Histeriese reaksie op Retief is misplaas

*******

BRIEF| Histeriese reaksie op Retief is misplaas | Netwerk24

Sondag, 12 Junie 2022

Dr. Chris de Wit, Somerset-Wes, skryf:

Die byna histeriese reaksie wat deur Johan Retief se boek veroorsaak is, verdien indringende selfondersoek. Ná heelparty eeue is die valse leerstellings van die kerk weer eens op ’n “deur” vasgespyker deur ’n man met die moed van sy oortuiging. Só herhaal die geskiedenis hom van tyd tot tyd met kille realiteit.

Retief val niemand se geloofsoortuiging aan nie, slegs die drogleer van die institusionele kerk wat in 325 by Nicea onwrikbaar vasgelê is. Van die kerk wat Jesus tot stand gebring het, was daarna niks te bespeur nie. Konstantyn het hoof van die kerk geword en Jesus is gerieflikheidshalwe tot God verhef. Jesus self het nooit so iets self gesuggereer nie en as ’n Joodse rabbi sou dit die mees flagrante godslastering wees waaraan hy skuldig sou wees. Só het die kerk Jesus ’n tweede maal by Nicea gekruisig.

Deur gebruik te maak van ’n dogmatiese vreesfaktor sou die institusionele kerk daarna voortgaan om deur die eeue fabelagtige rykdomme te bekom en ’n gewelddadige bloedspoor nalaat teen enige opposisie. Tot vandag toe nog is die kerk niks minder as ’n enorme piramideskema nie.

Die Bybel en die kerk is tot heilighede verhef en die enigste maniere waar God gevind kan word. (Het Jesus nie gesê die koninkryk van God is ín julle nie?) Die kerk weet dat, veral die Nuwe Testament, geskryf is deur onbekende mense, op onbekende tye en plekke en vir mense en is bloot ’n vae en onbetroubare historiese bron van inligting oor Jesus as mens. Vertel al die priesters en profete dit aan gemeentes Sondae?

Geen wonder dat Thomas Jefferson (1743–1826), destyds president van Amerika en stigter van die Universiteit van Virginië, godsdiensvryheid ondersteun en bevorder het, maar ’n teologiese skool aan die universiteit verbied het aangesien, volgens hom, teologie op geen akademiese beginsels gegrond is nie.

Die maagdelike geboorte en opstanding van Jesus, het hy gesê, en wat later deur van die wêreld se bekendste navorsers van die Dooie See-rolle soos Barbara Thieringer en Géza Vermes bevestig is, berus dus op mites van die vier evangelies en nie op navorsing nie. Tog word dit deur die kerk as heilige waarhede verkondig.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui