‘NG Kerk kan skeur’

Hierdie artikel is waarskynlik ‘n nadraai van die 2004 Algemene Sinode.

*******

‘NG Kerk kan skeur’ | Rapport

Rapport, 15 Mei 2005

Marlene Malan

‘Behoudendes’ omgekrap oor ‘liberaliste’

Kommer heers aan ’n wye front oor ’n moontlike skeuring in die NG Kerk.

Kerkleiers en predikante erken daar is ’n groeiende kloof tussen twee groeperings in die kerk met onversoenbare standpunte oor Skrifbeskouing, die gesag van die Bybel en die definisie van gereformeerdheid. Daar word gepraat van ’n konflik tussen “behoudendes” en “liberaliste”.

“Daar is sterk verskille in die NG Kerk. As ons nie nóú ’n gesprek op die tafel kry nie, kan ons skeur,” sê dr. Johan Marais van die NG kerk Middelburg-Kanonkop in Mpumalanga. Hy is een van talle predikante en kerkleiers met wie Rapport die afgelope week gepraat het oor die woelinge in die kerk.

Dr. Gerhard Mahne van die NG gemeente Onder-Molopo in Noordwes het gesê: “Menseregte is in die plek van die Woord gestel. Menseregte het absoluut geword; die Bybel relatief. En dit het veroorsaak dat die NG Kerk eintlik reeds geskeur het.”

Die sogenaamde afmaak van die Belydenisskrifte as “ou meubels” veroorsaak dat die NG Kerk in groot mate sy gesag verloor het, lidmate by die dosyne verloor en nie kans sien om ’n standpunt oor bepaalde kernkwessies in te neem nie. “Die NG Kerk het ‘n kerk sonder grense geword,” volgens Marais.

Dr. Coenie Burger, moderator van die vorige algemene sinode, het aan Rapport gesê hy is bewus daarvan dat daar van kerkskeuring in die NG Kerk gepraat word. Hy glo egter nie ‘n skeuring is op hande nie.

“Daar is onmin tussen twee ekstreme groepe,” sê Burger. “In die groter middelgroep van die kerk is daar nie tweespalt nie.”

Mahne sê die wrywing word veroorsaak deur die “liberaliste, die stert wat die hond swaai.

“Dis jammer dat die kragtiger stem van die meerderheid NG teoloë wat die Skrifgesag vooropstel, verswyg word. Dis ’n kloof wat al ‘in verléde jaar se sinodesitting duidelik was. Dit sal besleg moet word.”

Mahne was een van die teoloë wat hom in verlede jaar se algemene sinode skerp uitgelaat oor wat hy genoem het die NG Kerk se “onseker” houding jeens homoseksualiteit.

In verband met die ondersoek oor die leefstyl van die gay-predikant ds. Laurie Gaum van die NG kerk St. Stephen in Kaapstad het Mahne gesê net soos die Bybel ’n verbod plaas op sondes soos losbandigheid of die misbruik van drank, “plaas die Bybel ook ’n duidelike verbod op homoseksualiteit. Die kerk hoef nie onseker oor dié en ander kontensieuse kwessies te wees nie. Die Skrif praat gesaghebbend hieroor.”

Hieroor sê Marais: “Ons het vasgehaak by die homo-debat, maar dit gaan om baie meer.

“Ons sal weer moet begin praat oor ons begrip van die huwelik. Ons gaan nog lidmate verloor as ons nie ophou om dinge onder die mat te vee nie.”

Dr. Stephan Joubert, deeltydse leraar van die NG gemeente Moreletapark en redakteur van die e-kerk, beaam Mahne se uitspraak: “Die kerk is besig om weg te dwaal van die Woord. Daar is ’n gees van sekularisme wat heers, en baie teoloë deins weg van bepaalde Bybelse standpunte omdat dit ongemaklik is. Dit veroorsaak wrywing.”

Ds. Dirkie van der Spuy van die NG kerk Moreletapark sê: “Daar is duidelike waarhede in die Skrif. Die Skrif kan nie by die wêreld aanpas nie. Dalk antwoord God nou die NG Kerk hieroor deur ’n praktiese situasie (dié van Gaum) waaroor hy ’n standpunt sal moet inneem.

“Van ons voorste teoloë meen daar is geen twyfel daaroor dat homoseksualiteit sonde is nie. Maar dis ’n ongewilde standpunt. Die kerk moenie probeer gewild wees nie. Hy moet eerder getrou wees aan God se Woord.”

Mahne sê dit grief hom dat die “absolute waarhede van die Skrif so aangetas word. Alles word gerelativeer. Selfs Jesus Christus word gerelativeer en sy gesag as die enigste Verlosser van die wêreld ernstig aangetas. Die kerk is in ’n greep van relativisme gewikkel wat beteken dat daar nie meer absolute waarhede is nie.”

Volgens hom was dit in verlede jaar se sinodesitting al duidelik dat die NG Kerk uit twee groepe teoloë bestaan — die liberaliste en die behoudendes. “Die liberaliste is in die minderheid.

“In Nederland het dit ook gebeur, maar die liberale het soos water in die sand verdwyn. Ek dink dit gaan ook hier gebeur. Die kerk sit tussen twee pole, en intussen het lidmate vrese in hul hart.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui