Kerkskeuring is nie perdekoop

Kyk kommentaar onderaan.

*******

Kerkskeuring is nie perdekoop | Netwerk24

Leopold Scholtz

09 Oktober 2019

Ek maak dikwels dié grappie: Tot in die 1850’s was hier één gereformeerde kerk in Suid-Afrika, die NG Kerk. Toe kom hier twee Nederlandse predikante aan, di. Dirk van der Hoff en Dirk Postma, en toe het ons drié gereformeerde kerke – die NGK, die Doppers en die Hervormdes.

Dit hang saam met ’n ander grappie van my: Sit drie Nederlanders bymekaar in ’n kamer, en binne ’n uur het jy vier politieke partye en vyf kerke.

Dié grappies is ’n lugtige manier om ’n ernstige saak te benader, naamlik kerkskeuring. Vir die soveelste keer dreig sommige gemeentes om die NGK te verlaat oor die gelyke behandeling van gay mense en die erkenning van huwelike tussen gay mense.

Kerkskeuring is nie perdekoop nie. Dis ’n buitengewoon ernstige saak wat liefs nooit moet gebeur nie.

Hier in Nederland, waar ek agter die liefde aan woon en ook ouderling in die Protestantse Kerk (die NGK se susterskerk) is, het ek die laaste jare albei neigings gesien: Die liefdeloosheid waarmee oordrewe ortodoksie gepaard kan gaan, en die bereidheid om diegene wat anders dink, struktureel te akkommodeer sodat ’n verdere kerkskeuring voorkom kan word.

Die Protestantse Kerk (PKN) is ’n samesmelting van die Gereformeerde, Hervormde en Lutherse Kerk, genoodsaak deur die vermindering en vergrysing van die lidmate, maar ook deur die besef dat die onderlinge verskille meer kultureel as werklik teologies is.

Die proses het nie vanself gebeur nie; dit was soms pynlik, het ek in my eie omgewing gemerk. Mense was geheg aan hul eie kerk, aan hul eie manier van dinge doen, aan hul vertroude kerkgebou. Baie moes dit prysgee, maar hulle het op hul tande gebyt en dit gedoen. En uiteindelik kan gesê word dat die samesmelting, breedweg gestel, ’n sukses was.

Die PKN is ’n breë kerk waar verskillende teologiese rigtings gehuisves word. Jy het die gemeentes van die ultra-ortodokse Gereformeerde Bond enersyds, dié van die Vereniging van Vrysinnige Protestante andersyds, asook die (meerderheid) gematig-ortodokse gemeentes.

Ek was ’n jaar of drie my (gematig­ortodokse) gemeente se afgevaardigde na die klassis Delft. In die vergaderings het dit my opgeval hoe die vleuels van die kerk moeite doen om mekaar te akkommodeer, nie alleen op teologiese vlak nie, maar ook organisatories.

Dis nie dat hulle die verskille ontken nie; dis bloot ’n houding dat die gemeenskaplike geloof wat hulle bind, oneindig sterker is as dít wat hulle skei.

Dit vind ook sy neerslag op die kwessie van gay mense. Nie almal in die kerk dink dieselfde daaroor nie, maar daar is geen sprake van ’n kerkskeuring nie. Trouens, in goeie gereformeerde tradisie word dit aan die kerkrade oorgelaat om self oor die saak te besluit. In Schipluiden, die dorpie buite Delft waar ek na die kerk gaan, was die besluit om gays presies dieselfde as heteroseksueles te behandel.

Mense dink nou eenmaal nie dieselfde oor sake nie – oor die politiek, die ekonomie, hul musieksmaak verskil, en hul religieuse oortuigings is anders. Jy kan dit betreur, maar dis nou eenmaal ’n feit waarmee jy vrede moet maak.

Die vraag is: Moet dit tot kerkskeuring lei? Ja, die verskille tussen Protestante en Rooms-Katolieke is helaas groot genoeg om aparte kerkgenootskappe te regverdig. Maar is die verskille oor seksualiteit in die NGK dan só groot dat dit die gemeenskaplike geloof in Christus oorskadu?

Is dit dan óns kerk? Of is dit God se kerk? En as laasgenoemde die geval is, geld Romeine 13:10 (“Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet”) mos. Nie waar nie?

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.

Kommentaar

Leopold Scholtz het begrip daarvoor dat die teologiese verskille tussen die Rooms-Katolieke kerk en die protestante groot genoeg is om skeuring te regverdig, maar nie verskillende sieninge oor seksualiteit nie. Hy glo dat daar ruimte gelaat moet word vir mekaar oor verskillende sieninge oor homoseksualiteit. As jy egter nie glo dat homoseksualiteit sonde is nie dan sal dit jou standpunt wees. As jy egter wel glo wat die Bybel baie duidelik verkondig (kyk Die Bybel oor homoseksualiteit) dan kan jy nie anders as om te skeur nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui