NG teoloë frons oor student se aanval op hul ‘opstandingsdwalings’

Kyk ook:

*******

NG teoloë frons oor student se aanval op hul ‘opstandingsdwalings’ | Die Burger

NG teoloë frons oor student se aanval op hul ‘opstandingsdwalings’

Johannes de Villiers

Die Burger, 25 Junie 2025

KAAPSTAD. ’n Protesbrief wat deur’n vierdejaar-teologiestudent van die Universiteit van Pretoria (UP) versprei word en waarin hy dosente en ander vooraanstaande teoloë aanval oor hul beskouing van Jesus se opstanding, het tot ’n vlaag van verontwaardiging onder NG teoloë gelei.

In dié brief, opgestel deur mnr. Ferdie Mulder, beweer hy dat 46 van sy klasmaats dit onderteken het, hoewel dosente aan dié fakulteit ontken dat dit die geval is.

Die brief bevat ’n aantal idees oor die opstanding waarvan Mulder en sy mede-ondertekenaars hulle distansieer. By elke “dwaalleer” word die naam genoem van ’n teoloog wat volgens hulle dié gedagte verkondig.

Dit lui: “Ons wil verskil van beskouings wat meen dat Jesus se opstanding nie histories-letterlik en liggaamlik plaasgevind het nie. Sulke teorieë behels onder meer dat Jesus se opstanding moontlik ‘figuurlik’ (prof. Julian Müller), ‘metafories’ (Müller), ‘nie letterlik’ (Müller), ‘mitologies’ (prof. Dirk Human), ‘simbolies’ (dr. Ben du Toit), ’n pre-moderne ‘wêreldbeeld’ (prof. Jurie le Roux), en nie van ‘historiese belang’ is nie (dr. Louis Jonker).”

Muller, Human en Le Roux is verbonde aan Tukkies se teologie-fakulteit, Jonker is ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch en Du Toit is die kommunikasiehoof van die Wes-en-Suid-Kaapse sinode.

Onderaan die brief verskyn ook die name van 46 studente wat na bewering die brief onderteken het.

Dr. Flip du Toit, skriba van die kuratorium in Pretoria, het egter gister gesê talle van die 46 studente wie se name ingesluit is, ontken skriftelik dat hulle ooit die brief onderteken het.

Ander studente het glo aan hom gesê hulle is bloot gevra of hulle in die histo- riese opstanding van Jesus glo. Hul name is glo ingesluit indien hulle ja geantwoord het.

“Hierdie brief is baie oneerlik,” het prof. Cas Vos, dekaan van die fakulteit teologie, gister gesê. “Die studente wie se name deur Mulder ingesluit is, is baie ontsteld daaroor.”

Dr. Ben du Toit, een van die teoloë wat in die brief genoem word, het gesê dit is “absolute nonsens” dat hy ooit die historiese opstanding van Jesus ontken het.

“Mulder beweer ook in sy briewe hy het broederlike gesprekke met die betrokke teoloë gevoer voordat hy die protesbrief geskryf het — en dit terwyl ek nog nooit een van daardie studente ontmoet het nie. Hierdie veldtog is wat my betref ’n leuenagtige projek.”

Die UP se fakulteit teologie het ook ’n verklaring uitgereik om te bevestig dat hy die Bybel as Woord van God beskou en dat Jesus op die derde dag opgestaan het uit die dood.

Mulder self kon nie gister op sy selfoon bereik word nie.

Een ondersteuner het wel opgeduik in ’n e-kletskamer van die Kerkbode, waar iemand onder die opskrif “Kom ons ondersteun die heldhaftige Tukkiestudente!” geskryf het: “Kom ons ondersteun hierdie heldhaftige Tukkiestudente wat met hierdie klag probeer stry teen die wolwe wat in skaapsklere ons toekomstige predikante oplei.”

jdevillie@dieburger.com

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui