Ete met André Bartlett: ‘Nie einde van pad met gays’

Kyk ook:

*******

Ete met André Bartlett: ‘Nie einde van pad met gays’

Deur Pieter Steyn 26 November 2016

Kort voor lank gaan die NG Kerk weer gay lidmate met volle liefde en voordele, soos vir heteroseksuele lidmate, verwelkom, het dr. André Bartlett, kampvegter vir gays in die kerk, oor aandete vir Pieter Steyn gesê.

Die besluit van die NG Kerk se buitengewone algemene sinode van 2016 om nié aan gay lidmate dieselfde voorregte as heteroseksuele lidmate te gee nie, is ’n paar treë terug, maar ver van die einde van die pad.

“Ek is oortuig daarvan dat die kerk nog in my bedieningstyd gays ten volle gaan aanvaar,” sê dr. André Bartlett en neem versigtig ’n sluk van sy rooiwyn.

Daar is ’n vasberadenheid in sy oë. Die verslaenheid wat kort ná die uitslag van die stemmery op sy gesig was, het plek gemaak vir motivering.

“As mense my vra hoekom gaan ek hoegenaamd aan met dié kwessie en hoekom ek nie net maar ophou of uit die kerk bedank nie, is my antwoord tweeledig: Die kerk is groter as hierdie kwessie. Gaan dit net oor hierdie kwessie of gaan dit ook oor die breë kerk? Ek en mense wat soos ek voel het ’n verantwoordelikheid teenoor die NG Kerk as sodanig. Dit help my. Hierdie kwessie is ’n belangrike kwessie, maar dis nie die hele kerk nie.”

Die tweede rede waarom hy vasbyt, is omdat hy glo die hele saak gaan anders uitdraai. Die feit dat twee gay mense amptelik op die afgelope sinode kon praat, laat hom voel hulle (dié wat sedert 2002 met die kwessie volhard) het tog iets bereik.

“Dat iemand soos Stefan de Klerk (gay teologiestudent) by die sinode kon praat, laat my voel ons het iets bereik. Dit sou 20 jaar gelede nooit gebeur nie. ’n Teologiestudent sou nie eens erken as hy of sy gay was nie, laat staan nog vir ’n sinode kom sê hy of sy is gay.”

Natuurlik is daar teleurstelling – groot teleurstelling, erken Bartlett – maar daar het “reuseskuiwe” in mense se denkrigtings plaasgevind.

“Die reaksie ná die 2016-besluit is nie net negatief nie, maar ook positief. Die eerste keer is daar gemeentes wat opstaan en sê ons weier om die besluit te aanvaar. Oor die jare was dié van ons wat met die saak besig was maar so ’n handjievol wat bereid was om openlik daaroor te praat. Nou is daar baie, baie mense. Die reaksie is groot. In daai sin voel dit vir my . . . ek gaan nie die saak gewonne gee nie.”

Ondanks sy vasberadenheid, voel dit soms vir hom of die kerk met sy jongste besluit terug is by die Skrifgebruik van 1986, toe daar die eerste keer ’n verslag oor homoseksualiteit voor die algemene sinode gedien het. Soms voel dit die kerk is terug by 2007, toe besluit is gay lidmate en predikante is welkom, solank hulle selibaat lewe. Wanneer hy so voel, voel dit asof die werk van die afgelope 14 jaar ongedaan gemaak is. Dan dink hy aan een van die (min) hoogtepunte van die afgelope sinode.

“Dat ek en Schalk (ds. Albertyn van Orania), wat meer behoudend is, kon gaan sit . . . dat ons letterlik ’n uur of twee kon gaan sit en ’n ding kon skryf wat ons albei, albei groepe akkommodeer . . . Dit was lekker gewees.

“Daar was ’n welwillendheid van ‘kom ons val nie vas in die verskille nie, kom ons akkommodeer mekaar’. Dat dit nie ’n wen-verloor-situasie is nie, maar ’n wen-wen-situasie.”

Oor die “prosedurele foute” in 2015, toe die sinode besluit het gays is ten volle welkom mits die kerkraad, predikante en gemeentes hulle weg oopsien, haal Bartlett sy skouers op.

“Kyk, die prosedure is aangepas, maar Nelis (Janse van Rensburg, moderator) het dit voortdurend aan die vergadering gestel en daar was elke keer instemming van die vergadering. As jy van die beswaarskrifte lees (van 2016), klink dit of dit hierdie verskriklike sameswering was, maar ek dink eerlikwaar nie die afwyking van die prosedure was wesentlik nie en waar daar ’n afwyking was, was dit, volgens my, deurentyd met die instemming van die vergadering. Niemand het opgestaan en gesê ‘voorsitter, op ’n punt van orde, dit kan nie so gedoen word nie’ of as die notule goedgekeur is, ’n beswaar geopper nie.

“Die reglement van orde gee vir die voorsitter baie ruimte om sy diskresie te gebruik en aanpassings te maak en dis wat hy (Nelis) gedoen het ter wille van ’n sinvolle gesprek – om dit nie rigied te doen nie. Hy het dit die heeltyd met die vergadering getoets. Daar was nie wesentlike afwykings wat jy onreëlmatighede kan noem nie. Die afwykings wat daar was, was deurentyd met die instemming van die vergadering gedoen. Ek persoonlik voel die 2015-besluit is eintlik in 2016 op onreëlmatige wyse herroep. Ek het ’n idee ’n hof mag dit dalk uitwys.”

Sal hy die 11 lidmate, waaronder prop. Laurie Gaum en dr. Leon Wessels, wat die kerk gewaarsku het dat hulle hulle tot ’n hof sal wend as die sinode voortgaan, ondersteun? In ’n onderhoud in Rapport het Janse van Rensburg laat blyk net ’n hof kan regsekerheid gee.

“Ek weet nie wat Nelis se is gevoel nie. My eie gevoel is die 11 lidmate het alle kerklike weë uitgeput (’n voorwaarde van die kerkorde) en as ’n hof sekerheid kan bring, sal dit ’n goeie ding wees. Ek is nie teen ’n hofsaak nie. Die algemene sinode het nie hulle (die 11 lidmate) se versoek, die regsadvies van adv. Jeremy Gauntlett SC ter tafel geneem nie.”

Die beskuldiging dat die progay-besluit die Bybel by die agterdeur uitgegooi het, is onwaar.

“ Die Skrifgebruik wat agter die jongste besluit lê, is nie die manier wat die NG Kerk met die Bybel werk nie. Ek is oortuig baie mense besef dit gaan nie oor homoseksuele verhoudings (in die Bybel) nie, dit gaan oor sekere vergrype wat afgekeur word. Dit gaan nie oor liefdevolle seksuele verhoudings nie. Dit gaan byvoorbeeld oor verkragting in die verhaal van Sodom. In Romeine 1 gaan dit oor seksuele orgies – dit wat ons daar lees is nie ’n beskrywing van ’n normale liefdevolle intieme verhouding nie, dit gaan oor ’n orgie. Mense besef dit al meer. Ek ken die NG Kerk. Die besluit is ’n tydelike paar treë terug.”

Spyskaart, Doppio Zero, Rosebank

2 x glase Hartenberg Alchemy R108

1 x Pasta Arrabiata R66

1 x Varkpens R135

1 x Suurlemoen-nagereg R45

1 x Karamel-pannacotta R42

Fooitjie R44

Totaal R440

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui