Kobus Gerber onthou vir sy leiding, rol by ekumene

In liberale kringe sal Kobus Gerber onthou word dat hy gehelp het om “die NG Kerk nuut te laat dink oor verskeie belangrike sake”. Hy sal egter ook onthou word dat hy, saam met Ben du Toit, as parlementêre verteenwoordigers van die NG kerk, die SA parlement aangemoedig het om voort te gaan om homoseksuele huwelike te wettig (kyk NGK vra SA parlement dat homoseksuele huwelike gewettig word (Okt 2006)).

*********

Kobus Gerber onthou vir sy leiding, rol by ekumene | Kerkbode

6 Augustus 2020, Jacobie M Helena

“Hy het die NG Kerk weer vastrapplek in die ekumene gegee.”

Só onthou dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die Algemene Sinode, sy voorganger dr Kobus Gerber wat vanoggend na ’n kort siekbed oorlede is.

Gerber (69), die eerste algemene sekretaris van die Algemene Sinode van die NG Kerk en voormalige moderator van die Noordelike Sinode, word onder andere onthou vir sy leierskap wat daartoe gelei het dat die NG Kerk in 2016 as lid van die Wêreldraad van Kerke kon terugkeer. Hy het ook tot onlangs as lid van die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke gedien.

Ds Paul Grobler, direkteur van die Noordelike Sinode, vertel dat Gerber ’n operasie vir ’n hartstent ontvang het, maar weens komplikasies van ’n bloedklont is hy teruggeneem na die teater. Nadat hy ontslaan is, het hy gister ’n massiewe hartaanval gehad en is hy Donderdagoggend in die hospitaal oorlede.

’n Geskokte dr André Bartlett, moderator van die Hoëveld Sinode, onthou Gerber as ’n jarelange gewaardeerde vriend en geesgenoot. Bartlett brei uit: “Ek kon met groot vrymoedigheid na hom vir raad en leiding gaan. Hy het ’n reusebydrae gelewer om die NG Kerk nuut te laat dink oor verskeie belangrike sake en het die kerk ook uitmuntend in die ekumeniese wêreld verteenwoordig,” sê Bartlett.

Gerber word deur sy vrou Marti en dogter Cari oorleef.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui