Heilbron-gemeente ‘aanvaar nie sinode se gay-besluit’

Kyk ook:

Heilbron-gemeente spreek hulself uit teen die NGK se Algemene Sinode se besluit oor homoseksualiteit.

************

Heilbron-gemeente ‘aanvaar nie sinode se gay-besluit’

Deur Elsje Waldeck, Vrydag 16 Oktober 2015 10:52

Die NG gemeente Heilbron-Suid het Donderdag op hul Facebook-blad ’n inskrywing gedeel wat lui “die ring van Heilbron se leraars aanvaar nie die besluit geneem deur die algemene sinode (se) sitting van 2015 oor selfdegeslagverhoudings nie”.

Ds. Jac Pienaar, Ring van Heilbron se skriba, sê egter dit is nog nie ’n finale besluit nie.

“Dis nog glad nie vas nie. Ons het binne die ring gesprekke hieroor gevoer nadat die mense in ons gemeente op die algemene sinode se besluit gereageer het,” sê hy.

“Ons wou net voorlopig vir die lidmate sê ’n proses is begin om ’n finale besluit hieroor te neem.”

Die inskrywing lui verder die ring van Heilbron se leraars aanvaar ook nie die wyse waarop die besluit van die algemene sinode geneem is nie.

“Ons voel dat die debat en proses kon vir sommige emosionele manipulasie gewees het.”

Pienaar sê dit help nie om oor die saak te baklei nie, want elkeen voel anders daaroor.

“Ons moet aanhoudend gesprekke hieroor hê en nie haastig reageer nie.”

Die inskrywing sê ook dat die leraars van die ring van Heilbron “ ’n versoek aan die sinode van die Vrystaat gaan rig om ’n buitengewone sinodesitting te hou waarin dié kwessie en die pad vorentoe bespreek kan word”.

Ds. Helgard Janse van Rensburg, Vrystaatse moderator van die NG Kerk, het uit die kerkorde aangehaal: “ ’n Buitengewone vergadering kan deur die moderamen bepaal word óf regstreeks óf wanneer minstens vyf kerkrade uit verskillende ringe met opgaaf van redes daarvoor aansoek doen.

“Dit beteken dat vyf kerkrade uit verskíllende ringe moet aansoek doen voordat die moderamen dit oorweeg,” sê Janse van Rensburg.

“Dan sal die moderamen ook oordeel oor die redes wat die rade voorlê vir ’n sodanige buitengewone sinode.

“Met ander woorde dit moet baie goeie redes wees waarom ’n buitengewone sinode gehou moet word.”

Janse van Rensburg het by Pienaar aangesluit deur te sê dat weldeurdagte gesprekke uiters belangrik is.

“Ons eerste mikpunt is om al die inligting wat op die Algemene Sinode besluit is, met die kerkrade te deel.

“Dan moedig ons gesprek aan wat met respek en waardigheid gevoer word.”

Hy sê mense moet eers “rustig word” voordat hulle oorhaastige besluite neem.

“Moenie impulsiewe besluite neem nie. Kry eers al die inligting, luister na mekaar en besluit dan of jy die kerk wil verlaat.”

Pienaar het gemeentes gemaan om te bid oor die saak.

“Ons noem dit op Facebook ook: Elke lidmaat in die ring saam met die leraars sal bid oor die saak dat daar geen oorhaastige besluite deur enigiemand geneem word nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui