Wat het by Jesus se graf gebeur die Sondagoggend ná Sy opstanding?

Skeptici beweer dat die vier Evangelies teenstrydige weergawes gee oor wat by Jesus se graf gebeur het die Sondagoggend ná sy opstanding. Indien mens die vier verskillende weergawes lees lyk dit op die oog af of daar teenstrydighede is. Maar is ’n probleem vir die integriteit van die Bybel?

Ek gaan eers weergee wat ek dink gebeur het en dan gaan ek bespreek wat elke Evangelie sê:

Die Sondagoggend voor sonsopkoms kom daar ’n engel van die hemel en rol die grafsteen weg en gaan sit bo-op die grafsteen. Die wagte word baie bang en hardloop weg.

Let wel: ’n Mens neem aan dat Jesus uit die graf gekom het nadat die engel die grafsteen weggerol het. Omdat Jesus egter ’n verheerlikte liggaam gehad het ná Sy opstanding kon hy deur die grafsteen beweeg (Johannes 20:19,26) en sou dit nie nodig wees om eers die steen weg te rol nie. Jesus het egter self voorspel dat hy drie dae in die graf sou wees – kyk Matteus 12:40.

Ten minste vier vroue gaan vroeg die Sondagoggend na Jesus se graf:

  1. Maria Magdalena
  2. Maria, die ma van Jakobus
  3. Salome. Sy was saam met Maria Magdalena en Maria, ma van Jakobus, by Jesus se kruisiging (Mar 15:40)
  4. Johanna, die vrou van Gusa, ’n hoë amptenaar van Herodes (Luk 8:3)

Voor die vroue na die graf gaan, gaan koop hulle eers reukolie net ná die sabbatdag verby was. Die sabbatdag was Saterdag ná sononder verby, dus kon hulle die olie die Saterdagaand ná sononder of Sondagoggend voor sonsopkoms gekoop het.

Die vroue sit af na die graf terwyl dit nog donker is. Terwyl hulle oppad na die graf is, kom die wagte, wat die graf opgepas het, in die stad aan en vertel vir die priesterhoofde alles wat gebeur het. Die vroue arriveer by die graf net nadat dit lig word. Oppad na die graf wonder hulle nog wie die grafsteen vir hulle sal wegrol, maar toe hulle by die graf aankom sien hulle die grafsteen is reeds weggerol. Die engel wat die grafsteen weggerol het, is nie meer daar nie. Net die wagte het hom gesien.

Hulle gaan in die graf in en sien aanvanklik net die doeke waarin Jesus toegedraai was. Toe hulle dieper in die graf ingaan sien hulle ook twee engele in die graf staan. Die een engel gaan sit waar Jesus se kop was en die ander engel gaan sit waar Jesus se voete was. Die doek wat om Jesus se kop was, was nie by die ander doeke nie, maar eenkant afsonderlik opgerol. Die engel aan die regterkant sê dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat die vroue nie bang moet wees nie en vir die dissipels gaan vertel dat Jesus opgestaan het (in die besonder vir Petrus) en dat Jesus hulle in Galilea sal kry.

Die vroue hardloop en gaan vertel die dissipels (die elf en al die ander). Hulle vertel dit vir niemand anders nie, omdat hulle bang is. Die dissipels wil nie die vroue glo nie. Slegs Petrus en Johannes sit af na die graf. Maria Magdalena gaan saam met hulle. Toe hulle naby die graf kom, begin hulle te hardloop. Johannes hardloop vinniger en kom eerste by die graf aan, maar gaan nie in nie. Toe Petrus daar aankom gaan hy in die graf in en sien die doeke daar lê. Johannes volg vir Petrus in die graf in. Petrus en Johannes gaan terug na die ander dissipels. Maria Magdalena bly by die graf agter en huil. ’n Man kom nader en vra haar hoekom sy huil. Eers dink sy dat dit die tuinopsigter is, maar besef dat dit Jesus is. Jesus sê vir haar om vir die dissipels te gaan vertel dat Hy in die hemel gaan opvaar. Sy gaan toe dadelik na die dissipels en vertel hulle.

Hoe versoen ons hierdie weergawe met wat geskryf is in die Evangelies?

Matteus 28

(1)Na die sabbatdag, toe dit die Sondagmôre begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk. (2)Skielik was daar ’n geweldige aardbewing. ’n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit. (3)Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. (4)Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword. (5)Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. (6)Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het. (7)Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ Dit is wat ek vir julle moes sê.” (8)Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan, bang maar baie bly, en hulle het gehardloop om dit aan die dissipels te vertel. (9)Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid. (10)Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien.” (11)Terwyl die vroue op pad was, kom party van die wagte in die stad aan en vertel vir die priesterhoofde alles wat gebeur het.

Vers 2-4: Op die oog af lyk dit of dit in kronologiese volgorde geskryf is. Dit lyk of alles in vers 2 tot 4 gebeur het toe die vroue oppad was na die graf of selfs toe hulle by die graf aangekom het. Dit kon egter alles gebeur het voor die vroue vertrek het na die graf. Daar is ook ander voorbeelde in die Bybel waar dinge nie in kronologiese volgorde geskryf word nie. Kyk Is Genesis 1 en Genesis 2 verskillende, teenstrydige skeppingsverhale?.

Vers 5: Dit lyk of die engel wat in vers 5 genoem word dieselfde engel is wat op die grafsteen gaan sit het, maar indien die ander drie Evangelies in ag geneem word, was dit waarskynlik een van die engele wat in die graf was. Daar word ook net melding gemaak van een engel, waarskynlik omdat slegs een engel met die vroue gepraat het.

Vers 8-9: Dit lyk of Jesus aan die vroue verskyn het terwyl hulle oppad was om vir die dissipels te vertel.

Markus 16

(1)Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem.(2)Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom. (3)Hulle vra toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?” (4)Die klip was baie groot, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat dit klaar weggerol is. (5)Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle ’n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik. (6)“Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het. (7)Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.” (8)Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang. (9)Ná Jesus se opstanding vroeg die Sondagmôre, het Hy heel eerste aan Maria Magdalena verskyn, uit wie Hy vantevore sewe bose geeste uitgedrywe het. (10)Sy het dit vir sy dissipels gaan vertel wat oor Hom getreur en gehuil het. (11)Alhoewel hulle by haar gehoor het dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, het hulle haar tog nie geglo nie.

Vers 5-6: Die skrywer van Markus praat van ’n jongman. Indien aanvaar word dat engele mans was, is hierdie nie ’n probleem nie. Die skrywer maak ook net melding van een engel. Dit is waarskynlik omdat slegs een engel met die vroue gepraat het.

Lukas 24

(1)Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het. (2)Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; (3)en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. (4)Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan. (5)Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? (6)Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was (7)en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.” (8)Toe het hulle sy woorde onthou (9)en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel. (10)Die vroue was Maria Magdalena en Johanna en Maria die ma van Jakobus. Ook die ander vroue saam met hulle het dieselfde dinge aan die apostels vertel. (11)Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie. (12)Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy daar vooroor buk, sien hy net die doeke. Vol verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.

Vers 12: Lukas noem nie dat Johannes ook saam na die graf gaan kyk het nie.

Johannes 20

(1)Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. (2)Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.” (3)Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. (4)Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. (5)Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. (6)Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, (7)ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. (8)Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo. (9)Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie. (10)Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan. (11)Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. (12)Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. (13)Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.” (14)Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie.

Vers 10-12: Johannes is die enigste skrywer wat sê dat die vroue eers vir die dissipels gesê het dat die graf leeg was en toe die twee engele in die graf gesien het. As ’n mens aanvaar dat die skrywers nie altyd in kronologiese volgorde geskryf het nie, dan is hierdie nie ’n probleem nie.

Ten slotte

‘n Mens mag voel dat dit jammer is dat die weergawes van die skrywers nie beter ooreenstem nie.

Eerstens is die verskille nie wesenlik nie. As hierdie vier getuienisse in ’n hof moes dien is ek baie seker dat die hof nie al die getuienisse sou verwerp nie, maar tot die gevolgtrekking sou kom dat:

  • Sommige van die vroue het na die graf gegaan.
  • Die grafsteen was weggerol en die graf was leeg.
  • Die vroue het een of twee engele gesien.
  • Hulle het die dissipels gaan sê, maar omdat die dissipels hulle nie wou glo nie het slegs Petrus (en Johannes) na die graf gegaan.
  • Jesus het eerste aan Maria Magdalena verskyn.

Tweedens, moderne nuusberigte oor dieselfde gebeurtenis het baie dieselfde soort “teenstrydighede” wat skeptici in die Evangelieverslae aandui.

Lee Strobel sê in sy boek ‘n Saak vir Christus:

Die waarheid is egter dat indien die evangelies woord vir woord identies aan mekaar was, sou mense júís beweer dat die skrywers onder mekaar gekonkel het om presies dieselfde storie te vertel. Verder, as dit werklik ’n probleem was, sou die Bybelskrywers net een (die mees waarskynlike) weergawe gepubliseer het

Indien die vier Evangelies normale sekulêre geskiedenis was, sou historici geen probleem met die integriteit van die dokumente gevind het nie. Die enigste rede hoekom sommige historici wil beweer dat hierdie verskille die integriteit van die inligting negatief beïnvloed is omdat dit wonderwerke bevat.

Hierdie verskillende ooggetuieverslae kan vergelyk word met die volgende voorbeeld:

Die vorige dag het die Bulle en die Stormers op Loftus rugby gespeel. Vier verskillende mense wat daar was word gevra waar hulle Saterdagmiddag was:

  1. Die Leeu-ondersteuner sê dat hy rugby op Loftus gaan kyk het.
  2. Die Bulondersteuners sê dat hy na die Bulle gaan kyk het.
  3. Die stormerondersteuner sê dat hy na die Stormers gaan kyk.
  4. Handré Pollard se ma sê dat sy gaan kyk het hoe haar seun rugby speel.

Almal is reg.

Verdere bronne

Opsomming van verskille

Wanneer het die vroue na die graf gaan kyk:

  • Mat: Toe dit begin lig word, het die vroue na die graf gaan kyk.
  • Mark: Die Sondagmôre baie vroeg kom die vroue by die graf aan net toe die son opkom
  • Luk: Die vroue het baie vroeg na die graf toe gegaan
  • Joh: Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf.

Maak melding van ’n aardbewing, ’n engel rol die grafsteen weg en sit op die grafsteen en die wagte hardloop weg:

  • Slegs Matteus

Maak melding van die reukolie wat die vroue saamgeneem het:

  • Mark, Luk

Vroue by die graf:

  • Mat: Maria Magdalena , Maria, (Jakobus se ma)
  • Mark: Maria Magdalena, Maria (Jakobus se ma), Salome
  • Luk: Maria Magdalena, Maria (Jakobus se ma), Johanna
  • Joh: Maria Magdalena

Engele by die graf:

  • Mat: ’n Engel kom vanuit die hemel en rol die grafsteen weg en gaan sit daarop. Op die oog af lyk dit of dit dieselfde engel is wat met die vroue praat.
  • Mar: Jongman aan die regterkant in die graf.
  • Luk: Twee manne met blink klere wat staan.
  • Joh: Twee engele wat in die graf sit.

Jesus verskyn eerste aan:

  • Mat: Al die vroue
  • Mark: Maria Magdalena
  • Luk: Niks
  • Joh: Maria Magdalena

Dissipels wat na die graf gaan:

  • Mat: Niks
  • Mark: Niks
  • Luk: Petrus
  • Joh: Petrus en Johannes. Noem dat Johannes eerste by die graf aangekom het.

Volgorde: (1) Vroue sien engele, (2) Vroue gaan vertel die dissipels

  • Mat, Mar, Luk: Eers (1) dan (2)
  • Joh: Eers (2) dan (1)

1 thought on “Wat het by Jesus se graf gebeur die Sondagoggend ná Sy opstanding?”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui