Boesak sê tronk tóé moeite werd; nou’s hy net vies

Kyk ook:

Die volgende artikel het oorspronklik in Beeld verskyn.

Interessant, die Belydenis van Belhar verwys in artikel 4 na Jakobus 5:1-6:

(1) En nou, julle rykaards, kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom.
(2) Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word,
(3) julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos ’n vuur. Julle maak skatte bymekaar, en dit terwyl dit die laaste dae is.
(4) Ja, julle hou die loon agter van die werkers wat julle lande afgeoes het. Dit skreeu ten hemel; die geroep van dié wat geoes het, het tot by die Here die Almagtige gekom.
(5) Hier op aarde lewe julle in weelde en oordaad; julle smul na hartelus, en dit terwyl die slagdag reeds daar is.6Julle veroordeel en vermoor die onskuldige en hy bied geen teenstand nie.

Soos hulle sê: “Practice what you preach…”

**********

Boesak sê tronk tóé moeite werd; nou’s hy net vies

Kaapstad. “Ek is nie bitter omdat ek tronk toe gaan nie. Ek is tereg kwaad,” het Allan Boesak gisteraand in ’n onderhoud oor e.tv gesê.

Boesak en sy vrou, Elna, het styf teenmekaar voor die kamera gesit en herhaaldelik hul trou aan mekaar verklaar. Mev. Boesak, in ’n swart snyerspakkie, het deurentyd haar man se hand saggies gevryf.

Boesak het gesê sy lewe het tot stilstand gekom. “Dit is verwoes. Met slegs ure oor voordat ek tronk toe gaan, gaan dit nie goed met my nie.

“In die apartheidsjare moes ons tronk toe gaan. Dit was die moeite werd. Nou gaan ek as ’n veroordeelde. Baie sal my selfs ’n misdadiger noem,” het hy gesê.

Mev. Boesak het gesê dié naweek was beslis die verskriklikste in haar lewe. “Ek het die afgelope drie dae meer trane gehuil as in my hele lewe. Ek kan my nie indink hoe ek soggens sal wakker word sonder Allan langs my nie. Wat nog te sê om saans sonder hom in die bed te klim.

“Aan die ander kant is daar ’n gevoel van vrede om my. Ek weet Allan is onskuldig,” het sy gesê.

Op die vraag oor hoe hy sy flambojante lewenstyl regverdig, het Boesak gesê dis nie die soort vraag wat ’n antwoord waardig is nie.

“Ek sal jou sê wat mense kwaad gemaak het. Hulle het gedink: ‘Kyk, hier is ’n Hotnot wat nie sy plek ken nie. Hy wil aantrek soos ons, eet soos ons en leef soos ons.’ Daar is vir my niks verkeerd mee om goed te wil lyk nie. Ek sal nie die straat afstap en soos ’n bergie lyk nie.

“Selfs môre sal ek nie in vuil jeans en ’n T-hemp tronk toe gaan nie. Ek sal gaan soos ek vanaand hier sit.” (In ’n netjiese pak klere.) “As dit mense pla, kan hulle hul psigiaters gaan spreek.”

Boesak wou weet hoekom dieselfde ophef nie gemaak is nie van ministersteun (mnr. Ngconde Balfour, minister van sport) aan Hansie Cronjé ná aantygings van wedstrydknoeiery teen hom nie, terwyl die steun aan hom van die ANC soveel opslae veroorsaak het.

Intussen het Boesak se kinders gesê hulle glo onwrikbaar en onvoorwaardelik aan sy onskuld.

Suid-Afrika moet hom nie vergeet wanneer die tronkdeure agter hom toegaan nie, het mnr. Allan Boesak jr., sy seun uit sy eerste huwelik, gister bewoë op ’n nuuskonferensie gesê.

Boesak jr. het gepraat namens sy broers en susters Lineke, Belen, Pulane, John, Sarah-Lien en Andre-Renee.

Van die kinders en mev. Boesak wat weerskante van Boesak by ’n tafel gesit het, het trane teruggesluk.

Boesak jr. het gesê talle mense bewonder steeds dié vegter en leier se moed en integriteit.

“Hy het geveg om ons vryheid. Dié man, wat vir drie jaar tronk toe gestuur word, het alles vir die volk opgeoffer. Suid-Afrika moet onthou: terwyl dié man met elf eregrade en verskeie menseregtetoekennings in die tronk gaan sit, loop die meeste aanvoerders van apartheid en moordenaars van ons kinders vry rond.

“Nie net hy het opgeoffer nie ons kinders het ook. Ons moes jare lank met ’n afwesige pa lewe.

“Ons smeek nie om vrywaring nie en veroordeel nie die howe nie. Ons vra net dat u sal onthou,” het Boesak jr. gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui