Ek het ’n geoloog-vriend (wie se naam ek verswyg, terwille van die professor waarna hy verwys) wat ook ’n skeppingsleerder (kreasionis) is. Hy het my die volgende vertel:
Op universiteit het hulle ’n professor gehad wat baie entoesiasties was oor evolusie (hy was ’n Christen en ook ’n diaken in sy kerk). Dit het bygedra dat hy self ook geglo het dat God op ’n manier evolusie gebruik het om te skep.
Op ’n stadium het my vriend en sy professor saam in die kar gery op ’n veldbesoek toe hulle aan die gesels geraak het oor skepping en evolusie. Beide het gevoel dat dit baie jammer is dat daar soveel oningeligte Christene is wat blindelings die Bybel glo en dink dat evolusie ’n mite is. Beide het gespot en gesê dat hulle gunsteling vers in die Bybel Hosea 4:6a is: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis;”.
Later is my vriend egter meer blootgestel aan skeppingsinligting, onder andere Kent Hovind se bekende 7 gratis DVD’s en natuurlik www.creation.com. Mettertyd het hy ’n bekeerde skeppingsleerder geword wat aan ’n 6-dagse skepping glo en glo dat die sondvloed hoofsaaklik verantwoordelik was vir die geologiese verskynsels vandag.
Hy besluit toe dat hy tog vir sy professor moes gaan vertel wat in sy lewe gebeur het. Hy maak toe ’n afspraak by sy ou professor en sê dat daar iets in sy lewe gebeur het en vertel hoe hy ’n skeppingsleerder geword het. Toe hy klaar vertel het, glimlag sy professor en sê dat daar ook iets in sy lewe gebeur het: soos hy hier sit, is hy nou ’n ateïs. Hy het evolusie verder geneem en besluit dat die idee van ’n god ook maar ’n evolusionêre proses ondergaan het – dat God in effek uitgedink is deur mense self en dat mense met die jare hulle godsbegrip ontwikkel het. Godsdiens het dus geëvolueer.
Hierdie is net weereens ’n voorbeeld waar evolusie veroorsaak het dat iemand sy geloof verloor het.