Klag teen NG teoloog oor omstrede opinies

*******

Klag teen NG teoloog oor omstrede opinies | Beeld

Beeld, 29 Aug 2000

Neels Jackson

Wees bereid om te luister — Spangenberg

’n Amptelike klag is by die kerkraad van die NG gemeente Pierre van Ryneveld ingedien oor die sienings van prof. Sakkie Spangenberg oor die verskillende godsdienste en die “weg na saligheid”.

Spangenberg, ’n Ou-Testamentikus van Unisa en lidmaat van die gemeente, het onlangs gesê hy het probleme met die tradisionele sendingbenadering dat mense verlore is as hulle nie jou geloof deel nie, Hy het ook gevra of die verskillende godsdienste nie beskou moet word as deel van God se veelkleurige genade nie.

Dié standpunt het wyd kritiek ontlok, Hy is in briewe van Beeld-lesers onder meer daarvan beskuldig dat sy standpunt die breë stroom van relativisme volg en dat hy Jesus Christus verloën.

Ds. Henk van Rensburg van Pierre van Ryneveld het gister gesê die klag is gister-oggend ontvang en daar word nou gekyk na die prosedure wat gevolg moet word om dit te hanteer. Die kerkraad vergader weer op 10 September.

Dr. Anton Fick, senior predikant van die gemeente, het by navraag gesê dat die ringspredikante ook op 7 September ’n gesprek met Spangenberg voer. Hy het gesê by dié geleentheid wil hulle hoor hoe hy self sy standpunt stel.

Spangenberg het gesê hy het voorheen so ‘n gesprek met die ringspredikante gevoer oor sy siening van die Bybel en die vraag of Jona ‘n historiese figuur was.

Destyds het dit nie op enige tugstappe uitgeloop nie.

Oor sy jongste uitlatings het hy gesê dat hy baie reaksie gekry het. Party mense raas met hom en ander ondersteun hom. Wat veral opvallend was, is hoeveel ouer lidmate hom gebel het en gesê het hulle worstel lankal met dieseclfde kwessie, maar dat hulle nie die vrymoedigheid het om dit met ’n predikant te bespreek nie. Hy het gesê hy wil graag hê mense moet snap dat die teologie ook ‘n wetenskap is. Wat hy sê, is net gesprekke.

“Dis net die standpunt van ’n individu binne ‘n wetenskap.”

Dis ’n gesprek wat volgens Spangenberg lankal in die buiteland aan die gang is. In Suid-Afrika werk Christene en Moslems nou op grondvlak saam en mense moet respek vir mekaar en mekaar se geloof hê.

Die wyse waarop sendingwerk gedoen moet word, is deur dialoog — nie deur ’n benadering van “ek kom na jou toe met die waarheid nie”, maar met ’n houding van “ek kom ook Iuister”, het hy gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui