Gebalanseerde liefde

Deur Coligny Nel

14 September 2020

Ek het jou lief en aanvaar jou net soos jy is! Onvoorwaardelik.

Is dit wat Jesus gesê het? Baie haal net die Samaritaanse vrou se verhaal aan. Maar het Jesus dan nie ook die tafels in die tempel omgegooi nie? Het Hy nie gesterf vir sy objekte van liefde se sondes nie?

Vir liefde om suiwer te bly moet dit met geregtigheid gebalanseer word. Liefde word deur geregtigheid suiwer gehou en liefde hou geregtigheid op koers.

Ons moet Jesus volg en soos Hy word, sy beeld. Dis tog ons bestemming. Jy kan nie Jesus se volgeling wees as jy een van hierdie twee aspekte minag nie. Want dan is jy nie meer die lig vir die wêreld nie.

Daar was tye wat Jesus nie ‘nice’ was nie, en tog was Hy altyd liefdevol. Soos wanneer Hy die sweep in die tempel opgetel en onder hulle ingeklim het. Hy was selfs hierin besorgd oor ander bo sy ‘self’. Sy liefde was dus nie altyd soos gedefinieer deur liberale teoloë nie. Ek hoor hulle al sê: “Jesus sou dit nooit gedoen het nie!”. En tog het Hy sekere mense aangespreek as ‘addergeslag’!

Wat is ons gevolgtrekking? Jesus het die sonde met woord en daad beveg. Hy het nooit gesê ‘Ek aanvaar jou soos jy is’ nie. Jesus het nie mense goedgepraat nie. Hy het hulle liefgehad. Sy liefde was en is en sal altyd suiwer wees…

2 thoughts on “Gebalanseerde liefde”

  1. Dis maklik om oor die liefde van God te praat – maar dit raak ’n uitdaging
    as ’n mens oor die sonde van die mens praat – oor enige onderwerp, ja enige,
    en jy besluit om die waarheid en die norm van die Skrif omhoog te hou,
    Jy gaan daarvoor aangeval en vervolg word.
    Die versoeking is dus daar om ’n kompromie aan te gaan, veral as jy liefdeloos geteken word.
    Pasop egter om so ’n kompromie aan te gaan en dan daarvoor spyt te wees in die ewige lewe.
    As ’n mens nie God se Woord as die norm vir sonde gebruik
    en mense wat sonde doen daaroor konfronteer nie, handel jy liefdeloos.
    Jou taak is, volgens die Skrif, om tussenbeide te kom ter wille van die persoon wat sonde doen.

  2. Hierdie is ’n baie nodige skrywe, baie dankie Coligny. Ek verkies om dit so te stel: Jesus ontmoet jou WAAR jy is, maar Hy los jou nie daar nie. Soos Saul op die Damaskuspad. Soos Dawid na sy owerspel met Batseba. Jesus het geweet van Johannes die Doper se boodskap: “Bekeer julle … dra vrugte wat by die bekering pas” (Matt 3 v 2, 9) en Hy het dit nie weerspreek nie. Dit is ook die boodskap met Pinkster (Hand 2:38). Daar moet hartsverandering wees, omkering op die verkeerde pad en in geloof na Jesus gedraai word. Die mooi opsomming van die verlore seun se pad is: inkeer, omkeer, terugkeer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui