NG Kerk: Is party diere meer gelyk as ander?

*******

BRIEF | NG Kerk: Is party diere meer gelyk as ander? | Netwerk24

Pieter Prinsloo

Rapport, 15 Oktober 2023

Ds. Pieter Prinsloo, Sasolburg, skryf:

Die NG Kerk se Algemene Sinode (AS) vergader van vandag af. Tydens vorige vergaderings het die AS op hoogs omstrede wyse agteroor gebuig om ruimtes te skep vir die behoeftes van sekere groeperinge. Die vraag ontstaan: Sal die AS bereid wees om in 2023 weer eens agteroor te buig om ruimte te skep . . . hierdie keer vir die behoeftes van vervreemde gemeentes wat pleit vir ’n eie teologies-kategoriale sinode.

Die vervreemding van hierdie gemeentes word immers ál groter. Prof. Johan van Rensburg (Rapport: 8 Oktober 2023) skryf tereg dat met 2023 se agenda “ons nog ’n stappie verder geneem gaan word na ’n algehele vervreemding van die gereformeerde Skrifbeskouing”, met die gepaardgaande verdere vervreemding van hierdie NG gemeentes.

Daarom verduidelik die NGK Sasolburg-Tuinedal (dolerend) se twee beskrywingspunte in die agenda hoe die AS vervreemde gemeentes kan ondersteun in hul versugting vir saamgroepering. Die AS staan gevolglik voor ’n toets: “Is sommige diere meer gelyk as ander” as dit kom by die ruimteskepbeginsel? Vervreemde gemeentes se billike behoefte aan saamgroepering skep uiteindelik vir hulle die ruimte om as eiesoortige groep te kan besin oor hul toekoms binne die struktuur van die AS.

Die vraag ontstaan dalk: Waarom moet vervreemde gemeentes saamgroepeer word? Het individuele gemeentes dan nie reeds ruimte om in vryheid te besin oor hul toekoms binne die struktuur van die AS nie? Ongelukkig nie. Die NGK Tafelberg is ’n voorbeeld van ’n gemeente wat in ’n kerkordelike mynveld beland het met hul besluit om hulle los te maak van die struktuur van die AS.

Daarom: Mag AS 2023, soos tydens vorige vergaderings, agteroorbuig om ’n beginselbesluit te neem wat die weg baan vir vervreemde gemeentes se billike versoek vir ’n eie sinode.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui