Protes was vreedsaam, ordelik

*******

Protes was vreedsaam, ordelik | Beeld

9 September 1993

D.T. CLAASSEN, Ronelstraat 186, Doringkloof, Verwoerdburg, skryf:

PROF. JULIAN MULLER se reaksie op Christene se protes teen die godslasterlike rolprent The Last temptation of Christ is ontstellend.

Die protes was absoluut vreedsaam en ordelik. Dit is jammer dat prof. Müller die barbaarse optrede van politici tydens die besetting van die World Trade Centre hiermee probeer gelykstel.

Hoekom hoor ons so min ontsteltenis van teoloë se kant jeens die gruwelrolprent? Hoekom was prof. Müller nie ook daar om die eer en Naam van die Heiland te verdedig nie? God sê immers dat Hy iemand wat sy Naam ydelik gebruik, nie ongestraf sal laat bly nie.

Jesus Christus self het sy Vader se huis met ‘n sweep gereinig van diegene wat dit wou onteer.

Moderne teoloë wil die Christelike liefde en passifisme gelykstel. Optredes word beoordeel aan die hand daarvan of dit aanstoot gee of nie. U moet besef dat Christus en sy Evangelie die grootste steen des aanstoots van alle tye is.

Baie dankie dat Beeld ook bereid was om die saak te stel van die Christene wat aan die protes deelgeneem het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui