Groeteboodskap van Gereformeerde Kerk aan NG Kerk AS2023

Die volgende groeteboodskap het in die agenda van die NG Kerk se Algemene Sinode verskyn.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

AS Agenda, bl 395

GROETEBOODSKAP VAN DIE GEREFORMEERDE KERKE IN SUID AFRIKA

Deputate Ekumeniese Sake Binnelands (GKSA)

Voorsitter: Dr. PJ Venter 084 704 2348

petrusventer14@gmail.com

Skriba: Ds. EJ van Jaarsveld 072 454 3589

janrevj@gmail.com

Liewe broers en susters in ons Here Jesus

Met u vorige Algemene Sinode in 2019 het ds. Cassie Aucamp in sy groeteboodskap namens die GKSA die verlange uitgespreek dat ons in die tyd wat sou voorlê ons ryke geloofserfenis saam sou vier, ons ekumeniese gesprek na ons plaaslike gemeentes sou laat uitkring en in ons gesprekke die kosbaarhede van ons geloof op die voorgrond sou plaas.

‘n Paar maande later het COVID ‘n radikale impak op ons Suid Afrikaanse samelewing begin maak. Enersyds het van ons broers en susters siek geword en in uitdagende omstandighede herstel of gesterf. Andersyds het elke kerkgemeenskap, elke gemeente en elke gelowige (gesin) skielik op ‘n afstand van mekaar geleef en het ons as gelowiges nuwe lewenspa trone en lewensritmes ontwikkel wat vandag steeds ons saamleef met mekaar beïnvloed. Tog het die COVID 19 impak ons as gelowiges besondere geleenthede gegee om die genade van ons Here prakties uit te leef en mense op unieke wyses die liefde van ons Here te laat beleef.

Intussen het u as kerkgemeenskap in hierdie selfde jare sedert u vorige Algemene Sinode ook woelinge beleef. Die impak van die besluit insake Selfdegeslagverbintenisse het onder andere tot die ontstaan van die Kairos Netwerk gelei, met al die gepaardgaande vrae en spanning, wat ook in die openbare pers uitgespeel het. As u broers en susters in ons Here Jesus is ons saam met u daarop ingestel om die eenheid wat die Gees tussen gelowiges gesmee het, te handhaaf (Ef. 4:3). Daarom het die Algemene Sinode van die GKSA ook aan die begin van Februarie 2023 gestel dat daar van die GKSA se kant af gewaak sal word om nie ‘n moontlike skeuring binne die NG Kerk te sanksioneer of te bevorder nie.

Juis omdat dit mooi én goed (die Here se wil) is dat sy kinders daadwerklik met mekaar sal sáámleef (Psalm 133), is dit vir ons as Deputate van die GKSA (wat verantwoordelik is vir ons ekumeniese saam leef met u as kerkgemeenskap) belangrik om so spoedig moontlik weer bilateraal met u gesprek te voer. Daar bestaan tans verskille tussen ons as kerkgemeenskappe en daarom sal ons graag binne die raamwerk van die Memorandum van Ekumeniese Verhouding wil beleef dat ons mekaar aanspreek, bemoedig en vermaan om in liefde by die waarheid te bly, sodat ons almal al meer na Christus toe sal groei (Ef. 4:15).

Terselfdertyd onthou ons dat ons Here Jesus voor sy kruisiging gebid het dat ons almal een mag wees … sodat die wêreld kan glo dat Jesus deur die Vader gestuur is (Joh. 17:21). Nou leef ons egter saam in ‘n samelewing waarin die sosio politieke situasie onstuimig is en daar baie mense is wat met diep seer worstel en ontredderd voel en is. Juis daarom is dit nodig dat ons saam met mekaar oor die enigste Koning van ons land en wêreld, ons Here Jesus, kan getuig!

Vir u vergadering bid ons die seën van ons Here af. Mag die Almagtige God deur sy Woord en Gees u lei om in gehoorsaamheid aan Hom besluite te neem. Mag Hy u lig wees tydens die vergadering.

Dr Petrus Venter (namens die Deputante)
2023-08-15

Kommentaar

Hierdie is ‘n teleurstellende brief van GKSA. Mens kry die indruk dat die GKSA meer besorg is oor die eenheid, en moontlike skeuring, in die NG Kerk as oor die dwaling in die NG Kerk. Hulle sê darem dat hulle “weer bilateraal gesprek moet voer” oor die verskille tussen die twee denominasies.

Net verlede jaar het die GKSA bande gesmee met die Kairos Netwerk (Familiebyeenkoms: Ook ander denominasies vat hande) en nou skryf hulle vriendelike briewe aan die Algemene Sinode van die NG Kerk.

‘n Mens kyk op na die GKSA as ‘n behoudende bondgenoot. ‘n Mens het gehoop dat hulle eerder op die punt sou wees om ook hulle bande met die NG Kerk te breek soos die Christian Reformed Churches of Australia gedoen het – kyk CRCA breek alle bande met die NG Kerk.

1 thought on “Groeteboodskap van Gereformeerde Kerk aan NG Kerk AS2023”

  1. Dr Venter.
    Ek daarenteen die GKSA se groeteboodskap is ‘n baie mooi gebaar. Ek kan glo dat hulle besorg is oor moontlike skeuring wat tot niemand se voordeel strek nie. Die “dwaling” wat jy noem is slegs verskille en opinies tussen gelowiges in die NK Kerk wat hulle nie direk raak nie. Ek lees ook nie dat hulle bilateraal gesprek wil voer oor die verskille tussen die 2 dinominasies nie , maar wel ekumeniese verhouding wil versterk soos dit tussen verskillende gelowe hoort en werklik nodig is in ons land met al sy uitdagings.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui