Selfdegeslagsverhoudings – ’n Bybelse perspektief

Kyk ook:

Die Bybel het 5 gedeeltes waar daar pertinent oor die beoefening van homoseksuele dade gepraat word.

OU TESTAMENT

  1. Levitikus 18:22 “Jy mag nie ‘n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde.”
  2. Levitikus 20:13 “Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.”

NUWE TESTAMENT

  1. Romeine 1:26 en 27 “Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ’n teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit.”
  2. 1 Korintiërs 6:9-11 “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”
  3. 1 Timoteus 1:8-11 “Ons weet dat die wet goed is as mens dit op die regte manier gebruik. ’n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir die mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars, ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is. Die gesonde leer is in ooreenstemming met die evangelie van die heerlikheid van die goeie God.”

Die Bybel is duidelik daaroor dat die Here die beoefening van homoseksuele dade ten strengste verbied. Waar Israel as Ou Testamentiese volk van God onder heidense nasies inbeweeg het wat wel homoseksuele dade in hul midde toegelaat het, het die Here dit nie toegelaat onder Sy volk nie. Dis ook die geval in die Nuwe Testamentiese kerk, hier word geensins ruimte gelaat vir homoseksuele dade nie.

Die laaste sowat 40 jaar het daar nou ’n menigte stemme begin opgaan wat sê dat ons het hierdie Skrifgedeeltes nog altyd verkeerd verstaan het. Daarvolgens is die Here nie gekant teen die beoefening van homoseksuele dade binne ’n vaste verhouding tussen twee homoseksueel-georiënteerde persone nie. Die Here wys in hierdie gedeeltes net promiskue homoseksuele verhoudinge af. Nou is dit die waarheid of is dit valsheid? Is dit God se Gees wat ons hier lei in die waarheid of is dit die Bose se leuengees wat hier aan die woord kom? Kom ons gaan kyk na ’n klompie van die talle nuwe argumente en eksegetiese voorstelle wat gemaak word rondom die verstaan van hierdie Skrifgedeeltes.

GENESIS 2 en 3

Voor ons na die eksegese/Bybeluitleg van die 5 Skrifgedeeltes kyk, kyk ons eers net na Genesis 2 en 3. Hier kry ons God se skeppingsopdrag en natuurlike orde vir die plek van seksualiteit by die mens. Die voorstaanders van homoseksuele verhoudinge sê dat Genesis 1:28 “nie ’n opdrag tot voortplanting en vermeerdering is nie, maar die toesegging van ’n seën aan die mensdom.” By Genesis 2:18-25 is die verklaring “Kameraadskap en wedersydse aangetrokkenheid is moontlik, nie omdat hulle van mekaar verskil nie, maar omdat hulle deel het aan ’n gemeenskaplike menswees.” Sal ons eerlik kan sê dat dit die bedoeling van God is in hierdie gedeeltes? Word hier ten diepste oor man/vrou verhoudinge, die huwelik en die vermeerdering van die mensdom gepraat? Of word daar net van mense – ongeag hulle geslag – se intieme vervullende verhoudinge gepraat?

In Genesis 1-3 word die heteroseksuele man-vrou verhouding as die archetipiese, God-gewilde, model geteken. Hier word geen ruimte gelaat vir ’n seksuele verhouding tussen persone van dieselfde geslag nie. John Collins, professor in Ou Testament by Yale Divinity School kom tot die gevolgtrekking oor Genesis 2:23 “The text does not so much as acknowledge the possibility of same-sex relationships, let alone endorse them… there can be no doubt that, for better or worse, the story affirms normative heterosexuality.”

LEVITIKUS 18:22 en 20:13

Die nuwe argument wat hier gebruik word om te beweer dat homoseksuele dade in ’n vaste verhouding nie verkeerd is nie, is deur te sê dat hier in Levitikus word net homoseksuele dade afgewys wat deel gevorm het van kultiese tempelprostitusie. Die eenvoudige vraag sou dan dadelik wees, hoekom word heteroseksuele geslagsdade dan nie ook hier aangespreek nie? Levitikus 18:20 lui “Jy mag nie met jou naaste se vrou gemeenskap hê …nie”. Dit het niks met ’n moontlike tempelprostitusie te make nie. Die waarheid is dit gaan nie hier oor tempelprostitusie nie.

Die omstandighede hier was dat Israel juis die Kanaäniete se land kon inneem omdat hulle die land met hulle sondige praktyke ontheilig het. Die Here waarsku sy volk om dan nie deel te hê aan die heidennasies se sondige leefstyl nie. Dit staan immers duidelik aan die begin van Levitikus 18! Ons lees in vers 3 “Julle mag nie maak soos die Egiptenaars by wie julle gewoon het, of soos die Kanaäniete na wie se land toe Ek julle bring nie. Julle mag hulle gebruike nie navolg nie.” Soos ’n refrein kom die Here se woorde in Levitikus 19 en 20 na vore: “Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.” (Levitikus 19:2, 20:7 en :26) In die Nuwe Testament kry ons die herhaling van die oproep tot ’n heilige lewe (1 Petrus 1:15-16). Die etiese riglyne word hier in Levitikus saam met reinheidsriglyne aangetref. Tog het die etiese riglyne ’n permanente geldigheid vir God se kinders.

Nog ’n verklaring wat aangebied word, is dat ons hier verwysings het na insidentele homoseksuele dade wat ’n negatiewe effek kan hê op onderlinge verhoudinge tussen lede van die uitgebreide familie. (Mens se mond kan waarlik oophang vir die kreatiewe soeke na alternatiewe verklarings.)

Baie persone wil hierdie afwysing van homoseksuele dade plaas in die raam van mans wat hul superioriteit wil bevestig. Die feit is dat Levitikus 20:13 die aktiewe deelnemer sowel as die passiewe deelnemer veroordeel. Homoseksuele dade is in geheel glad nie toegelaat nie.

Die argument dat ons hier met pederastie – ouer mans wat jong seuns seksueel misbruik – te make het, moet ook afgewys word. Die term wat hier vir ‘man’ gebruik word, is bloot ’n aanduiding van ’n persoon uit die manlike geslag. Enige vorm van homoseksuele verkeer word dus hier afgewys.

ROMEINE 1:26-27

Die voorstaanders van selfdegeslag verhoudinge wil die Nuwe Testamentiese afwysing van homoseksuele dade ook nuut/anders interpreteer om dit toelaatbaar te maak. Daar word o.a. gesê dat Paulus dit hier het oor heidene wat hulle in elke opsig oorgee aan sonde, en dat dit dus net promiskue homoseksuele verhoudinge is wat hier afgewys word. Paulus kom egter uit die Joodse skool waar die beoefening van homoseksualiteit ’n totale taboe was. Die pro-selfdegeslag skrywer Nissinen erken dit “In line with Jewish teaching, Paul labeled homoerotic behavior as a whole as debauchery…” Paulus wys ook nie net homoseksuele dade af omdat dit as ’n daad van opstand teen God gesien word nie. Net soos ‘moord’ en ‘bedrog’ teen God se wil is, so is homoseksuele dade op sigself verkeerd.

Wanneer Paulus hier meld dat homoseksuele verhoudinge “teennatuurlik” is, word dit verklaar as dat hy net bedoel dit wat destyds volgens die kultuur van die dag “teen-natuurlik” was. Dis wel waar dat Paulus die woord “natuur”(fusis) in 1 Korintiërs 11 gebruik in die sin van “die algemene opvatting van die dag”. Hier in Romeine 1 gebruik hy die term duidelik anders. In vers 20 praat Paulus van “skepping”en God se “werke”; in vers 23 van die geskape voëls, diere en slange; in vers 25 van die kontras skepsel/Skepper. Terwyl Paulus dus hier besig is om te praat oor die wyse waarop God ons as mans en vrouens geskep het, wys hy daarop dat die mens God se “natuurlike” wil met seksualiteit omgekeer het in die teen-natuurlike. Hierdie verstaan van Genesis 2 as die norm vir hoe God ons geskape het, word deur die Bybel bevestig in Maleagi 2:15, Jesus se woorde in Matteus 19:5 en Markus 10:7, asook deur Paulus in Efesiërs 5:31.

Nog ’n argument wat almeer gebruik word, is dat Paulus hier eintlik net die patriargale stelsel wou beskerm. Hiervolgens sou Paulus wou keer dat die aktiewe persoon by ’n homoseksuele daad die passiewe persoon stroop van sy manlikheid. Paulus praat egter nie oor die seksdaad tussen ’n man en ’n vrou as dat dit ’n daad van onderwerping is nie. Lees gerus Efesiërs 5:25-32. Die liefdesdaad is een van liefde,respek en intimiteit. In elk geval word Romeine 1:26 se selfdegeslag verhoudinge oor die hoof gesien – ons het hier immers met “vroue” te make. Dit maak die argument dan in elk geval ongeldig. Die feit dat Paulus hier vroue en mans se teennatuurlike seks afwys, daarby ook nog die vrouens se lesbiese gedrag eerste noem, moet tog vir enige persoon duidelik wys dat Paulus nie maar net ’n bepaalde soort homoseksuele gedrag afwys nie. Nee, dieselfde geslag seksuele verhoudinge is in die geheel daarvan onnatuurlik en buite die wil van God.

1 KORINTIËRS 6:9-11 EN 1 TIMOTEUS 1:8-11

Weereens is die argument dat Paulus niks teen selfdegeslag verhoudinge gehad het wat in liefde en trou plaasgevind het nie, sy probleem was met pederastie – daar waar ouer mans jong seuns seksueel misbruik het. Daar moet opgelet word dat die begrippe arsenokoitai (manneslapers)en malakoi (sagtes)in 1 Korintiërs 6:9 saam gebruik word, maar in 1 Timoteus 1:10 gebruik Paulus net die woord arsenokotai. Paulus wys dus homoseksuele verhoudinge af, selfs al sou daar nie “sagtes” (jongelinge/uitgebuites/verwyfdes) by betrokke wees nie. Malakoi se betekenisveld lê dan ook wyer as jongelinge. Germond (voorstaander van selfdegeslag verhoudinge) gaan ook nie saam met Scroggs in sy argument dat malakoi net na misbruikte seuns verwys nie.

Die vertaling van die Griekse woorde met “mense wat homoseksualiteit beoefen” word bevraagteken. Die Griekse woord arsenokoitai kom van arsen wat “manlik” beteken en koité wat “bed” of “slaap” beteken. Die betekenis is dus “mans wat bymekaar slaap” – m.a.w. mans wat homoseks beoefen. Boswell wil die woord vertaal met “mans wat rondslaap”, bedoelende mans wat losbandig leef. Die tweede woord wat hier gebruik word is malakoi, oftewel “sagtes”. Dit word verstaan as die mans wat die passiewe rol in homoseksuele dade vervul. In 1Korintiërs 6:9 kan malakoi oute arsenokoitai nie die betekenis hê van “mans wat rondslaap” nie. Eerstens omdat Paulus buitendien die “onsedelikes” (pornoi) afsonderlik noem en dit nie weer sou herhaal nie. Tweedens omdat Paulus as Griekssprekende Jood met die LXX – die Griekse vertaling van die Ou Testament – grootgeword het. Daarin het hy in Levitikus 18:22 en 20:13 die woorde arsen en koitén gelees wat na homoseksuele dade verwys het. Die woorde verwys dus wel duidelik na homoseksuele persone. Dieselfde argumente geld vir 1 Timoteus 1:10 – hier word pornoi vir “ontugtiges” gebruik en arsenokoitai vir “mense wat homoseksualiteit beoefen”.

‘n Verdere argument waarmee gepoog word om te beweer dat Paulus nie teen selfdegeslag verhoudinge was nie, is om te sê dat Paulus hier sogenaamde sondelyste aanhaal wat destyds bestaan het. M.a.w. Paulus ondersteun dus nie sondermeer alles in hierdie lyste nie. Daar is egter geen rede waarom Paulus iets sou sê as hy nie absoluut oortuig was daarvan nie.

DIE BYBEL IN SY GEHEEL

Wanneer Christene na die saak van homoseksuele verhoudinge kyk, kyk ons beslis nie net na ’n handvol verse wat direk daaroor handel nie. Ons kyk altyd na die Skrif se spreke in geheel oor ’n saak. Dwarsdeur die Skrif is die norm vir seksuele verhoudinge, die verhouding tussen ’n man en ’n vrou. Oor selfdegeslag verhoudinge word net afwysend gepraat. Die feit dat daar relatief min daaroor gepraat word, dui eerder op die klarigheid rondom die saak, as dat Bybelskrywers onseker daaroor sou wees. Neem as ’n voorbeeld die getal kere wat gelowiges in die Bybel opgeroep word om byeen te kom vir aanbidding. Dis so min omrede dit ’n uitgemaakte saak is dat Christene wel byeen sal kom.

CHRISTUS IS ONS VOORBEELD

Daar word argumente gebruik wat klink of dit waar moet wees, maar wanneer mens rustig daaroor nadink, dan slaag dit nie die toets van die Skrif nie. So word gesê Jesus is genadig en Hy het ruimte gemaak vir die randfgure van die lewe. Ja, beide van hierdie stellings is die waarheid, maar hierdie wonderlike waarhede moet nog verder gekwalifiseer word. Dit is so dat Saggeus die tollenaar, Maria Magdelena die prostituut en die owerspelige vrou van Johannes 8 – saam met die ontvangs/aanvaarding van God se liefde en vergiffenis – ook die rug moes keer op hul vroeëre lewens buite om die wil van God. Daar word ’n halwe evangelie verkondig wanneer die nuwe lewe in Christus nie ook belig word nie. Lees gerus weer Jesus se woorde in die Bergrede in Matteus 5:17-20 “Ek het nie gekom om die wet of die profete ongeldig te maak nie… As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”

LEEF MET ONSEKERHEID

Verder word ook geargumenteer dat ons moet bereid wees om in onsekerheid te leef – en daarby ook nie Bybelverse aan te haal soos die Fariseërs nie. Die interessantheid is dat die mense destyds verbaas was dat Jesus nie met onsekerheid soos die Fariseërs gepraat het nie, maar wel met gesag. Jesus het sekerheid oor God se wil in mense se lewens gebring. Daarby het Jesus ook uit die Skrif aangehaal as Hy die Fariseërs tereggewys het.

VERGELYKINGS

Daar word ook gesê dat as die kerk verkeerd kon wees rondom slawerny, die vrou in die amp en apartheid, dan kan ons mos rondom selfdegeslag verhoudinge ook ’n fout gemaak het. Die spreukwoord lei nie verniet dat ons appels nie met pere kan vergelyk nie. Elke saak moet sekerlik op sy eie meriete bespreek word. Mens moet by voorbaat weet dat so ’n argument jou nêrens gaan bring nie.

By slawerny vind ons tog nie dat daar ’n opdrag tot slawerny gegee nie. T.o.v. homoseksuele gedrag vind ons duidelike opdragte in die Ou en Nuwe Testament.

Die vrou in die amp is duidelik kultuurgebonde uitsprake.

By apartheid het die kerk probeer om die Skrif by sy sin en wil te laat aanpas – net om later om verskoning te vra daarvoor. Die laaste voorbeeld is die naaste aan ’n vergelyking met die saak onder bespreking. Die talle pogings om die Here se Woord iets te laat sê wat nie daar staan nie, sal immers net veroorsaak dat die kerk weer in die toekoms om verskoning moet vra.

DIE WETENSKAP

Die Algemene Sinode sê in sy besluit oor dieselfdegeslag verhoudinge: “In ooreenstemming met die NGB Art 2 behoort die besondere en algemene openbaring gebruik te word, dws die beste huidige menswetenskaplike bevindings.” (Dis die laaste sin van punt 8). Hierdie besluit van die Algemene Sinode is weliswaar belangrike woorde, maar in die verslag van die taakspan oor dieselfde geslag verhoudinge, word die volle waarheid van wetenskaplike bevindinge ignoreer. Die uitgangspunt van die taakspan rondom dieselfde geslag verhoudinge, is skynbaar dat mense geneties gepredisponeerd is tot hul onderskeie geslagsoriëntasie. ’n Kerkraad van Stellenbosch sê bv. in die Sinode se stukke dat homoseksuele persone se seksuele oriëntasie ’n “gawe uit die Skepper se hand” is. ’n Teoloog van Stellenbosch het ’n tyd gelede in die “Burger” geskryf dis mense se “Godgegewe identiteit”. Hierdie stellings strook nie met die waarheid nie – vir navolgers van Hom Wie die Waarheid is en gesê het jou ja moet jou ja wees en jou nee moet jou nee wees – is dit nogal baie erg!

Behalwe dat die volle waarheid rondom die fisiese wetenskaplike bevindinge deur voorstaanders van selfdegeslag verbintenisse verswyg word, word geesteswetenskaplike bevindinge nie eers genoem nie. Kom ons kyk net kortliks na die volgende wetenskaplike uitsprake :

  • Dr. Francis Collins, leier van die ‘Human Genome Project’, het na hul navorsing gesê: “An area of particular strong public interest is the genetic basis of homosexuality. Evidence from twin studies does in fact support the conclusion that heritable factors play a role in male sexuality. However, the likelihood that the identical twin of a homosexual male will also be gay is about 20 percent…”
  • Dr. Dean Hamer, wie bekend is vir sy navorsing oor ’n moontlike gay-geen, het as antwoord op die vraag of homoseksualiteit slegs ’n biologiese oorsprong het, gesê: “Absolutely not. From twin studies, we already know that half or more of the variability in sexual orientation is not inherited. Our studies try to pinpoint the genetic factors…not negate the psychosocial factors.”
  • Die ‘American Psychological Association’ gee as antwoord op die vraag wat ’n homoseksuele of biseksuele oriëntasie veroorsaak: “There is no consensus among scientists about the exact reasons that an individual develops a heterosexual, bisexual, gay or lesbian orientation… Many think that nature and nurture both play complex roles.”>

Uit die hoek van die fisiese en geesteswetenskappe kom die boodskap dat “nature and nurture” – ons gene en ons grootword omstandighede – ’n komplekse rol speel in wat ons uiteindelike geslagsgerigtheid as volwassenes sal wees. Elke individu se geslagsgerigtheid word dus deur ’n komplekse aantal faktore beïnvloed. Deels geneties, maar ook deels deur sake soos die aard van verhoudinge met vader/moeder, die geslagsidentiteit waarmee ’n kind grootword en seksuele ervaringe tydens die grootwordjare.

DIE NG KERK SE VERDERE HANTERING VAN DIESELFDEGSLAG VERHOUDINGE

Vir die kerk is die voorvereiste: om die volle waarheid te praat. Nie die helfte van die waarheid of ’n “gewensde/gemodifiseerde/polities korrekte waarheid” nie. Nuwe pogings om die Skrif anders te verklaar – selfs te wil vertaal – veroorsaak huidig groot chaos en onenigheid onder God se kinders. In Spreuke 10:10a lees ons “Wie sy oë sluit vir die waarheid, veroorsaak smart”. Dis slegs wanneer die Groot Waarheid ons onbevange na die Skrif en die wetenskap sal laat kyk, dat ons mekaar sal vind. Laat dit ons gebed wees tot Sy eer!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui