Familiebyeenkoms: Ook ander denominasies vat hande

*******

Familiebyeenkoms: Ook ander denominasies vat hande | Kerkbode

Kerkbode

3 Augustus 2022

Henrietta Klaasing van Randfontein skryf: Op 28 Februarie 2020 is berig oor die Moreletaparkberaad van 25-26 Februarie 2020.

Nooit het dié wat dit bygewooon het ooit kon droom dat daar (net meer as twee jaar later) weer ’n soortgelyke byeenkoms van gelowiges van reg oor SA sou wees nie – dit ten spyte van meer as twee jaar se Covid-19-inperkings!

Vanuit hierdie byeenkoms het Kairos Netwerk deur die Here se genade spontaan ontwikkel. WhatsApp-groepe, ’n eie Facebookblad en webblad is geskep.

Met die Moreletaberaad was daar besprekings oor dwalinge wat die gevolg was van vrysinnige Skrifhantering wat gemaak het dat die NG Kerk al meer begin het om sy gereformeerde identiteit te verloor. Getalle van lidmate wat ontevrede was hieroor, het so aangegroei dat daar teen Julie vanjaar meer as 120 belydenisgetroue gemeentes uit die tien streeksinodes van die NG Kerk tot die beweging toegevoeg is.

Dit was onafwendbaar dat Kairos Netwerk uit die Skrifgetroue en behoudende geloofsgemeenskap bymekaar sou bring wat bymekaar hoort en die eerste Familiebyeenkoms van Gereformeerde Gemeentes het op 21-22 Julie 2022 by die AfriForumteater in Pretoria vergader.

Meer as 200 verteenwoordigers vanoor die hele land, ten spyte van die skrikwekkende hoë brandstofkoste en die feit dat die byeenkoms in gewone werkstyd gehou is, het dit bygewoon.

Die verrassende was dat hande van vriendskap uitgereik is na Kairos Netwerk vanuit ander denominasies, soos die Gereformeerde Kerke, die Afrikaanse Protestantse Kerk, die Geloofsbond van Hervormde Kerke en die Vrye Gereformeerde Kerk. Daar was selfs ’n groeteboodskap en belofte van steun en samewerking vanaf die Alliance of Reformed Churches in America.

Die formele program het om 14:00 begin met lofprysing en aanbidding. Die hooftema was “Saam vorentoe as Skrifgetroue geloofsfamilie”. Onderwerpe wat bespreek is, was onder andere: Hoe vat ons hande? Wat is vaste fondamente? Hoe verseker ons suiwer teologiese opleiding? Ander temas was verlossing, ons getuienis na buite en ons geloofsverklaring.

Sprekers het agtergrond en hulle visie oor die temas gegee wat gevolg is deur paneelbesprekings met voorstelle vir praktiese implementering. Persone wat teenwoordig was, is ingedeel in streke met die uitdaging om hulle gawes, kennis en ervaring beskikbaar te stel om prakties uitvoering te gee aan die bepaalde sake.

Voortgaande gesprekke word gevoer ten opsigte van teologiese opleiding met die Noordwes-Universiteit se teologiese fakulteit , die Afrikaanse Protestantse Akademie en Veritas.

Ingestuur namens: Familie van Skrifgetroue Gereformeerdes in SA.

Vir video’s, kyk hier.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui