Wedersydse respek is hier belangrik

Kyk Gay lidmate rig net geweldige skade aan (Bernhard Ficker, 3 Nov 2023) wat op hierdie brief reageer.

*******

Wedersydse respek is hier belangrik | Netwerk24

Dr. Dewald Koen, Gqeberha

26 Oktober 2023

Hartseer NG Kerk-lidmaat se brief “Dit help nie as jou siel skade ly nie” (24.10) verwys.

Ek praat nie namens alle lede van die LGBTQI+-gemeenskap nie, maar ek is oortuig daarvan die meerderheid het geen behoefte om in die NG Kerk – of enige ander kerk – in die huwelik bevestig te word nie.

Gay-huwelike is wettig in Suid-Afrika, en gay mense wat hul ewige trou aan mekaar wil verklaar, mag en kan dit voor enige magistraat doen.

As gay man wil ek vra dat ons asseblief die nimmereindigende en verdelende debat afsluit sodat die sinode en gemeentes op belangrike sake soos armoedeverligting en gemeenskapsbetrokkenheid kan fokus.

Ek gun almal ’n plekkie in die son, maar ek verstaan dat sommige NG Kerk-lidmate ongemaklik is met die idee van gays wat in die kerk trou. Ek doen ’n beroep op lede van die LGBTQI+- gemeenskap om ook diesulkes se mening te respekteer.

Terselfdertyd doen ek ’n beroep op lidmate om lede van die gay-gemeenskap wat aktief by die kerk betrokke wil wees, welkom te laat voel. Wedersydse respek is belangrik.

Die kerk vertolk vir talle ’n belangrike rol in hul lewens, en ek glo dat dit teenproduktief is om gay-huwelike op kerke af te dwing. Dit skep net meer argwaan teenoor lede van die LGBTQI+-gemeenskap.

Gays kan steeds deel wees van ’n kerk, maar kom ons wees tegemoetkomend teenoor ons mede-lidmate en kerklike tradisies.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui