Bevrydingsteologie ‘moet verwerp word’

Kyk ook:

Die volgende artikel het oorspronklik in Beeld verskyn.

**********

Bevrydingsteologie ‘moet verwerp word’

Amanda Coetzee

1994-03-31

DR. ISAK BURGER, president van die enkelafdeling van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika (AGS), het ’n beroep gedoen op die saamgestelde deel van die Kerk om die bevrydingsteologie, die gelykheid van alle godsdienste en die Marxisme te verwerp. Hy het eergister op die jaarlikse vergadering van die werkersraad van die AGS in Johannesburg gesê dié standpunte is nie onderhandelbaar nie. “Selfs iets so belangrik soos kerkeenheid kan nie ten koste van die waarheid deurgevoer word nie.”

Dr. Burger het verwys na die strewe na kerkeenheid van die saamgestelde afdeling en die enkel afdeling van die AGS. Eerw. Frank Chikane, hoof van die saamgestelde afdeling (wat bruin, swart en Indiër-gemeentes insluit), het onlangs ’n beroep op die (blanke) enkelafdeling gedoen om hom by die res aan te sluit. Dr. Burger het gesê as lede nie bereid is om bogenoemde beginsels te verwerp nie, moet hulle die enkelafdeling nooit weer daarvan beskuldig dat apartheid en rassisme die rede is vir die mislukking van kerkeenheid nie.

“Ons is bewus daarvan dat lidmate versprei is oor die wye spektrum van politieke partye. Die Kerk mag nie aan sy lidmate voorskryf dat hulle moet stem of vir wie hulle moet stem nie.

“Wat ons wel sê, is dat lidmate hulself daarvan moet vergewis in watter mate die politieke party van hul keuse basiese Christelike beginsels respekteer.”

Die meeste ampsdraers van die Kerk is in hul posisies herkies. Dr. Burger is herkies as president, prof. Jan Hattingh as vise- president en dr. Jan Langerman as hoofsekretaris van die AGS. Pastoor Peter de Witt is verkies tot hooftesourier.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui