Transformasie by die NG kerk se teologiese fakulteite noodsaak koersverandering

Die volgende artikel van Henrietta Klaasing het in die November 2021 uitgawe van Juig! verskyn.

Kyk ook die skakels in die “Kyk ook”-blokkie vir verdere inligting.

*******

Transformasie by die NG kerk se teologiese fakulteite noodsaak koersverandering | Juig!

Henrietta Klaasing

November 2021

Die NG Kerk se bestaande drie teologiese opleidingsfasiliteite by die Universiteite van die Vrystaat, Pretoria en Stellenbosch is, na my mening, vir ‘n geruime tyd al nie meer betroubare sentra vir gereformeerde en gebalanseerde teologiese opleiding nie. Soos dit by die teologiese fakulteite gaan, so sal dit in die res van die kerk ook gaan, daarom is dit belangrik om die aard en doel van teologiese opleiding te herstel. Twee student deel my kommer, en was bereid om hul getuienisse anoniem te deel.

Daar is toenemende staatsinmenging – universiteite word beheer deur die Departement van Hoër Onderwys (volgens die Wet op Hoër Onderwys) en die beleid word bepaal deur die Raad op Hoër Onderwys (CHE). Universiteite kan alleen bestaan en voortgaan met hulle aktiwiteite en onderrig vir sovêr hulle voldoen aan die bepalings van die Wet en die Beleid van CHE. Dosente is werknemers van universiteite wat die beleid van universiteite moet volg in hulle onderrig en leerstof. Vroeër jare het kerke ’n beduidende inset gehad by die kurrikulums van die onderskeie teologiese fakulteite. Ongelukkig bepaal universiteite alleen nou die kurrikulum. Insette deur kerke kan meebring dat die staat universiteite se lisensies terugtrek .

Wat teologiese opleiding betref, kom die transformasie die duidelikste na vore in ‘n promosievideo van die Universiteit van Pretoria (UP) wat op Youtube gelaai is op 18 Augustus 2021 (“UP’s curriculum transformation”). Daar sê prof Jerry Pillay die dekaan van die teologiese fakulteit die fakulteit probeer bewustelik om te beweeg van ’n gereformeerde belydenisfakulteit na ’n ekumeniese, weens ’n verskeidenheid Christelike denominasies en tradisies (tans meer as 33).

Op die Teologiese fakulteite se webwerwe

Universiteit van Pretoria

Hier volg inligting in aansluiting by wat reeds hierbo geskryf is oor UP. Op die teologiese fakulteit se webwerf staan dat die Nuwe Testament gelees moet word uit ’n queer, feministiese, liberaal-teologiese, post-koloniale, anti-imperiale en Afrika-perspektief. Nog inligting vanaf die webblad :

  • Lees die gelykenisse as simbole van sosiale transformasie om ’n post-moderne etiek te vestig op grond van die waardes in die gelykenisse van die historiese Jesus;
  • Bestudeer antieke identiteite en identiteitsvorming, waar die fokus is op sowel identiteit as interseksionele identiteitsvorming, met ’n spesiale klem op geslag, godsdienstige identiteit, nasionaliteit en die stratifikasie van antieke samelewings (dws klas- en beroep-gebaseerde identiteite);
  • Genesing in die Nuwe Testament: Om Afrika-modelle te ondersoek wat help om idees oor gesondheid en genesing in die Nuwe Testament te ondersoek, en
  • Seksualiteit in die Nuwe Testament: Interpretasie van die tekste in die Nuwe Testament wat verwys na seksualiteit en homoseksualiteit.

Universiteit van Stellenbosch

In die dekaan prof Reggie Nel se verwelkomingsboodskap skemer die voorgenome veranderings soos by UP ook deur. Hy skryf: “In hierdie jaar wil ons egter ook wyer, eerlike, maar deernisvolle gesprekke open. Ons doen dit as ’n gemeenskap in Afrika wat trots is op ons wortels…. Ons bly toegewyd en dra wêreldwyd by tot wetenskaplike navorsing en praktyk. Ons streef ook daarna om ons wye verskeidenheid studente voortdurend uit verskillende kontekste te bemagtig in terme van ras, geslag, ouderdom, denominasie en godsdiens, seksuele oriëntasie, sosio-ekonomiese status, ensovoorts. (Lees ook die getuienisse wat hieronder volg).

Universiteit van die Vrystaat

Prof Rantoa Letšosa die dekaan van die Fakulteit Teologie en Godsdiens (LW: dit is nie net meer fakulteite van teologie nie) sê “die fakulteit bevind hom tans in ’n baie opwindende fase van sy bestaan”. Hulle koester die volgende strategiese waardes: ’n klassieke teologiese oriëntasie, rasse-, geslags- en kulturele inklusiwiteit, akademiese en intellektuele uitnemendheid en innovasie, geestelike en etiese integriteit, gemeenskaplikheid en gasvryheid. Navorsingsprojekte kan gedoen word in enige van die volgende dissiplines: Ou Testament, Nuwe Testament, Sistematiese Teologie en Etiek, Praktiese Teologie, Kerkgeskiedenis en Polisie, Missiologie, Religiestudies, Jonathan Edwards Studies, Bybelse spiritualiteit, spiritualiteit en Bybelvertaling. Wat gemeenskapsdiens betref, poog die fakulteit om geleerdheid met gemeenskapsdiens in die ware sin van die woord te kombineer.

Op die oog af lyk dit of die Vrystaatse teologiese fakulteit nie so ver afgedwaal het van gereformeerde en gebalanseerde teologiese opleiding soos die ander twee nie.

Getuienis van ‘n Afrikaansssprekende student

Een van die studente wat by die teologiese fakulteit van Stellenbosch gestudeer het, getuig onder andere van die volgende:

  • 80% van die fakulteit glo nie in die opstanding of maagdelike geboorte van Jesus nie.
  • Amper almal in die fakulteit (student en lektore) glo dat homoseksualiteit nie ‘n sonde is nie, en dat seks voor die huwelik in meeste situasies regverdig kan word.
  • Die volgende stelling is al gemaak: “Queer teologie is ‘n beter lens om die Ou Testament te verstaan, as die lense van teoloë soos Calvyn”
  • Een van die redes waarom Nuwe Testament aangebied word is om studente op te lei om nie in sonde of die bonatuurlike te glo nie.
  • Die doel met die begrip “historiese konteks” is om sonde te regverdig.
  • Hy het stellings gehoor soos “Jesus is nie God nie”, “die opstanding is nie waar nie” en “die maagdelike geboorte het nooit gebeur nie”.
  • Ou Testament departement gebruik feministiese en ander LGBTQ lense om die Bybel te lees, en verwerp meeste van wat die Ou Testament leer as patriargaal.
  • Ons is geleer hoe om die Bybel met ‘n “queer” lens of ‘n postkoloniale lens te lees. Hierdie tipe lense soek “gemarginaliseerde” karakters in die Bybel en probeer vir hulle ‘n stem gee.
  • In Praktiese Teologie glo meeste van die dosente in die “Social Justice Gospel”.
  • Daar is vir ons vertel dat Islam, Christendom, Boeddhisme, ens eintlik maar op dieselfde pad is na God toe.
  • In ons geskiedenis klas het ek dieselfde sê-goed gehoor as wat ‘n mens by ’n “Rhodes must fall” of BLM optogte sou kon verwag: dat geskiedenis deur die witman geskryf is en dat ons geskiedenis moet dekolonialiseer.
  • Ek het punte verloor vir my geloofsoortuigings en in sommige gevalle is daar vir my gesê dat ek nul sou kry indien ek weier om van die take te doen op die voorgeskrewe maniere.

Getuienis van ‘n Engelssprekende student

“Ek het aan die begin van 2017 na die Teologiese Fakulteit van Stellenbosch gegaan met die hoop om nader aan Christus en Sy Woord te kom en toegerus te wees vir die bediening van die Evangelie, ja, selfs om hierdie Evangelie aan die eindes van die wêreld te neem. Dit gebeur egter nie deur die teologiese fakulteit (die Nederduitse Gereformeerde Kweekskool) nie, maar eerder deur my bywoning van ons plaaslike kerk, daaglikse tyd in God se Woord en die heiligende krag van die Heilige Gees”, skryf hy in ‘n brief.

Hy skryf dat baie van hulle professore die plaasvervangende versoening, Bybelse onfeilbaarheid en die waarheid van die opstanding van Christus ontken. Volgens hom is daar geen twyfel dat die Kweekskool aan die Universiteit Stellenbosch deur en deur liberaal is nie: hulle leer ‘n “godsdiens” wat vreemd is vir die historiese Christendom en die Christendom van die vroeë kerk, die Hervormers, die Puriteine en die Nederlandse belydenisskrifte .Daar word ook gesê dat Jesus nie in die Ou Testament is nie! Dit trek dus ‘n streep deur wat daar staan in Lukas 24:27: “En hy (Jesus) het begin met Moses en al die profete en in al die Skrifte die dinge aangaande hom uitgelê.”

Die student skryf ook van ‘n vroueteoloog wat ‘n voorstander is van ‘n geslags-queer-lees van die Ou Testament. Hy vertel dat hulle voortdurend met haar gedebatteer het oor die ware betekenis van die teks en hoe sy haar idees oor transgenderisme en queer-teologie in die teks inlees. ‘n Ander professor glo dat ’n mens ’n Christen kan wees en steeds Afrika -geeste en voorouers kan aanbid en ontken die enigste bemiddelaarskap van Christus. Daar was ook ‘n dosent wat tot God as ‘moeder’ gebid het en studente aangemoedig het om op te hou om teologie te lees en eerder liberale filosowe soos Charles Taylor te lees.Universalisme is ook voorgehou, soos die universele vaderskap van God en die universele broederskap van die mens. Dit is ’n klassieke geloof in die liberale godsdiens – dat ons almal kinders van God is en dat alle godsdienste na dieselfde bestemming lei.

In sy slotparagrawe spreek hierdie student die wens uit dat dit wat hy skryf, ons sal oortuig om nie ons kinders te stuur na Stellenbosch se giftige lering nie, maar eerder na ’n plek waar die oppergesag en verheerliking van ons Here en Verlosser Jesus Christus verkondig word. Hy pleit dat ons verenig sal word deur die groot en heerlike leerstellings van die Skrif, geloof, skepping, erfsonde, verlossing in Christus, en die gemeenskap van die heiliges waar die Woord verkondig word, die sakramente toegepas, en kerklike tug beoefen word.

Die teologiese studente van vandag is die predikante en dosente van more., daarom is ek as behoudende lidmaat van die NG kerk diep besorg en reken ek dat daar dringend gekyk moet word na waar suiwer gereformeerde en gebalanseerde opleiding vir teologiese studente en vir voorgesette opleiding van leraars aangebied word.

Dr Henrietta Klaasing (afgetrede onderwyskundige en medeskrywer van die boek “Die Trojaanse Perd in die NG kerk – die kanker van evolusie en liberalisme”).

  • Voetnota aan redaktrise: die getuienisse van die twee studente is in my besit en ek het hulle toestemming om dit anoniem te gebruik) .

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui