Dank God vir die gawe om te kan voel

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in September 2000 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Die Here het aan ons vyf sintuie gegee. Ons kan hoor, sien, ruik, proe en voel. Elkeen van hierdie sintuie van ons, wat ons dikwels so as vanselfsprekend aanvaar, is tekens van God se goedheid. Dit is gawes van God om ons lewens te verryk en met vreugde te vul. Kom dink vir ’n oomblik saam met my na oor die die tassintuig in jou vel.

Ons velle is ’n hoogs sensitiewe gevoelsorgaan. Dit kan ’n groot verskeidenheid van stimuli wat heeltemal onafhanklik van mekaar is, gelyktydig waarneem. Jy kan die sagtheid van ’n kat se pels of die skurfheid van ’n baksteenmuur voel. Jy kan die gladheid van ys of die heerlike hitte van ’n stoombad ervaar. Met jou vel leer jy die wêreld rondom jou ken. Jy kan ’n voorwerp se gewig, temperatuur, hardheid, grofheid, vogtigheid, elastisiteit en sy vorm met jou vel bepaal.

Jou vel vorm ’n kussing vir jou liggaam en bevat haarsakkies, senuwee-eindpunte en sweetkliere, sowel as bloed- en limfvate. Jou vel skei jou liggaam van die buitewêreld. Dit koel jou af en dit hou jou warm en dit hou jou liggaam se vog binne. Die totale oppervakte van jou vel beslaan sowat 1.6 vk meter en elke vk cm van jou vel bevat die volgende:

  • 6 000 000 selle
  • 100 sweetkliere
  • 15 oliekliere
  • 5 000 gevoelsliggaampies
  • 200 pyn reseptore
  • 25 druk reseptore
  • 12 koud-sensitiewe reseptore
  • 2 hitte-sensitiewe reseptore

Met hierdie sensors in jou vel is jy in staat om selfs ’n veertjie wat sagweg op jou vel kom land waar te neem.

God kan net soos ons, ook sien en hoor en voel! Psalm 94:9: “Sou Hy wat vir ons ore gemaak, het self nie kan hoor nie? Sou Hy wat vir ons oë gemaak het, nie kan sien nie?” God is ’n lewende God. Dit is die mensgemaakte gode wat nie kan sien en hoor of voel nie. Daniël het vir Belsasar gesê (Daniël 5:23): “U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster, hout en klip geprys, gode wat nie kan sien nie en nie kan hoor nie en niks weet nie” (word ook vertaal met “wat nie kan voel nie”).

Die opgestane Christus was nie ’n denkbeeldige figuur nie. Hy was so werklik dat sy dissipels Hom kon sien, hoor en voel. Toe Jesus aan sy dissipels verskyn het, was hulle verskrik, want hulle het gedink dat hulle ’n spook sien. Hy het hulle toe oortuig dat Hy eg en werklik was. Hy het hulle toegelaat om aan hom te raak. Hy het gesê: “Kyk na my hande en my voete: Dit is tog Ek self. Voel aan my en kyk! ’n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” (Luk 24:39)

Johannes sê in 1 Johannes 1:1-3: “Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe …. Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

As jy die heerlike warm strale van God se son op jou voel skyn, dink aan sy goedheid. Dink aan die wonderlike wyse waarop Hy jou gemaak het sodat jy vreugde kan ervaar. Dink aan dit wat die Here Jesus vir jou gedoen het. Hy was bereid om sy vel te laat deurboor, om pyn te verduur, ja soos in die hel, sodat jy deel kan wees van die huisgesin van God.

As jy die wind van God oor jou voel waai, vra Hom om al jou sorge van jou af weg te waai. Vra Hom om sy Gees oor jou te laat waai en jou te vul met sy blydskap sy genesing en sy krag.

Ds Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui