Getuienis: Hervormingsondag (29 Oktober 2023)

Die volgende is op 27 Oktober 2023 per epos gestuur met die volgende dekbrief:

Goeiedag Mededienaar,

Hiermee ‘n belangrike skrywe oor ons Hervormingsgetuienis.

Gemeentes word vriendelik dog ernstig versoek om dit in geheel of gedeeltelik komende Sondag voor te lees.

Geseënde dag,

Prof Hoffie Hofmeyr

*************

Getuienis: Hervormingsondag (29 Oktober 2023)

HERVORMINGSGETUIENIS

Ons vier vandag saam met meeste gereformeerde kerke wêreldwyd Hervormingsfees 2023. Dit vind plaas te midde van baie spanning en onsekerheid, beide in kerk en samelewing. Ons getuig daarom die volgende:

Inleidend

  • Vir ‘n wêreld in nood met al sy oorloë, geweld en ellendes is al ons geloof en hoop alleen gevestig op God die Vader, Seun en Heilige Gees. Daarom is ons enigste troos in lewe en in sterwe steeds dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan ons getroue Saligmaker Jesus Christus. (1 Timoteus 2:5-6 ‘Want daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense: die mens Christus Jesus, wat Homself as losprys vir almal gegee het, tot getuienis op die bestemde tyd.’) Ook vir ons in Suid-Afrika te midde van al die onrus in die kerk maar ook die spanninge in die NGK, is daar maar een antwoord en dit is om te vertrou op God-Drieënig en gehoorsaam te wees aan Sy Woord.
  • Hervormingsfees roep ons om die skietlood weer te laat sak ook teen die kerkmure van die NG Kerk van 2023. Dit herinner ons dat ‘n ware gereformeerde kerk altyd bereid moet wees om weer en weer te reformeer: “Ecclesia reformata semper reformanda”. Een bekende skietlood uit die Hervormingstyd staan bekend as die vyf solas: “Sola Scriptura” alleen die Skrif; “Sola Fide” alleen deur geloof: “Sola Gratia” alleen uit genade”: “Solus Christus alleen Christus: “Soli Deo Gloria” aan God alleen die eer.
  • Ons treur om te erken dat ons geestelike moeder, en bepaalde taakspanne van die NG Kerk in 2023 nie meer hierdie toets van die skietlood slaag nie.
  • As ons dieselfde toets herhaal met ‘n ander skietlood naamlik ons gereformeerde belydenisskrifte (die drie ekumeniese belydenisse asook die drie Formuliere van Eenheid) dan eindig ons met dieselfde diagnose.
  • As ons dan nou ʼn aantal gedagtes hier uitspreek doen ons dit as swakke maar ook diepgelowige en lojale mense.

Getuienis

  • Verskeie ernstige dwalinge wat in die NG Kerk geduld en bevorder word onder die dekmantel van diversiteit (die filosofie van ‘n “ruim huis”), is byvoorbeeld die ontkenning van Jesus se maagdelike geboorte, sy liggaamlike opstanding, die ontkenning van die bestaan van Satan as persoonlike wese, die ontkenning van die godheid van Jesus, die minagting van die gesag van die Bybel, asook afwykende Skrifbeskouings, onSkriftuurlike besluite oor sake soos selfdegeslagverhoudinge en die christelike huwelik. Verder kan genoem word die groeiende fokus op horisontalisme waar die mens al meer in die middelpunt staan van kerklike dienswerk, eredienste, evangelisasie, barmhartigheid en kerklike besluite. Verskeie dwalinge by die teologiese fakulteite en opleiding word verder in hierdie ruim huis geakkommodeer. Die Algemene Sinode se leierskap het met ʼn grootliks onwillige gesindheid ʼn dowe oor en ʼn blinde oog na die herhaaldelike versoeke van besorgde gemeentes en lidmate gekeer.
  • Toe hulle oor baie jare moes luister na die noodkrete en beswaarskrifte, is dit volhardend nooit ernstig opgeneem nie en ook geïgnoreer.
  • Dit is met groot liefde, maar ook baie pyn en hartseer dat ons moet sê dat ons aanhoudende oproepe om die Algemene Sinode met al sy taakspanne tot inkeer en bekering te bring, het nou by ‘n eindpunt gekom.
  • Ons het deurgaans met ʼn versoenende benadering gepoog om tot eerlike openlike gesprek oor brandende kwessies te kom maar dit was grootliks onsuksesvol. Verskeie skriftelike versoeke tot mediasie is telkens geweier.
  • Hierdie kwessies het veral gehandel oor die verskil rondom Skrifbeskouing en die sinode se gebrek aan, asook misbruik van die hantering van die Bybel in hul verslae en vergaderings.
  • Die Bybel word dikwels deur die vrysinnige groep nie hanteer as God se Woord nie, maar eerder as mense se gedagtes en woorde oor God. Hulle word dikwels beïnvloed deur postmodernistiese denke, ideologiese en ook horisontalistiese mode-aksente soos eensydige rasse en gendergeregtigheid.
  • Op hierdie pad wat die Algemene Sinode tans gekies het om te loop, kan ons nie saamgaan nie. Nuwe paaie sal vorentoe bewandel moet word. Enkeles daarvan is ons getuienis na binne en buite, die terugkeer na deeglike kategese en verbondsonderrig van ons jeug, die begeleiding en voorligting van ons lidmate, die aanmoediging van kundige teologiese insig by lidmate, suiwer gereformeerde teologiese opleiding van studente, begeleiding van predikante met die oog op hulle gereelde prediking, voortgesette teologiese opleiding van afgestudeerde leraars, ensomeer.
  • Koinonia Sinode Diens-Groep (KSDG) saam met Kairos Netwerk (KN) asook ander konfessioneel regsinnige lidmate is besig om ernstig te bid, en hoop om eersdaags na terugskouing en vooruitskouing ingrypende besluite aan te kondig as uitkoms vir die pad vorentoe.

Hier staan ons, ons kan nie anders nie. Mag die Here ons genadiglik op die regte pad lei deur Sy Woord en Gees. Soli Deo Gloria.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui