Gaygesprek weer op NG Kerk se agenda

Kyk ook:

Gaygesprek weer op NG Kerk se agenda | Kerkbode

13 Februarie 2013

Jean Oosthuizen

KAAPSTAD. – Die gesprek oor gay persone se legitimasie en die kerk se standpunt oor die verbintenis tussen persone van dieselfde geslag, gaan binnekort weer op sinodale vlak bespreek word.

Die voorsitter van Wes-en-Suid-Kaapland se moderamen, dr Braam Hanekom, het op navraag aan Kerkbode bevestig dat die saak tans weer onder bespreking is. “Dit sal egter voortydig wees om nou, voor ons moderamenvergadering, enige kommentaar te lewer,” het dr Hanekom gesê.

Die aandrang om die gesprek oor homoseksualiteit weer op die kerk se agenda te plaas, volg ná gesprekke wat ’n aantal betrokkenes die afgelope tyd met kerkleiers gehad het. Dit sluit ’n gesprek in wat vroeg verlede jaar met Wes-Kaapse kerkleiers in Kaapstad gevoer is deur onder andere die ouers van gay kinders asook gay proponente.

’n Brief waarin ’n aantal lidmate vra dat die aangeleentheid oor homoseksuele lidmate se plek in die kerk weer op die hoogste vlak aandag moet geniet, sou na verwagting ook dié week tydens Wes-en-Suid-Kaapland se moderamenvergadering bespreek word.

Die opstellers van die brief wou nie oor die inhoud daarvan uitbrei voordat dit nie deur die moderamen bespreek is nie.

Dr André Bartlett, wat deel was van die NG Kerk se vorige taakspan oor homoseksualiteit, sê dit is belangrik dat daar gefokus word op die regstelling van die posisie van gelegitimeerde gay persone in die NG Kerk. “Dit is die één saak wat na die 2007-besluite van die Algemene Sinode nog op my gewete lê,” het dr Bartlett aan Kerkbode gesê. “Die besluit van die Algemene Sinode van 2007 oor gelegitimeerdes was ’n kompromis waartoe ons ingestem het om die erkenning van die volle lidmaatskapsvoorregte van gay persone oor die algemeen goedgekeur te kry – met begrip dat die posisie van gelegitimeerdes op die langtermyn onhoudbaar sou word en dus deur die kerk hanteer sal moet word.”

’n Pastorale terapeut van Pretoria, me Marietjie van Loggerenberg, wat tans besig is met haar PhD-studie oor gay studente wat nie gelegitimeer kon word nie, sê dit is belangrik dat die saak weer op die kerk se agenda geplaas word.
“Ek gesels byna elke dag in my praktyk met die ouers van gay kinders,” sê sy. “Telkens kom ek weer onder die besef van hoe moeilik dit vir dié mense is om die saak te hanteer. Nie net vir die gay persone self nie, maar vir die hele familie. Sosiale en godsdienstige diskoerse oor gaywees maak hulle kortasem.”

Die Algemene Sekretaris van die NG Kerk se Algemene Sinode, dr Kobus Gerber, het aan Kerkbode gesê die moderamen het kennis geneem van Wes-en-Suid-Kaapland se versoek dat die gaykwessie weer op die Algemene Sinode se agenda geplaas moet word. Dr Gerber sê hy hoop die gesprek oor homoseksualiteit sal binne die raamwerk van die kerk se gesprek oor menswaardigheid geskied.

jean@tydskrifte.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui