Moderamen van Namibiese Sinode stel Artikel 37 uit

Kyk ook:

*******

Notule: Moderamen van die NG Kerk Namibië, 22 Nov 2022

Die Moderamen van die NG Kerk in Namibië is dankbaar vir die wyse waarop die Namibiese sinode die Matt18-pad met die “dagbestuur” van die AS die afgelope ses maande kon stap.

Die Moderamen is oortuig dat dit waarde het om die Matt18-pad end-uit te stap en die teikendatum van ses maande wat aanvanklik hiervoor begroot is te verleng tot en met die eerskomende vergadering van die AS in Oktober 2023.

Dit is die oortuiging en bly die erns van die Moderamen dat die 2019-besluit – soos dit geformuleer, ontvang en toegepas word – die NG Kerk meer kwaad as goed doen. Die Namibiese Sinode sien dit ook as prioriteit dat kerklike dissipline en aanspreeklikheid met vaste oortuiging toegepas sal word wanneer dit kom by die leer en lewe van dosente.
Die Namibiese sinode het reeds in 2016 ‘n duidelike Bybelse getuienis oor SGV geformuleer. Net so het Namibië ook ‘n duidelike getuienis oor Skrifgesag en -gebruik. As deel van die Matt18-pad besluit die Moderamen om ‘n duidelike getuienis in die vorm van ‘n gravamen en/of beskrywingspunt voor te lê by die eerskomende sitting van die AS.
Die Moderamen het verder aan sy Taakspan Regte die opdrag gegee om die band met die AS te herdefinieer. Die vraag in watter mate Artikel 37 van die Kerkorde so ‘n herdefiniering met die breër NG Kerk moontlik maak en wat die implikasies daarvan vir gemeentes en die sinode mag wees, is ook na hierdie taakspan verwys.

‘n Verdere en krities-belangrike fase word bereik wanneer Namibiese gemeentes deeglik ingelig en betrek word by die Matt18-pad by wyse van gemeentegesprekke en/of ringskonferensies onder leierskap van die moderamen.

(Soos opgeneem in die notule van die Moderamen 22-11-2022)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui