König lees in Bybel wat nie daar is

Kyk ook:

Vrydag 24 Februarie 2006 bl. 22
Beeld
Johannesburg Finaal
Briewe

(http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/2006/02/24/B1/22/07.html)

König lees in Bybel wat nie daar is

Thabu Pienaar, Witrivier

Ek lewer graag kommentaar op prof Adrio König se artikel Die eintlike sonde: gays wat heteroseksueel optree (22 Februarie).

Ek het nog altyd die hoogste respek vir prof. König gehad, vir sy oopkop-interpretasie van die Bybel, sonder om die gesag daarvan af te water. Met hierdie onlangse artikel meen ek egter dat hy “inlees” wat daar nie staan nie.

‘n Paar opmerkings: Hy skryf: “Maar dan is dit mos ’n ‘skeppingsordening’ dat man en vrou vrugbaar moet wees en baie word” en daarom eintlik nie mag trou as hulle nie vrugbaar is nie. Ek haal hom weer aan: “Maar só kan ons darem nie met die Bybel omgaan nie.” Inderdaad, professor! Dis mos eenvoudig nie die afleiding wat daaruit gemaak kan word nie.

Ook die afleiding uit Genesis 19 is te eenvoudig om sommer net so aanvaar te word. Al mag dit selfs waar wees (dat dit oor heteroseksuele mans gaan wat homoseksueel optree), beteken dit egter nie dat homoseksualiteit daarom goedgepraat word as ’n natuurlike skesppingsgegewe gedrag nie.

Hy skryf selfs dat net die teks “hulle vroue” in Romeine 1 vir hom die skaal laat swaai dat dit ook hier gaan om heteroseksuele wat homoseksueel omgang verlang (soos in Genesis 19). Dit kan dalk König se keuse wees, maar beslis nie talle ander gelowiges se keuse van Skrifinterpretasie nie.

Hy meen hieruit dat die Bybel dus vir ons niks (sic) sê oor homoseksualiteit nie en dat daar dan ook geen rede is waarom twee homoseksuele mense nie as getroudes kan saamleef nie.

Ek kies liewer om die oordeel aan God oor te laat, maar intussen, terwyl ons slegs ’n dowwe spieël het, sal ek volgens die lig wat ek het nie huiwer om te meen dat dit nié die natuurlike skeppingsordening is nie. Al sou ons nie dié teksgedeeltes gehad het nie, sou ek steeds uit die skepping afgelei het dat God die mens so uniek en wonderlik geskape het dat elke orgaan in die fynste besonderhede gemaak is vir ’n doel.

Natuurlik gesproke, pas man en vrou bymekaar.

Terselfdertyd is ek al te bewus van my eie gebrokenheid voor God en juis daarom sal ek diegene wat anders kies nooit uit die kerk ban of die vreugde van ’n geloofsverhouding met Christus van hulle ontneem nie. Maar ek sou nie prof. König volg in sy stelling dat die Bybel hieroor niks sê nie en meen dat hierdie artikel slegs sy siening is, en niks meer nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui