Is grootste kwyning en skeuring in die geskiedenis vir die NG Kerk op pad?

Is grootste kwyning en skeuring in die geskiedenis vir die NG Kerk op pad?

Prof Hoffie Hofmeyr op Facebook

23 November 2022

As lojale historikus lyk dit vir my almeer dat die grootste kwyning en daarmee samehangende skeuring vir die NGK op hande is. Nog nooit het dit gebeur dat die NGK in die vier jaar vanaf 2018 volgens amptelike syfers byna 5% van sy gemeentes sien doodgaan, of dat voltydse predikantsposte met 33% gekwyn het nie. Voorheen was daar kwynings soos tydens die ABO-oorlog en in die Depressie-jare en ook skeurings soos in 1853 met die NHK, in 1859 met die GK, en in 1987 met die APK, maar nog nooit was die krisis vir die NGK so groot nie. Verskillende redes sou hiervoor gegee kan word soos sekularisasie, post-modernisme, Covid, ens. Daar is egter ook tragies genoeg bepaalde ander redes hiervoor:

1. TEOLOGIES

Die NGK het in ’n groot mate sy eeue-oue Geref karakter te midde van ander kerklike tradisies verloor, met beperkte Skrif-en belydenis-getrouheid. Vir hom is die primere skynbaar dat Skrifinterpretasie deur die konteks of die mode-en tydsgees bepaal word. ’n Goeie voorbeeld is die NGK se standpunte oor die hoogs-emosionele saak van SGV. Ek persoonlik wil nie enigsins by hd debat betrek word nie, maar dis duidelik dat die NGK op sleeptou geneem is deur hd agenda en dat hy dit erg onverstandig hanteer het met sinode-besluite, manipulasie-prosesse deur sinodegangers, en les bes ook regsprosesse. En nou sit hy met die huidige gegewe. Selfs medici begin tans in opstand kom teen die LGBTQ+ agenda en watter praktiese en etiese implikasies dit vir hulle beroep het. En die absurde daarvan is dat ook skoolkinders vroeg en laat hiermee gekonfronteer word en dat daar glo sg unisex-toilette by skole voorsien sal moet word. Waar gaan dit alles eindig mbt toilette by winkelkomplekse, vulstasies, ens, ens?

2. GEBREK AAN ORDE EN DISSIPLINE

Of die NGK dit wil weet of nie, as mensdom is ons onderworpe aan orde en dissipline. Juis ook regstelsels wereldwyd bevestig dit dat daar geen vryheid sonder verantwoordelikheid kan wees nie. Kerklike orde is grootliks besig om in die sand te verdwyn. Norm-bewustheid word afgewater, toesig oor kerklike ampsdraers soos oa teologiese dosente word vir baie lank reeds weggewens of ge-ignoreer, en waar dissipline toegepas word is dit dikwels twyfelafagtig, inkonsekwent of mikro-eties in instelling.

3. LEIERSKAP

Leierskap in die NGK beweeg hartseer genoeg op baie wankelrige grond. Daar is uit eie ervaring sprake van die ontkenning van werklikhede en ’n blindheid, ’n gebrek aan selfondersoek en ’n versoeningsgesindheid, en die moontlike manipulering van kerklike vergaderings en taakspanne. Dit is ’n tragiese ontwikkeling mbt ’n sinodokratiese benadering waar die plaaslike gemeente weinig inspraak het.

4. EENHEIDSDENKE EN SKEURING

Soos onlangs uitgewys deur iemand soos ds Dawid Kuyler vd VGKSA, is die pad van kerklike eenheid in die NGK-familie eintlik ’n baie tragiese een. Hoewel elk vd kerke in die familie elkeen eie teologiese aksente het, behoort hul inherent tog een te wees as Skrifgetroue kerke. Intussen bly die familie grootliks verskeurd. Verder neem die NGK leierskap spanninge binne die NGK self nie juis ernstig op nie, hoewel hy hom voortdurend op Joh 17 twv kerkeenheid beroep. Daar kan egter GEEN eenheid wees as dit nie eenheid in die Waarheid van die Woord en die essensie van die geloof is nie. Om vroeg en laat vir ’n soetsappige liefde, eenheid en missionale uitreike te pleit, bring ons niks nader aan werklike eenheid nie. As die NGK in 2023 gaan skeur, moet die huidige leierskap grootliks die blaam daarvoor dra want dis hy wat die eenheid in Waarheid in die gedrang bring.

5. WAT NOU?

Daar is dalk nog net beseringstyd oor voor die finale uitslag van die mees beslissende krisis ooit vir die NGK. Gaan hierdie kerk sy kosbare geskiedenis en erfporsie vir gewildheid, vir saam met dele van die wêreldkerk te loop, vir uitverkoop te wees aan (soms heidense) mode-en tydsgees-agendas, ens verkwansel. Of gaan hy VOOR sy Algemene Sinode van Oktober 2023 weer terugkom na die wesenlike vir kerkwees in die 21e eeu. Hy kan nie wag vir hierdie Sinode nie, want soos in die verlede is die kanse vir manipulasie weer daar. Intussen is die groei van Skrifgetroue kerke en lidmate oor taal-en kultuurgrense wêreldwyd maar ook in SA opvallend. Mag God vir ons in die NGK in hierdie krisisuur genade en insig gee oor die pad vorentoe!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui