Mnr Mulder, wat tugstappe in die gesig staar oor sy status confessionis wat hy aan die kerk voorgelê het, is deur die kuratorium daarvan beskuldig dat hy ‘n aantal professore in hul eer gekrenk het toe hy hulle van dwaalleer beskuldig het. Hulle beskou dit selfs as laster wat teen hulle gepleeg is.

Mnr Mulder geniet egter wye steun vir sy standpunte. Tans word daar in die sekulêre pers deur verskeie teoloë van die NG Kerk hoogs aanvegbare en omstrede standpunte gestel wat lynreg bots, nie net met die belydenisgrondslag van die NG Kerk nie, maar ook met basiese Skrifwaarhede. Hierdie debat het al tot die bedanking van prof Sakkie Spangenberg uit die NG Kerk gelei, en vind hoofsaaklik neerslag in die Nuwe Hervorming. Selfs sake soos die goddelike karakter van Christus, sy maagdelike geboorte en sy opstanding uit die dood word in twyfel getrek. Die NG Kerk het nie tugstappe teen ondersteuners van hierdie beweging geneem nie, maar nou word mnr Mulder met tugstappe gekonfronteer omdat hy die saak in die openbaar aanhangig gemaak het.

Indien hy skuldig bevind word, sal hy nie toegelaat word om sy kursus aan die teologiese skool van UP voort te sit nie. Maar diegene wat basiese grondwaarhede van die Skrif in twyfel trek, word toegelaat om dit straffeloos voort te sit.

Net voor sy verhoor sou begin, het mnr Mulder self ‘n klag by die kuratorium van die NG Kerk ingedien omdat daar nie aandag gegee is aan die klagtes wat hy en ‘n aantal studente in hul vlugskrif te berde gebring het nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui