ASM aanvaar uitslag van stemming

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Kerkbode verskyn.

*********

ASM aanvaar uitslag van stemming

Die Moderamen van die Algemene Sinode het die uitslag van die kerk se stemming oor die voorgestelde Artikel 1 van die Kerkorde aanvaar en daarmee saam bevestig dat die belydenisgrondslag van die NG Kerk sal bly soos dit is.

Dit word ook so as aanbeveling aan die Algemene Sinode deurgegee.

Die finale uitslag van die stemming was vir die eerste keer beskikbaar, nadat die Sinode van KwaZulu-Natal onlangs met ’n meerderheid ten gunste van die voorgestelde artikel gestem het, maar nie die vereiste meerderheid van twee derdes kon behaal nie.

Die persentasie ja-stemme by die onderskeie sinodes vir die voorgestelde wysiging is in afnemende orde:

  • Wes-en-Suid-Kaapland – 73,3%
  • Oostelike Sinode – 73,2%
  • Oos-Kaapland – 70%
  • Namibië – 58%
  • KwaZulu-Natal – 52%
  • Hoëveld – 50,9%
  • Noordelike Sinode – 49%
  • Wes-Transvaal – 42,6%
  • Noord-Kaapland – 33,9%
  • Vrystaat – 32%.

In die gemeentelike stemmings het 341 gemeentes (of 32,5% van al die gemeentes) die beoogde wysiging met die vereiste meerderheid van twee derdes gesteun.

’n Ontleding van die uitslae toon dat drie sinodes die wysiging met ’n meerderheid van twee derdes gesteun het. Nog drie het die voorstel met ’n meerderheid gesteun, maar kon nie ’n meerderheid van twee derdes behaal nie. Vier sinodes het die voorstel met ’n meerderheid van stemme verwerp, waarvan een dit met ’n meerderheid van twee derdes gedoen het.

Slegs 17,2% van die aantal belydende lidmate het deelgeneem aan die stemmings in hul gemeentes. Van hulle het die meerderheid (77 055 of 10,1%) van die stemgeregtigdes die voorstel verwerp, terwyl 53 441 (of 7,0% van die stemgeregtigdes) dit gesteun het.

Dr Bertus Koorts van die Hoëveldsinode het aan die ASM gesê ’n mens kan eintlik niks met hierdie syfers bewys nie. Dit is eintlik net tien steekproewe wat te klein is om enigiets mee te staaf.

Die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland se versoek om toegelaat te word om as sinode die Belydenis van Belhar deel van hul belydenisgrondslag te maak, sal voor die Algemene Sinode dien.

Ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van Wes en-Suid-Kaapland, het aan die ASM gesê daar is ’n sterk gevoel in hulle sinode dat hulle Belhar deel van die kerk se belydenisgrondslag wil maak.

Terselfdertyd wil hulle deel bly van die verband van die NG Kerk. Daar is by hulle geen begeerte om dié verband te verbreek nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui