Besluit oor gays ‘soos apartheid’

Kyk ook:

Besluit oor gays ‘soos apartheid’ | Volksblad

Algemene sinode ‘sondig’, sê ring

Volksblad, 27 Oktober 2015, Pieter Steyn

JOHANNESBURG. – Net soos die kerk 40 jaar lank apartheid verkeerdelik uit die Bybel geregverdig het, omdat dit regeringsbeleid was, so regverdig die kerk nou verkeerdelik gay-verbintenisse.

Só lui ’n besluit van die ringskommissie van Louis Trichardt oor die algemene sinode van die NG Kerk se besluit dat gays dieselfde voorregte mag geniet as heteroseksuele lidmate.

Die ring, wat uit sewe gemeentes in Limpopo bestaan, sê die besluit dat kerkrade mag besluit wat vir een sonde is en vir ander gehoorsaamheid, asook dat die algemene sinode nie opgetree het in die gemeenskaplike belang van die NG Kerk (in geheel) nie, het “in effek die sinodale verband met die NG Kerk verbreek”.

Die ringskommissie sê voorts hulle sal aanbeveel dat alle finansiële bydraes na die algemene sinode gestaak moet word, sou die noordelike sinode nie die besluit van die algemene sinode, wat “sondig” is, “aanspreek en opklaar” nie.

Intussen het die Oranje valleigemeente in die Noord-Kaap’ n buitengewone sitting van die ring van Upington versoek om uiteindelik ’n buitengewone sinode in die Noord-Kaap te versoek om die besluit van die algemene sinode te bespreek.

Ds. Gert Barnard, leraar van Oranjevallei, sê benewens sy kerkraad en gemeente se ontevredenheid oor die gay-besluit, is hulle ook ontevrede oor die besluit van die algemene sinode dat die sinode van die Wes-en SuidKaap hul belydenis grondslag kan verruim om Belhar as belydenisskrifte aanvaar.

“Op die sinode van die NoordKaap verlede jaar het die sinode besluit dat enige kerk wat Belhar as belydenis aanvaar, word ’n ander kerk buite die NG Kerk. Die algemene sinode het met sy besluit effektief gesê ons steur ons nie aan die Noord-Kaap nie.”

Ds. Bootje Booysen, voorsitter van die ring van Upington, het gesê hy het die versoek om ’n buitengewone ringsitting ontvang en daar sal vroeg in November ’n sitting wees.

“Ons sal praat en besluit of ons ’n buitengewone sitting van die Noord-Kaapse sinode gaan aanvra, aangesien die gewone sinode vroeg in Oktober gaan sit. Sinodes is duur.”

Die sinode van die Wes-Transvaal hou reeds op 19 November ’n buitengewone sitting.

Ds. Nico van Rensburg, predikant van sinodale bedieninge van dié sinode, sê die sinode word nie geroep om te besluit om weg te breek van die sinodale verband met die algemene sinode nie, maar dat dit moontlik is dat so ’n besluit geneem kan word.

“Ons het die sinode geroep sodat ons as familie in die WesTransvaal daaroor kan besin. Ons kan nie ’n besluit neem oor die algemene sinode se besluit nie.”

In die Vrystaat het die moderator van die Vrystaatse sinode, ds. Helgard Janse van Rensburg, gesê hy het versoeke ontvang van kerkrade om ’n buitegewone sinode. In die Vrystaat moet minstens vyf gemeentes uit vyf verskillende ringe ’n gemotiveerde versoek om ’n buitengewone sinode rig.

“Ek kan nie sê hoeveel versoeke ek ontvang het nie, maar dis nog nie genoeg om ’n buitengewone sinode byeen te roep nie.”

Die Vrystaat se volgende gewone sinode is eers in 2017.

Dr. Dawie Botes, leraar van die Vrede-Wes-gemeente, wat hom vroeër sterk uitgespreek het teen die besluit oor gays, het gesê hy is in kontak met verskeie leraars en kerkraadslede van oor die Vrystaat heen en glo daar sal meer as genoeg versoeke vir ’n buitengewone Vrystaatse sinode wees.

Ek het versoeke ontvang van kerkrade om ’n buitengewone sinode. — DS. HELGARD JANSE VAN RENSBURG, MODERATOR, VRYSTAATSE SINODE

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui