Inligting nodig sodat NGK-lidmate kan besluit

*******

Inligting nodig sodat NGK-lidmate kan besluit | Netwerk24

Dubois du Toit, Kestell

23 Junie 2022

Baie is die laaste paar jaar geskryf oor die algemene sinode van die NG Kerk (NGK) se besluit oor selfdegeslagverbintenisse van 2019 wat in ons “ruim huis” vasgeloop is.

Eintlik het die algemene sinode ’n baie groter ruim huis in gedagte, maar min mense besef hoe ruim die sinode dink.

Deur Droom Scenario 2030 van die sinode in beplanning word van ’n yslike nuwe kerklike verband gedroom as alternatief vir die huidige NGK.

Dit moet reformerend-ekumenies wees, inklusief en relevant vir hedendaagse lewenskrisisse en vloeibaar in ’n postmoderne wêreld sodat besluite, optrede en prosesse nie verhinder word deur modernistiese, patriargale hiërargieë nie. Dit sal ’n nuwe getransformeerde gemeenskap wees soos Jesus se bedoeling met Sy kerk as Sy liggaam (Johannes 17, Efesiërs 4).

Hierdie “Een Liggaam van Reformerende Geloofsgemeenskappe” kan begin met 15 geloofsgemeenskappe in Suider-Afrika wat reeds in verhouding staan met die NGK deur sen­dingywer en samewerkingsvennootskappe. Die NGK as kerkverband sal dus op hierdie manier opgeskort word.

Ek pleit dat die sinode aan alle­ NGK-lidmate die inligting en implikasies sal bekend maak op grondvlak om hulle in staat te stel om so gou moontlik oor die skok te kom en te rou oor sake soos inklusiewe taal, eiendomme en bates vir almal se welsyn, watter belydenisgrondslag (soos Belhar) gaan geld, verandering van die NGK se naam, diversiteit in liturgie en Woordverkondiging en verandering van sinodale strukture.

Wat gaan daardeur opgeoffer word?

’n Gereformeerde eksklusiewe kerk gegrond in die Woord en belydenisskrifte waar “sonde, verlossing en dankbaarheid” ons identiteit vorm, wat in ’n ruim, inklusiewe huis plek sal moet maak vir relevante etiese en dogmatiese verskille oor aborsie, genadedood, selfdegeslagverbintenisse, seksuele oriëntasie­ en -identiteit, saamwoon, die bestaan van die duiwel, eenheid, versoening en geregtigheid – almal se Skrifbeskouings sal gebalanseer moet word.

As lidmate dit solank kan verwerk, hoef dit nie afgedwing te word deur die sinode nie.

Sodoende sal elke lidmaat dan self ’n ingeligte besluit daaroor kan neem.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui