Kerkleiers kan tronk toe oor ‘haatmisdade’

Kyk ook:

Kerkleiers kan tronk toe oor ‘haatmisdade’

5 Februarie 2017

Rapport

Elaine Swanepoel

Kerkleiers se vrees dat hulle tronk toe sal gaan as hulle teen aborsie, prostitusie of homoseksualiteit preek as die konsepwet op die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade deurgevoer word, is nie ongegrond nie, sê regskenners.

Oortreders kan tot tien jaar tronkstraf kry.

Prof. Victoria Bronstein, professor in die regte aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê haatspraak word in die konsepwet te breed gedefinieer. “Daarom kan dit wel daartoe lei dat kerkleiers aan die verkeerde kant van die gereg beland.”

Maar prof. Anton Kok, adjunkdekaan van die regsfakulteit van die Universiteit van Pretoria, reken die wet sal in sy finale vorm waarskynlik nie so ’n breë definisie hê nie.

“Maar sou die wet aanvaar word met die huidige bewoording sal ’n dominee wat van die kansel af verkondig dat homoseksuele mense God se liefde nie waardig is nie aan haatspraak skuldig bevind kon word.”

Hy meen so ’n toepassing van die wet sal deur die konstitusionele hof ongrondwetlik bevind kan word.

Die sperdatum vir voorleggings van die publiek was Dinsdag.

“Omdat die definisie van haatspraak so wyd is, sal dit godsdiensleiers heeltemal muilband,” sê Michael Swain, hoof van die drukgroep Freedom of Religion South Africa.

“As ’n dominee byvoorbeeld preek dat ’n vrou onderdanig moet wees aan haar man, kan dit gesien word as haatspraak teenoor ’n bepaalde geslag,” sê Swain.

Hy sê die toets vir haatspraak is ook heeltemal te subjektief en gegrond op hoe die slagoffer dit opneem of verstaan.

Haatspraak en diskriminasie op grond van ras, geslag en geloof word reeds deur die Grondwet en die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie verbied.

Tobie Meyer, ’n pastoor van die LIGpunt-gemeente in Pretoria, sê predikante sal nie hul werk behoorlik kan doen as die wet in sy huidige vorm aanvaar word nie.

“God sê daar is reg en verkeerd. Ons sal nie sy werk behoorlik doen as ons dít nie kan sê nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui