Is dit nuwe denke wat George dan so ontstig?

Kyk ook:

*******

BRIEWE | Is dit nuwe denke wat George dan so ontstig? | Rapport

28 Januarie 2024

Prof. Theo du Plessis, Danhof, skryf:

Spytig dat George Claassen in sy onvanpaste galbrakery (21.01) die integriteit van die hoog aangeskrewe Tydskrif vir Geesteswetenskappe en sommer ook die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verdag probeer maak. Volgens hom het vier artikels in die tydskrif die “ . . . hoogs gediskrediteerde ‘teorie’ van intelligente ontwerp (IO) as geldige wetenskap verkondig . . .”

’n Mens wonder of hy die artikels deeglik bestudeer het, aangesien die konsep “verkondig” allermins aan die betrokke outeurs se sobere behandeling van die jongste wetenskaplike denke omtrent die IO-kwessie toegedig kan word. En waarom sy argwaan in die media uiter en nie die betrokke tydskrif se forum (waar ’n mens op gepaste wetenskaplike wyse mag reageer) benut met ’n wetenskaplik waardige reaksie nie?

Is dit dalk omdat die kering in die wetenskap omtrent dié kwessie hom so ontstel dat hy nou die boodskappers moet probeer diskrediteer?

Komaan, George!

Prof. Ina Wolfaardt-Gräbe, redakteur:  Tydskrif vir Geesteswetenskappe , skryf:

Prof. George Claassen se skrywe “Vas in die skaduwee van die ‘allerhoogste’ ” in Weekliks (21.01) het betrekking.

Uiteraard respekteer ek sy reg op ’n eie standpunt oor temas waaroor navorsers in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe skryf. Wel vind ek dit vreemd dat hy nie gereageer het op die uitnodiging om deel te neem aan die diskoers oor “die tersaaklike kontensieuse kwessies” wat in die betrokke bydraes ondersoek word nie. Dié uitnodiging is‚ terloops, geplaas in albei uitgawes waarin die onderhawige artikels verskyn het.

Nietemin is Claassen steeds welkom om sy mening aan die Tydskrif vir Geesteswetenskappe voor te lê – dit kan geskied by wyse van óf ’n meningstuk (wat onmiddellik in die Maart-uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe geplaas sal word) óf ’n volwaardige navorsingsartikel (waardeur hy die gebruiklike eweknie-evaluering toepaslik op (inter-) nasionaal geakkrediteerde wetenskaplike tydskrifte self sal kan beproef).

Die Tydskrif vir Geesteswetenskappe is ’n onafhanklike, wetenskaplike joernaal wat ’n afsetpunt bied vir hoëvlak­navorsing, in Afrikaans. Dit is allermins ’n mondstuk vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die menings en standpunte van die outeurs is vanselfsprekend hul eie.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui