Jesus ’n vriend van tollenaars en sondaars – en gays?

Kyk ook:

Deur Jan Louw

Jesus se kritici het neerhalend van Hom gepraat as ’n vriend van tollenaars en sondaars. Dit was kwaadwillig bedoel, maar dit was ook tog ’n feit dat die tollenaars en sondaars in Jesus ’n vriend gevind het.

As dit dan so is, moet ons, onsself afvra: en wat dan van die gays in ons tyd? Sou Jesus nie ook vir homoseksueles vandag ’n Vriend gewees het nie? Is die Christene wat afwysend staan teenoor die volle opname van gays in die kerk nie dalk regtig liefdeloos, soos hulle vanuit baie oorde verwyt word nie?

Kom ons kyk ’n bietjie dieper na die situasie.

1. Die Tollenaars

Dit is redelik duidelik wie die tollenaars was. Hulle was Jode wat deur die Romeine gewerf is om vir hulle belasting in te samel. Die tollenaars het uit die aard van hulle beroep meegewerk aan die instandhouding van die Romeinse Ryk en per implikasie aan die oorheersing van die Romeine oor die Jode. Die Jode het gevoel dat die tollenaars hulle by die vyand skaar en het hulle verag. Wat die situasie vererger het is dat die tollenaars in die posisie was om hulleself te verryk deur meer tol te vra as wat voorgeskryf was. Hulle het waarskynlik ook magte gehad om hulle volksgenote wat nie tol wou betaal of kon betaal nie aan die Romeinse owerhede te oorhandig. Saggeus het bely dat hy mense afgepers het. Mammon het sekerlik ’n groot rol gespeel in die lewens van die tollenaars en dit het bygedra daartoe dat hulle deur hulle eie mense gehaat was.

Die insident in Mat 22 waar ons lees dat die Fariseërs en die Herodiane saamgespan het en Jesus gevra het of dit reg is om aan die keiser belasting te betaal is ’n bevestiging van hoe sensitief die situasie onder die Jode was. Dit was as ’n strikvraag bedoel. As Jesus sou “Ja” sê (maw dat die Jode belasting aan die Romeine moes betaal) was dit ’n bevestiging dat Hy ’n “vriend van die tollenaars” was. Jesus sou so vir Hom nog meer vyande maak by die Fariseërs en die hele Joodse “establishment”. As hy “Nee” sou sê (maw dat die Jode nie belasting moes betaal aan die Romeine nie) het dit vir Jesus nog meer gevaar ingehou. Die Herodiane kon Jesus dan as ’n politieke opstandeling by die Romeinse owerhede aankla. Jesus het hulle geantwoord: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort en aan God wat aan God behoort”. Daarmee moes die Fariseërs en die Herodiane onverrigter sake uiteen gaan.

Die tollenaars het voortdurend tussen twee wêrelde, twee lojaliteite gelewe. Hulle was Jode, maar dislojale, ja veragte Jode. Hulle dilemma het verder uitgekring omdat hulle uit die aard van hulle werk voordurend met die Romeine omgang gehad het. Dit het meegebring dat hulle volgens die Joodse wette onrein geraak het en hulle ongeskik geraak het om hulle godsdiens as Jode te kon uitleef. Dink maar aan die feit dat die Jode nie in Pilatus se paleis wou ingaan nie, omdat dit hulle onrein kon maak vir die Paasfees (Joh 18:28).

Dit beteken nie dat die tollenaars noodwendig almal onverskillig gestaan het teenoor die godsdiens nie. Dink maar aan Matteus wat ’n dissipel van Jesus geword het (Mat 9:9; Mark 2:14). Dan lees ons verder dat daar baie ander tollenaars ook was wat Jesus gevolg het. Dit is ’n bevestiging dat baie tollenaars begeer het om met God versoend te lewe. Hulle werk het hulle egter volgens die beskouing van die Jodendom van daardie tyd buite die koninkryk van God geplaas. Dit was die pyn waarmee hulle moes saamleef.

Jesus het egter ’n boodskap oor die Koninkryk van God gebring wat vir die tollenaars hoop gebring het en daarom het hulle graag na Hom geluister.

alt

2. Die sondaars

Die sondaars van daardie tyd was waarskynlik mense wat veroordeeld gestaan het omdat hulle nie volgens al die voorskrifte van die Joodse wetgewing geleef het nie. Die wette was so omvattend dat dit beslag gelê het op mense se totale menswees. Baie Jode het waarskynlik handdoek ingegooi en nie eens meer probeer om te doen wat die Fariseërs van hulle verwag het nie. Hulle was nog Jode, maar hulle is as “sondaars” geklassifiseer. Dit is teen dié agtergrond dat ons die uitnodiging van Jesus moet verstaan: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee… My juk is sag en my las is lig.Mat 11:28

Die Jode het mense maklik beskuldig van sonde. Dink maar aan die geskiedenis van die blinde man wat Jesus gesond gemaak het. Die Jode het Jesus tot ’n sondaar verklaar en vir die blinde gesê dat hy van geboorte af die ene sonde is en hulle het hom uit die sinagoge geban (Joh 9:34).

Die ergste vorm van ’n sondige lewenswyse was sekerlik die prostitute. Hulle was gebrandmerk as sondaresse. Dink maar aan die sondares wat Jesus se voete met haar trane gewas het. Die Fariseër by wie Jesus geëet het, het gesê as Jesus ’n profeet was sou Hy geweet het dat sy ’n sondares was (Luk 7:39).

3. Nie ligsinniges nie

Dit is belangrik om by te sê dat die tollenaars en sondaars nie met die goddeloses en ligsinniges verwar moet word waarteen Ps 1:1 waarsku nie:

Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie.

Daar is sulke mense ook in die wêreld. Dit is mense wat geen respek vir God of vir sy Woord het nie. Dit is die mense van wie Jesus gepraat het toe Hy gesê het: Moenie jou pêrels voor die varke gooi nie (Mat 7:6). Hulle was uiteraard nie deel van Jesus se vriendekring nie.

4. Die Gays?

As ons hier praat van gays, dan gaan dit nie oor mense met ’n gay oriëntasie nie. Miskien het Jesus in Mat 19:12 van sulke mense gepraat toe Hy gesê het: Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is. Dit is vanselfsprekend dat sulke mense met hulle andersheid in die geselskap van Jesus welkom was en verwelkom is.

Die gays waarvan ons hier praat is mense wat hulleself openlik in selfdegeslag seksuele verhoudinge begewe en so uiting gee aan hulle seksuele behoeftes. Dit is oor hulle gedrag en hulle verhoudinge in die samelewing dat mense as “gay” bekend staan en nie oor hulle verborge seksuele oriëntasies nie. Ons ken hulle aan hulle optrede onder die mense en hulle is nie noodwendig skaam daaroor nie.

Daar is ook gays wat daarop aanspraak maak dat hulle, hulle seksuele uitlewing met hulle geloof in Christus kan versoen. Op Glodiebybel is daar ’n artikel oor ’n kerkbasaar by Skuilkrans NG gemeente saam met die Reformerende kerk, wat ’n gaykerk is (kyk Geloof, hoop, liefde en pannekoek, Skat). Die joernalis wat die artikel geskryf het gee vir ons ’n prentjie van hoe gays wat hulleself Christene noem onder mekaar optree en met mekaar praat.

Sou Jesus Hom tuis gevoel het in daardie geselskap? Die beeld wat ons daar kry is een van wêreldsheid en ligsinnigheid. Is dit die tollenaars en die sondaars van die samelewing met wie Jesus Homself sou bevriend? Verwag die Here Jesus van sy kerk om sulke gedrag as normaal te ag en in sy binneste op te neem?

Ons kan antwoorde kry op ons vrae deur te kyk na ’n paar tekste wat vir ons leer hoe Jesus wil hê dat ons sal lewe:

  • Jesus se lering oor seksuele verhoudings en seksuele gedrag:

Mat 5:28 Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. 29 As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. 30 Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.8 En as jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; dit is vir jou beter om in die lewe in te gaan, kreupel of vermink, as om twee hande of voete te hê en in die ewige vuur gewerp te word.

Dit is uit hierdie gedeelte duidelik dat daar by die Here seksuele wangedrag is en dat Hy dit in ’n baie ernstige lig beskou. Die sondige begeertes wat uit ’n mens se hart uit kom moet ten alle koste in toom gehou word. Mense wat hulleself oorgee aan seksuele wangedrag is strafbaar met die hel. Jesus herhaal dit driemaal in die gedeelte.

  • Jesus lê klem op bekering

Jesus se prediking het net soos by Johannes die Doper begin het met die woorde: “Bekeer julle!” (Mat 4:16).

In die gedeelte waar die Fariseërs ’n vrou na Jesus bring wat op owerspel betrap is, betoon Hy aan haar genade, maar Hy voeg by: “moet van nou af nie meer sonde doen nie” (Joh 8:11).

Lukas vertel van die sondares wat by Jesus se voete gehuil het. Sy het gehuil van dankbaarheid omdat God haar sondes vergewe het (Luk 7:48). Sy sou nooit na haar ou sondige lewe wou terugkeer nie.

Toe Jesus in Saggeus se huis ingegaan het, het Saggeus hom bekeer van sy sondige lewe van die verlede. Hy het hom voorgeneem om reg te maak wat hy verkeerd gedoen het (Luk 19:8).

  • Jesus lê klem op die geldigheid van die wet

Jesus het gesê dat Hy nie gekom het om die wet ongedaan te maak nie, maar om dit te vervul (Mat 5:17). Dit is treffend dat Jesus net daarna byvoeg: “Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.”

  • Jesus lê klem op ’n nougesette lewe

Mat 7:13 Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. 14 Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.

  • Jesus lê klem daarop dat sy volgelinge ter wille van Hom bereid moet wees om opofferinge te maak.

Mat 16:24 Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg,

5. Samevatting

Jesus stel ’n voorwaarde vir sy vriendskap: Joh 15:14: Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.

Alles in ag genome is dit onaanvaar en selfs verregaande om voor te gee dat Jesus mense se homoseksuele verhoudings sou goedkeur, net omdat Hy as ’n Vriend van tollenaars en sondaars bekend gestaan het.

2 thoughts on “Jesus ’n vriend van tollenaars en sondaars – en gays?”

  1. Dankie- ek sien dit ook so. Wyses en verstandiges, slim en geleerde mense, moet hulle nie slim hou nie – hulle moet net gehoorsaam wees ,m.a.w. “—gewillig om die wil van God te doen”

  2. Dis jammer dat daar steeds mense is wat gays oordeel. Hulle beweer hulle gaan hel toe en gaan brand.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui