“Die kerk moet ruggraat hê” en Jean se kommentaar

Kyk ook:

Die artikel “Die kerk moet ruggraat hê” het in Juig! verskyn wat Jean Oosthuizen se artikel Dis NGK se eie beleid wat nou terugkaats kritiseer.

Daarna het Jean Oosthuizen op sy Facebookblad hierop kommentaar gelewer. Daar word heelwat interessanthede genoem in hierdie gesprek:

  • Jean sien Stefan Joubert as ’n vooraanstaande NG teoloog (dit sê iets oor Stefan se teologie…). Jean bevraagteken ook waar sy sentimente lê. (Ek sou ook graag wou weet.)
  • Jean lig ook uit dat die NG Kerk nie ruggraat het nie en op twee stoele probeer sit.
  • Die NG Kerk leierskap het geskrik vir die boek Die Trojaanse perd in die NG kerk. Die boek het ook baie probleme vir Gerhard Bothma veroorsaak.
  • Volgens Jean bring die konserwatiewe lidmate van die NG Kerk die geld in vir die kerk en daarom wil die leierskap nie hierdie lidmate van die kerk vervreem nie. Dit is die rede hoekom die kerk op twee stoele probeer sit.

************

Die kerk moet ruggraat hê

Juig!, Junie 2015

“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die Hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die Hemel is…Dan sal Ek openlik vir hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die Wet van God oortree.’ “ Matteus 7:21

Jean Oosthuizen skryf onlangs in Rapport oor die verdeeldheid binne die NG Kerk oor die Belharbelydenis. Hierdie artikel is nie net vir NG Kerk-lidmate van belang nie, maar vir Christene oor alle denominasies heen omdat hierdie tipe sienings in ’n wye spektrum denominasies geopper word. Van die Anglikaanse Kerk (dink maar aan die biskop Gene Robinson) tot in Evangeliese megakerke (Rob Bell – daar is geen hel).

Dit poog om ’n aangepaste en afgewaterde Christenskap in te dwing wat by humanistiese wêreldbeskouings aanklank vind en wat wegbeweeg van God se Woord as riglyn. Hier is van ons lesers se menings.

Skrifgesag nog belangrik vir lidmate

Met die titel wil Jean Oosthuizen voorgee dat die NGK se konserwatiewe beleid die kerk se ondergang veroorsaak. Volgens hom is die verdeeldheid in die NGK oor Belhar slegs die oortjies van die seekoei. Hy sê: “Die teenkanting wat die NG Kerk nou van sy eie lidmate kry, is grootliks die gevolg van die politieke en teologiese hongerdieet wat die kerk sy lidmate self oor dekades heen gevoer het.” Met “teologiese hongerdieet” verwys Jean na die feit dat die kerk so sukkel om lidmate te laat afsien van hulle konserwatiewe idees, om lidmate te oortuig dat evolusie waar is, dat daar nie ’n sondeval was nie, en dat saamwoon nie sonde is nie, dat ons nie met sekerheid kan sê dat die Christene die enigstes is wat reg is nie, ens.

Met Jean se sogenaamde teologiese hongerdieet het ek ’n baie groot probleem. Die NGK was deur baie jare heen skriftuurlik korrek. Die pro-bleme het egter ontstaan toe die NG Kerk die gesag van die Skrif begin bevraagteken het en van die waarheid begin afwyk het. Dit is hoekom daar soveel verdeeldheid in die NG Kerk is. Jare lank probeer verskillende kerkleiers dwaalleringe by die kerk insleep. Lidmate volg egter nie meer ons kerkleiers slaafs na nie. Hulle lees ook wat in die Bybel staan en kan vir hulleself dink. As daar verdeeldheid in die NG Kerk is, is dit omdat Skrifgesag nog vir lidmate belangrik is.

As ’n mens na Jean (en andere) se teologie kyk, beteken dit niks anders as om meer wêrelds te word nie. Dit is teenstrydig met Romeine 12:2: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Daar is net een rede hoekom die NGK irrelevant sal word en dit is wanneer die kerk aan “hierdie sondige wêreld gelyk word”. –Daniel Louw

Aanpas of sterf

“Die NG Kerk moet aanpas of sterf” het ’n geykte term by sekere mense geword. Daar is net een sinvolle aanpassing vir die kerk: Terug na God en Sy Woord! Verkondig die Evangelie vreesloos. Pas die Bybelse tug toe op dwaalleraars. Hou op om herhaaldelik te ‘ondersoek’ hoe die Bybel geplooi kan word om by die wêreld se sieninge aan te pas. Eers dan kan die kerk hoop om nuwe lewe te kry en geloofwaardigheid te herwin.

Die gejaag na strukturele eenheid (wat nêrens in die Bybel bepleit word nie) beduiwel geloofs-eenheid. Vat mekaar se hande oor watter ‘grense’ ook al heen, sonder om mekaar se vasgelegde verskille in aanbiddingsbehoeftes, kultuur, taal en/of volkseie te probeer ophef. Ondersteun mekaar se leringe, projekte en pogings om die Evangelie suiwer te verkondig en uit te leef. Strukturele eenheid impliseer dat enigiemand wat ’n lidmaat wil word van sodanige “verenigde” kerkverband, sy gemelde “eie goedere” moet prysgee.

Ja, die NG Kerk sal inderdaad moet aanpas, maar dan in ’n totaal ander rigting as wat Jean Oosthuizen, Nelus Niemandt, e.a. bedoel. Hulle bedoel dat die NG Kerk eintlik sy pogings om soos die wêreld te lyk, moet versnel. En dan sal die kerk rêrig sterwe. – Gideon Aggenbag

Watter koers sal aanneemlik wees?

Jean Oosthuizen sing dieselfde deuntjie as wat hy ’n paar jaar gelede vir Charles Leonard gesing het. Dit het aanleiding gegee tot ’n artikel in die Mail and Guardian, ‘The slow and steady death of the Dutch Reformed Church’, met die woorde “The DR Church’s last gasps” op die voorblad. “Dit kan selfs nuwe lewe tot gevolg hê as hy openlik erken hy was verkeerd oor bepaalde sake en ’n nuwe koers inslaan,” skryf Oosthuizen.

Dit klink asof “aanpassing/koersverandering” een van die sleutelkwessies vir hom is. ’n Mens wonder watter koers aanneemlik gaan wees, want Oosthuizen maak geen geheim daarvan dat hy Adam en Eva en die sondeval verwerp nie en spottend verwys na die “pratende slang”. Hy praat graag minagtend van kreasioniste. By een geleentheid het hy geskryf: “…’n soektog na die oorblyfsels van Noag se ark is so goed soos om na Hansie en Grietjie se hok te gaan soek.”

Gewone lidmate het duidelik laat blyk hoe hulle voel deur briewe aan die pers, op sosiale media en op een vergadering na die ander, maar die leiers wat die Belharkwessie wou deurdruk, het hulle doof gehou. Die kerkleiers wat die hele Belharproses aan die gang gesit het, het hul hande oorspeel en was duidelik uit voeling met gewone lidmate.

’n Mens hoop dat hulle tot besinning gebring is deur die uitslae tot dusver, maar tussen die reëls gelees, lyk dit asof die hui-dige leierskap vasbeslote is om Belhar deurgevoer te kry al bars die bottel en al buig die fles. –Dr. Henrietta Klaasing

Manipulering van statistieke

Die opskrif van ’n Netwerk 24-berig, “Wes- en Suid-Kaap se gemeentes sê ‘ja’ vir ’n Belharwysiging” is nie feitelik korrek nie. Hoewel 56% van die gemeentes “ja” gestem het, vereis die kerkordelike bepalinge dat daar ’n twee derde-meerderheid moet wees om as ’n “ja”-stem te kwalifiseer.

Die gemeentes van Wes-en Suid-Kaap het dus in werklikheid “nee” vir Belhar gestem. Daarbenewens was die stempersentasie slegs 15%, wat beteken dat 85% van die lidmate in die sinodale gebied nie sterk genoeg oor Belhar gevoel het om aan die stemming deel te neem nie. In die moderator, dr. Braam Hanekom, se gemeente het slegs 603 van die gemeente se 4 181 lidmate gestem. Sy interpretasie, dat net 5% van die lidmate in die Wes-en Suid-Kaap “nee” gestem het, is dus onbegryplik.

Sy opmerkings oor die uitslag is ’n doelbewuste poging om aan die stemming ’n positiewe interpretasie te gee om die verleentheid van die uitslag te verbloem. Hy redeneer dat die Wes- en Suid-Kaap 25% van alle lidmate van die NG Kerk verteenwoordig. Daarmee word blykbaar voorgegee dat die grootste deel van die lidmate eintlik “ja” gestem het.

So naïef is die lidmate van die kerk nie om sulke manipulering van statistieke te glo nie. –Prof. Johan Janse van Rensburg

WIE IS GOD – GOD, OF EK?

Dit is tragies as die mens homself tot die middelpunt van die heelal verhef – en dit onder die dekmantel van godsdiens.

  • Enige denominasie, sóós die NG Kerk, is nie die Kerk nie! Die Kerk is mense, God se mense – die Ekklesia
  • Daar is één ware Evangelie, en dit is die Evangelie van Jesus Christus: Bekeer julle, want die koninkryk van die Hemele het naby gekom
  • ’n ryk, ’n Koning, onderdane volgens die wil van die Koning

Niemand kan dit ingaan, tensy hy van Bo geestelik verwek is nie, want dit is ’n geestelike koninkryk. God openbaar Hom deur die Bybel. Maar die Bybel moet deur mense geïnterpreteer word. ’n Veranderende wêreld bepaal egter nie Wie God is nie. Wat God gespreek het, was; en wat Hy gebied het, staan. Ons praat nie oor hoede dra, of sit of staan of Sondagsport nie. Die vraag is: Wie is god – God, of ek? Die mens het gerebelleer en ónafhanklik geword. Sonde is die simptoom van die sondaar. Sonde is daardie ingesteldheid wat sê: Dit is my reg. Ek sal die reg op myself nie prysgee nie! Ek is god.

“Onse Vader wat in die hemele is, laat U Naam geheilig word; laat U koninkryk kom; laat U wil geskied, soos in die Hemel net so ook op die aarde.” Wanneer God se wil hier op aarde geskied, kom Sy koninkryk hier op aarde, en Sy koninkryk is binne-in Sy ekklesia – in hulle wat geesvervuld lewe. –Hendrik de Bruto

Die tyd het aangebreek vir die Kerk om in eenheid vir die Waarheid standpunt in te neem.

**************

Jean se reaksie op Facebook

Jean het soos volg gereageer op Facebook:

Jean Oosthuizen

10 Junie om 09:47 NM.

Ek weet nie of mens gevly of gebelgd moet voel as ʼn sektariese tydskrif soos Juig ʼn hele redakteursbrief aan mens wy nie.

As daar nou een tydskrif in die land is wat ʼn verleentheid vir enige gelowige behoort te wees dan is dit Juig. Dit suig behoorlik. Dat vooraanstaande NG teoloë soos Stefan Joubert ʼn gereelde bydraer tot daardie smetterige blad is laat mens wonder waar lê so iemand se sentimente regtig.

En dat die NG Kerk wat gereeld as ketter deur hulle afgemaak word nie die moed het om hulle skewe teologie in die openbaar te repudieer nie, sê ook iets van die kerk self. In elk geval moet ek Juig se redakteur ter ere toegee, sy is nogal op hoogte van wat ek skryf. Ek wonder of die vrou nie dalk heimlik ʼn ogie op my het nie en of sy net niks beter het om te doen nie.

In die uitgawe net voor hierdie een waarin die redakteur my naam so ydellik gebruik moes ons byvoorbeeld weer lees evolusie is sommer bog om maar net een voorbeeld te noem. Ag nou ja, ten minste word ek en die NG Kerk die slag ewe veel sleggesê in Juig se gesuig. Die redakteur is darem oor een ding reg: die kerk moet ruggraat hê.

Erna Claassens

Het nie die artikel gelees nie, maar jou repliek HIER prikkel nogal my lagspiere.

10 Junie om 10:04 NM

Hennie Pienaar

As die lewe en die Bybel so swart en wit was soos die persoon in die artikel voorgee, sou dit darem lekker wees, en ja, inderdaad, sou ’n artikel soos hier geskryf is, nie bestaan het nie.

Word wakker skrywer en ruik die lelies.

10 Junie om 10:07 NM

Gerhard Bothma

Jy moet jou naam as handelsmerk registreer.

10 Junie om 10:07 NM.

Lizette Angelique Wilson

Lekker lag ek nou so net voor slapenstyd! Kom daarvan as mens ’n ‘celebrity’ is!

10 Junie om 10:16 NM.

Chris Kleynhans

Hehehehe, enige publisiteit is goeie publisiteit. Ek wed jou tonne mense het ’n ogie op jou bladsy kom gooi…..Ek vermoed hulle gaan soveel tyd aan jou spandeer met die oordeelsdag dat ek dalk agter jou rug verby in kan sluip…

10 Junie om 10:25 NM.

Schalk van Wyk

Het ook die artikel gelees. Ek sien hulle haal ook vir Gideon Aggenbag aan. Nou ja, dit sê baie vir hulle verstokte denke. Ek stem saam oor die kritiek teenoor Braam Hanekom.

Die res natuurlik suiwer snert! Hoe vermetel om na die bybel as die enigste bron van die waarheid te verwys. Is al die ander gelowe nou “onwaar”? Religie het die mensdom nog nooit ń guns bewys nie! Die teendeel is inderdaad waar!

Jean, ek dink jy moet die katjie van jou lyf af hou. Sy lyk vir my gevaarlik dillusioneel en obsessief! Moet ek jou herhinner aan die fliek “Fatal Attraction”?

10 Junie om 10:29 NM.

Jean Oosthuizen

As mens daai briewe lees en kyk wie dit geskryf het moet jy sowaar kêns wees as jy nie aan evolusie glo nie. Dis almal ’n klomp dinosourusse en fosiele wat wissel van ou oom Gideon Aggenbag, ou ant Hetta Klaagster en daai fundamentalistiese Daniel Louw karakter wat so godsdienstig regs is dat g’n mens met selfrespek naby hom gesien wil word nie. Dieselfde ou gonsgroepie wat die boekie die Trojaanse perd in die kerk geskryf het en vir wie die NG Kerk hulle poepkoud geskrik het toe ek nog by die bode was. Ek het regtig min simpatie met die kerk as hulle nou met die spul opgeskeep sit. Dis wat kom as mens op twee stoele wil sit.

10 Junie om 10:32 NM.

Leon Nell

Evolusie is bog? Juig suig! Gaan kruip in die Karoo rond vir fossiele wat 251 miljoen jaar oud is, en as jy ’n luigat is, ry vd Kaap na die Weskus Fossielpark naby Saldanha, waar hope van hulle vergader lê aan ’n oerrivier wat eers die Bergrivier was…

10 Junie om 10:47 NM.

Willem Van Der Merwe

Jy is ’n star, bra! smile emoticon

10 Junie om 10:47 NM.

Hannes Cloete

Gits! Ek sal voortaan die “Gay Pages” of “Weg” moet bemark deur dit bo-op elke Suig Tydskrif te plaas. Eintlik verkoop “Suig” hoofsaaklik net deur hul oulike voorbladfoto’s van blanke afrikaanse sangers or Rugbyspelers – natuurlik mét die pragtige kinders by *sug*

10 Junie om 10:54 NM.

Leon Nell

Het vergeet om te sê die fossiele naby Saldanha is “new kids on the block” wat net 5.2 miljoen jaar oud is.

10 Junie om 10:54 NM.

Gerhard Pietersen

Hel nee, jy pop nou oral uit

10 Junie om 10:55 NM.

Jean Oosthuizen

Jy is verkeerd Hannes. Hulle het al ’n prentjie van Liewe Jesus ook op die voorblad gehad. Dit was ’n scoop want net hulle weet hoe hy gelyk het. Toevallig ook lelieblank en toe ook glad g’n Jood soos wat ons wysgemaak is nie.

10 Junie om 10:56 NM.

Willem Van Der Merwe

Ek is so bly ek is vriende met iemand soos jy

10 Junie om 10:58 NM.

Audrey Potgieter-Thom

Gideon Aggenbag….haal hy nog wragtag asem? Wonder waar Stefaan is…..?

10 Junie om 11:02 NM.

Audrey Potgieter-Thom

….hehehehe! Bekeer julle broers…..ánders…..

10 Junie om 11:05 NM.

Jean Oosthuizen

Willem ek is weer bly ek kan met ’n befaamde kunstenaar soos jy vriende wees. Dis tyd dat ek weer na jou loop luister want jy rock!

{Jean Oosthuizen se foto.}

10 Junie om 11:12 NM.

Francois Lötter

Ek gaan saam, Jean

10 Junie om 11:54 NM.

Barend van der Merwe

Juig is nog altyd ’n reaksionere tydskrif. Het al ’n futiele korrespondensie met hulle redaksie gevoer jare gelede. Ek het noudiedag weer ’n ou uitgawe gesien. Hulle hou darem van Piet Strauss al is die NG kerk oor die algemeen nou nie juis so gewild nie. Hou verby!

11 Junie om 12:25 VM.

Barend Nel

Ai man ek het skoon trane in die oë gekry van heimwee… Gideon Aggenbag, Daniel Louw, Henriëtta Klaasing… Dit het gevoel soos ’n Kletskerk reünie! Is die lot nou almal by Juig? Dalk moet ek daar aansluit, ek mis die klomp. Hulle het altyd goeie vermaak verskaf.

11 Junie om 01:23 VM.

Gerhard Bothma

Hulle het baie akkies in my lewe veroorsaak.

[Kyk Wie is Gerhard Bothma? Hy het een van die medeskrywers van Die Trojaanse Perd in die NG Kerk gebel en gedreig om die skrywers te dagvaar oor sogenaamde onwaarhede wat oor hom verkondig is in die boek. Hy het nooit daarmee voortgegaan nie, waarskynlik omdat hy geweet het dat hy nie ’n saak het nie.]

11 Junie om 03:40 VM.

Rudolph Scharneck

Ek vind dit amusant dat hulle groot kwessie is: “Wie is God? God of ek?” terwyl die tydskrif maar al te graag self God speel deur mense namens God hel toe te stuur.

11 Junie om 03:42 VM.

Anschen Conradie

Ek het pas my arme hond wakker gelag. ‘Fatal attraction’ ! Volpunte Schalk. Die artikel is ’n luigat se werk – gebruik iemand anders se skrywe vir idees en strooi dit selektief in alle rigtings. Anyway, ek gaan nou vir my die ou magazinetjie koop – ek is erg in die versoeking om vir hulle ’n brief te skryf. Maar ek is geëerd om jou te ken hooggeagte Jean.

11 Junie om 06:14 VM.

Liz Stevens

En, vroegoggend lag ek vir almal se pittighede!

11 Junie om 07:03 VM.

Stefan Coetzer

Die laaste keer toe “die Kerk” ruggraat gehad het was dit met die ondersteuning van “die Party”. En toe lei hulle “die Volk” die woestyn in op soek na die beloofde land. En nou het “die Muis” weer probeer piep en die ruggraatjie styf gemaak teen die ANC: “Nee, ons gaan nie met julle praat nie, so whê!”

Die stywe ruggraat wat ek sal wil sien is dat denkende, intelligente mense in die kerk die ruggraat toon om hulle openlik uit te spreek teen die smetlike drek wat al hoe meer in die openbaar verkondig word in die naam van God en geloof. Soos in hierdie tydskriffie.

11 Junie om 07:14 VM.

Rudolph Scharneck

Soos ’n prokureur karakter in Jodi Picoult se boek “Sing you home” op ’n plek vir ’n anti-gay aktivis/pastoor sê: “The big difference between God and you is that God does not think he is you.”

11 Junie om 07:11 VM.

Gerhard Pietersen

Toemaar Jean, wag tot jy van dwaalleer aangekla word by ’n Ring en die klaer gebruik Juig as verwysingsbron teen jou…

11 Junie om 07:23 VM.

Andries Erwee

Ek het en sal waarskynlik nie die tydskrif koop nie. Ek wonder net of die kerk regtig sal groei as hy sterk uitkom vir evolusie, gay regte, dat Jesus nie God is nie ens. Sal die ouens wat nou nie kerk toe gaan nie, terug gaan? Waarom?

11 Junie om 07:25 VM.

Barend van der Merwe

Ek let op die leuse. Herken dit nie. Moet ’n nuwe toevoegging wees: Ware mense. Ware Christenskap – dis stewige mure daai vir ’n mannietjie soos ek om in vas te loop!

11 Junie om 07:26 VM.

Jean Oosthuizen

Dit gaan nie daaroor of die kerk sal groei as hy eerlik is met sy lidmate nie Andries. Dit oor wat reg is. En oor waarheid.

11 Junie om 07:32 VM.

Stefan Coetzer

Andries, jy vra die vraag verkeerd. Jy sê dus by implikasie die Kerk moet lieg of swyg oor die waarheid? Ter wille van gatte op kerkbanke en die vermoë om dominee se salaris te betaal? Groei ten alle koste, al moet die mense ook belieg word? Sê jy dus ook by implikasie geloof en God is bedoel vir slegs die armes van gees?

Is dít die soort ruggraat wat die hedendaagse kerk wil wys? Of die ‘profetiese stem’ wat hy in hierdie ‘duister wêreld’ wil laat hoor?

11 Junie om 07:58 VM.

Rudolph Scharneck

Andries, ek dink gay regte en evolusie is glad nie dieselfde saak as die kwessie oor of Jesus God is nie. Jesus se Goddelikheid is ’n kernbelydenis van die kerk van die vroegste tye af. Maar of homoseksualiteit verkeerd is of nie en of dit verkeerd is om evolusie te aanvaar of nie, hang maar net van jou verstaan van sekere tekste van die Bybel af. My doel is nie om nou hier in ’n debat oor teologiese kwessies betrokke te raak nie, maar my punt is, sekere goed is nader aan die kern van die kerk se rede vir bestaan as ander dinge en dit is belangrik om die onderskeid te tref.

Ek dink beslis as die kerk se behandeling van homoseksuele mense verander en die kerk meer konsekwent is in haar hantering van alle mense sal meer mense kerk toe kom.

11 Junie om 08:05 VM.

Gerhard Pietersen

We need to move from the head to the heart.

11 Junie om 08:07 VM.

Louis Laurens Botha Gaum

Die ‘oor baie jare heen’ waarin ons NG Kerk ‘skriftuurlik korrek’ was klink vir my hier na die goeie ou apartheidsjare. Dis waarom Belhar en kerkhereniging totaal oorbodig blyk te wees

11 Junie om 08:25 VM.

Leon Coetzee

Jou sondige skepsel, kan jy nou sowaar in evolusie glo.

11 Junie om 08:48 VM.

Lizette Angelique Wilson

Ja, en die ‘skrif’ is vír ons uitgelê deur diegene wat ons wou laat glo volgens hulle eie politieke agendas.

11 Junie om 08:49 VM.

Anita de Kock

Ek het nog altyd geglo dat as mense jou so aanval dan het hulle iets om weg te steek.

11 Junie om 09:10 VM.

Andre Serfontein

Daar’s mos ook die teorie dat as jy en jou gesin op een van die voorblaaie van hierdie “geestelike” tydskrifte verskyn, jou huwelik gedoem is.

11 Junie om 09:19 VM.

Henri Benade

Jean die antichris?

11 Junie om 09:26 VM.

De Waal Lubbe

Hoe op aarde kan enige “kerk as eenheid vir die Waarheid staan”? As Eenheid staan is prakties moontlik, maar vir die waarheid gans en al onmoontlik. Hierdie Onwaarheid sal nooit weer as as waarheid voortleef, nog minder staan op enige wyse. Opstaan vorentoe is eenvoudig onmoontlik.

11 Junie om 09:42 VM.

Henry van Blerk

Ek het ook meer as twee or meer jare gelede gestop om hierdie tydskrif te koop veral nadat daar veral te velde gegaan oor die gay kwessie – uit die bose & so veroordelend sonder enige begrip of verstand pas gladnie by a sogenaamde Christelike tydskrif nie.

11 Junie om 09:46 VM.

Barend Nel

‘n Mens moet die beswaarde bende van ouds en hulle nuwe tuiste Juig toegee dat die kerk nie in getalle gaan groei as sy Belhar, evolusie en selfde geslag huwelike aanvaar nie. Ook nie as predikante en teoloë toegelaat word om meer genuanseerde oor dinge soos Jesus se godheid en opstanding uit die dood te praat nie. Oor elkeen van hierdie sake gaan die kerk sekere lidmate behou, maar gelyktydig ander verloor.

Behalwe die vanselfsprekende dat dit vir die kerk nie in die eerste plek behoort te gaan oor die getal lidmate nie, maar oor die waarheid, sou dit die kerk tog baat om bietjie te dink oor WIE sy gaan verloor en wie sy gaan behou.

Juig en die beswaardes is dalk reg daaroor dat die kerk meer lidmate gaan behou as verloor, as sy onverbiddelik NEE! sê vir al daai “liberale” dinge. Maar in die proses gaan die kerk van sy intelligentste lidmate verloor. Trouens die kerk gaan die lidmate verloor wat denkend is en eerlik na die waarheid soek. In die proses gaan die kerk ontsaglik verarm en al sy leiers materiaal verloor. Dit gaan meer en meer fundamentalisties en onverdraagsaam word en al hoe vreemder aan ’n moderne wetenskaplike en tegnologiese wêreld word.

Dan gaan een van twee goed gebeur. Die kerk gaan of uitsterf soos sy lidmate ouer word en gaan heeltemal irrelevant word. Of hierdie onverdraagsame en fundamentalistiese groep gaan die geveg (ek gebruik die woord doelbewus) om die “heart and mind” van die massas wen… En ’n nuwe era, ’n nuwe “donker middeleeue” gaan aanbreek. Wetenskap en daarmee saam tegnologie gaan amper totaal vernietig word en dit gaan wees asof jy die kalender 600 jaar terug gedraai het. Dit lyk so vergesog dat as ’n mens dit sê almal dink dat jy bossies is, maar as jy na die geskiedenis kyk, sien jy dat dit net so onwaarskynlik gelyk het dat die ontwikkeling van die Griekse en Romeinse beskawing vernietig sou word en Europa vir eeue in donkerte sou dompel. Hoe kon dit gebeur het dat die hoogs ontwikkelde Maya beskawing skynbaar net op homself ingeplof en sy burgers as “Hunter gatherers” gelaat het. Hoe kon dit gebeur dat fundamentaliste baie groot dele van die Arabiese wêreld oor gevat en die horlosie ’n duisend of meer jaar teruggedraai het? Hoe gebeur dit dat omtrent orals waar die “Arabiese lente” met Europese en Amerikaanse hulp aanbreek, dit binne twee jaar verander in ’n “Arabiese winter”?

Miskien is ek mal, maar ek vrees regtig die aanbreek van “donker eeue”. Nie deur ’n kernoorlog of ander tegnologiese nagmerrie nie, maar deur die vernietiging van mense se denkvermoë deur religieuse fundamentalisme. En as die sogenaamde Christen wêreld en die Moslem wêreld die slag gelyktydig donker eeue beleef en mekaar begin uitroei, het ons dalk die slag nie donker eeue nie, maar donker millenia.

11 Junie om 09:52 VM.

[Barend het die kat aan die stert beet. Geskiedenis het die teendeel bewys. Kyk If You Want to Destroy Your Church, Follow Liberals’ Advice.]

Jean Oosthuizen

Dit is voorwaar ’n donker prentjie Barend maar seker nie vergesog nie. Dat die kerk die gevaar loop om daardie pad te bewandel is gewis waar. Eintlik het die NG Kerk reeds daarvoor gekies toe hy destyds tydens die Woordfeesdebakel gesê het hy is nie bereid om sy konserwatiewe lidmate te vervreem nie. Hulle bring die geld in.

Dit is jammer want en wese is die NG Kerk nie veronderstel om fundamentalisties te wees nie. Of dit die hele wêreld in die duister sal dompel weet ek nie want al hoe meer mense verlaat die kerk en hoe meer fundamantlisties die kerk word hoe meer verloor hy tred met die wêreld om hom.

11 Junie om 10:11 VM.

Karen van der Berg

‘n Mens moet bekommerd wees dat hulle dit wat hulle doen, joernalistiek noem….

11 Junie om 10:28 VM.

Barend Nel

Jean al hoe meer witmense verlaat die kerk in Suid-Afrika, maar is dit waar van die hele bevolking? Dit is nou as mens ál die kerke in ag neem… En die meeste is nog baie baie meer fundamentalisties. En is dit waar van Afrika as geheel, of van die ooste waar ek verstaan dat die kerk sterk groei. Ek ken nie die kerk in die ooste nie, maar ongelukkig is die kerke wat sterk groei in Afrika dikwels erg fundamentalisties, bygelowig en erg onverdraagsaam. Dit lyk my dus dit is net in die (wit) Westerse Wêreld waar mense die kerk, soos in alle kerke, verlaat.

En as ’n mens nou nie net die witmense tel nie en jy praat nie net van die christelike kerk nie, maar van alle godsdienste, klink dit my asof daar op die oomblik in Europa meer en meer mense by fundamentaliste geloofsgroep aansluit. Ek weet nie of die syfers korrek is nie, maar ek het onlangs gelees dat daar op die oomblik in Engeland reeds weekliks meer mense ’n moskee besoek, as ’n kerk.

11 Junie om 10:35 VM.

Adriaan van der Wart

Juig se redakteursblad gaan oor verkope, (sirkulasie) dus geld. Teoloë wat daar skrywe weet dit en soek ’n pennie en is waarskynlik nog ge-voetboei aan ‘Uit die Beek’ se teologiese mentaliteit. Dis waar: die ultra konserwatiewe, letterlike interpreteerders van die Bybel trek laer. Die res om hulle is gojiem. Dit gebeur redelik opsigtelik en hoorbaar in Amerika se Bible Belt. Ek weet egter nie of die ‘heiliges’ nog heiliger’ en die ‘sondiges’ nog ‘sondiger’ in die proses word nie. My gevoel is dat fundamentaliste ’n brein-blok het. ’n Onvermoeë om inligting te interpreteer en vorentoe te beweeg. Hulle verkies om agter te bly. Amish-agtig.

11 Junie om 02:39 NM.

Rudolph Scharneck

Adriaan van der Wart, ek stem saam. Ek het met my eie oë onlangs gesien hoe in vervoering iemand is oor die goed wat ’n erg fundamentalistiese prediker vir hom sê. Ek wys die gate in die ou se argumente en Skrifhantering uit, maar dit tel niks. Hierdie ander ou bly in vervoering. Iemand het mos al gesê: “It is easier to fool someone than to convince him that he has been fooled”.

11 Junie om 12:00 NM.

Anton Bester

And in between more and more people bleed emotionally… Die psige is mos maar ’n vreemde ding… wanneer dit ontnugter raak, vat dit ons rasionele saam. Die kerk snap hierdie ding nie. Die pynlike psigies-emosionele ontnugtering in die kerk se agendas, laat sommiges DINK, rasioneel reageer… en dit ekskommunikeer hul gevolglik. En die kerk-sisteem bewakers weet ongelukkig self nie meer om sinvol te gesels nie. Fundamentalisme dus noodwendige gevolg…. my bydrae… aanvegbaar ja, maar dis wat ek lees, hoor, beleef

11 Junie om 12:36 NM.

Alida Van Der Westhuizen

Ten minste maak hulle nie ’n Diff van jou nie. (Be thankful for small mercies!)

11 Junie om 12:38 NM.

Elsabe Brits

Ek was ook al daar, sommer in ’n berig ook smile emoticon Oor die e-woord: Evolusie.

[Kyk Is die beriggewing in Die Burger oor kwessies aan die snypunt van die wetenskap objektief?]

11 Junie om 12:51 NM.

Petrus Otto

Ek het hom een keer so oopgemaak by ’n dokter se spreekkamer bloot omdat daar niks anders was nie my reaksie kan ek nie hier on woorde omsit nie .. nie woorde wat ek gewoonlik in oordenlike geselskap wil sê nie .. maar wat my bang maak is .. mense wat daarop inteken wat jy ken en oorlat jy mos op ’n tyd vir dominee geswot het wil hulle die goed met jou bespreek nou try daai artikels bespreek met ’n stright face

11 Junie om 02:44 NM.

Melt Myburgh

Hahahahaha.

11 Junie om 02:46 NM.

Sonja Terblanche

En so is daar ook mense wat wel van Juig hou..

11 Junie om 02:54 NM.

Reinette Mentz

Ek verwonder myself aan mense wat hulself intelligent noem, en so min insig het, en iemand wat hom/haarself ’n christen noem, en soveel vooroordeel het……

11 Junie om 02:57 NM.

Niel Esterhuyse

Adriaan, ek wonder of jy daai spannetjie nie nog steeds te veel krediet gee nie. Ek sou sê hulle is suiwer ingestel op winsbejag (wat nie opsigself problematies is nie, solank jy net jou wins op ’n eerlike wyse maak) en gee nie ’n hel om of die artikels wat hulle plaas enigsins waar is nie.

Hulle plaas byvoorbeeld heel gereeld artikels deur ene Reinhard Bonnke. Die artikels het altyd dieselfde resep.

Bonnke woon ’n reuse byeenkoms by. Altyd iewers in Afrika (Suid-Afrika uitgesluit), maar die land of stad word nooit ooit genoem nie. Hy vertel van talle televisiespanne wat die gebeurtenis kom verfilm het, maar nie ’n enkele spesifieke netwerk of kanaal word ooit genoem nie. So ook nie die identiteit van die geloofsgeneser nie, en veral nie enige vaagweg naspeurbare inligting omtrent die gelukkige geneesde nie. Daar word sonder uitsondering na die gelukkige pasiënt slegs verwys as ‘Henry’ of ‘Dilliza’, of sommer’John’, ‘Paul’, ‘George’ of ‘Ringo’.

In elk geval, daar is nie in enige van hierdie verhale oor fantastiese wonderwerke, ’n enkele getuie behalwe Reinhard Bonnke beskikbaar nie.

Dieselfde met sommige advertensies wat hulle plaas. Daar is feitlik geen algemeen bekende produkte/vervaardigers wat daarin wil adverteer nie.

Die algemeenste tipe advertensie is oor ongetoetsde middels soos Miracle Spray. Dit werk vir enige ding onder die son en tevrede kliënte is mense soos Koos van Pretoria, Joos van Johannesburg en Blommie van Bloemfontein.

Ek weet nie of mens as net klein bietjie oneerlik, maar hoofsaaklik eerlik geklassifiseer kan word in hul bedryf nie. Ek dink as jy ’n bietjie kan kroek, dan is jy eintlik maar net ’n kroek en niks beter nie.

11 Junie om 03:11 NM.

Adriaan van der Wart

Jaaa swaer! Ek ken sulke ‘teoloë’ wat die pennies jag…

11 Junie om 03:58 NM.

Schalk van Wyk

Rudolph, waarvan praat jy tog? Nou verduidelik jy dan nou vir my watter gedeeltes in die skrif waar is en watter gedeeltes nie! Dis tog uiters huigelagtig om jou te beroep op slegs die gedeeltes wat jou pas. En, het jy al opgemerk hoedat ou Yaweh se invloedsfeer voortdurend krimp soos wat die wetenskap al hoe meer natuurverskynsels opklaar wat voorheen as “bonatuurlik” en dus as goddelike verskynsels, geklassifiseer is?

11 Junie om 04:31 NM.

Schalk van Wyk

Ek verheug my in die plasings wat ek lees. Rasionele denke het nog nie uitgesterf nie :-).

11 Junie om 04:44 NM.

Schalk van Wyk

Fundamentalisme is nie aan die groei nie. Dit is maar bloot die sweer onder die vel wat al hoe meer sigbaar raak soos wat die vel afskilfer.

11 Junie om 04:47 NM.

Hettie Beyer

Jean, jy het groot woelinge in die hoederhok veroorsaak. Die fundamentaliste skree nou wolf. Hulle sien egter net kans om jou aan te vat vanuit hulle veilige hoekie, want hulle weet, geen kommentaar van jou sal daar toegelaat word nie. Jy mag dalk daar slapende honde wakker maak.smile emoticon

11 Junie om 04:47 NM.

Elsabe Brits

Rede om te juig: Dat jy nie ingeteken is if Juig nie.

11 Junie om 05:30 NM.

Marina Botha

Ag nee kom tog by!

11 Junie om 06:42 NM.

Jean Oosthuizen

Wie moet bykom?

11 Junie om 07:05 NM.

Lizette Angelique Wilson

Dalk die Afrikaanssprekende onderwyser wat vir sy Engelse Biologie klas na ’n lang verduideliking gevra het : “Are you by”!!

11 Junie om 07:16 NM.

Carin De Villiers

Dit is tragies dat Christene nou met mekaar baklei. Hulle is veronderstel om dissipels te maak nie vyande nie. As dit so gaan in die kerk hoe wen ’n mens siele vir Jesus?

11 Junie om 07:32 NM.

Lidia Theron Privaat

Juis vanmiddag die tydskrif op ’n winkelrak gesien. Onmiddellike reaksie: ek wil juig van afgryse. Ek kan dit net glad nie hanteer nie.

11 Junie om 07:50 NM.

Jean Oosthuizen

Ek is nie in die siele vir Jesus wen game nie so ek mag maar baklei.

11 Junie om 07:54 NM.

Frits Martin

Tereg merk jy op, hulle begin elders oes vir bruikbare sening om tam-karwats effe sweepklap te gee. Staan vas…

11 Junie om 07:57 NM.

Elsabe Brits

Carin, dalk maar soos die jee-ho-was, siele wen deur tot deur jong? Maar daai is nogal harde werk, so mense sal moet “bykom”.

11 Junie om 07:58 NM.

Elsabe Brits

Lol @ Niel, nee eerlikwaar …

11 Junie om 07:59 NM.

Adriaan van der Wart

Carin, wat se goed is die ‘siele’ waarvan jy praat?

11 Junie om 09:10 NM.

Frits Martin

Waarskynlik is “siel” die oorweldiging wat jou (dalk?) vat as jy ’n roadkill teenkom. Of swaeltjie wat stormtyd in jou huis kom skuil doodslaan /red

11 Junie om 09:21 NM.

Frits Martin

…. dis die trick, met die skepsels en die planeet, en als daaromheen. Dis so wreed en ongelooflik onbegryplik. Daar durf geen poppespeler, marionetmeester wees nie.

11 Junie om 09:25 NM.

Frits Martin

Soos maakskyt, ineengetrek met designertruitjie oorgewerp, dis jy, die stadige verkeer verby, flitsende fone, daar is geen god wat ooit ’n sfinkter kon bedink nie.

11 Junie om 09:29 NM.

Schalk van Wyk

Carin, ek wil ook weet van die ‘siele’ waarvan jy praat. Noudat jy so kundig is, sal ek ook graag verneem wat die ‘heilige gees’ is en waar dié nou in die trilogie pas. Niemand kon dit nog vir my verduidelik nie!

11 Junie om 09:32 NM.

Frits Martin

…. daar sal altyd die wees wat verduideliking nodig het….

11 Junie om 09:46 NM.

Schalk van Wyk

….daar sal altyd dié wees wat ń kruk soek om die lewe te trotseer……

11 Junie om 09:55 NM.

Frits Martin

…. Amen, edelagbare

11 Junie om 09:58 NM.

Frits Martin

…… Siele…? Jou versekering-staat.

11 Junie om 10:08 NM.

Willie Pietersen

Jig! Ek lees liewer Huisgenoot.

12 Junie om 04:16 VM.

Willie Pietersen

Wat ’n lekker gejuig en ’n gesuig. Lekkerste en stimulerendste leesstof in ’n lang tyd!

Weet net nie waar kry die ouens die tyd om so te juig nie. Vandat ek in graad 2 is, is daar maar min tyd vir tydskriffies.

12 Junie om 05:18 VM.

Willie Pietersen

Gisteraand, klaar gerky met my graad 2 ekspo-aanbieding , genaamd Muf Maak Saak! Hoe muf werk, waarom ens. Heerlike wetenskap! Die ontbindingsprosesse van dinge. Insiggewend! Gewonder of mens nie ’n tydskrif kan begin met die naam MUF nie. Dink net hoe lekker sal dit daar langs mekaar op die rakkie lyk: JUIG! MUF.

12 Junie om 05:28 VM.

Willie Pietersen

Maar ek dink tog kerk is nodig. Ek ken ’n ou wat genuine baie sukkel om te slaap in die nagte. Geen grap nie! Hy sê as dit nie vir kerk was nie…

12 Junie om 05:32 VM.

Gerhard Bothma

“Siele wen” is deur dieselfde groep mense binne die kerk vervang met “Geld maak”

Ons ander dien God en bedien mense.

12 Junie om 07:10 VM.

Willie Pietersen

Yes! Nou’t ek ’n naam vir ons ‘kerk’ Gerhard Bothma: “Siele op wiele!”

12 Junie om 07:20 VM.

Willie Pietersen

‘n Siel is mos ’n spook. Of hoe? Dit is ’n swewerige soort iets, wat die liggaam as vervoermiddel gebruik. Dus: Siele op wiele!

12 Junie om 07:23 VM.

Willie Pietersen

En ek dag dit gaan oor die totale mens ingebed in sisteme waarin dit oor aanvaarding en geregtigheid gaan. Veel makliker om gou n siel of twee te wen. Dan kan ek my oe maar toe maak vir my eie en ander se seer.

12 Junie om 07:27 VM.

Johann Jabu De Jager

Laat dit soos water van ’n eend se rug af rol, Jy het groter dinge om te doen!

12 Junie om 09:13 VM.

Frits Martin

Siel word gevoed deur selfsug, honger vraat wat dwing dat jy ontbeer om te deel

12 Junie om 08:24 NM.

Frits Martin

Siel versmoor in afsondering. Hoe meer byderhand hoe joliger..!?

12 Junie om 09:05 NM.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui