Wanneer pro-keuse nie anti-lewe is

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Wanneer pro-keuse nie anti-lewe is | Netwerk24

Tanya van Wyk

Netwerk24

Saterdag, 7 November 2020

Die debat oor aborsie is baie meer kompleks as wat dit op die oog af lyk, skryf Tanya van Wyk.

Op 18 September vanjaar is regter Ruth Bader Ginsburg, wat vir 27 jaar in die Amerikaanse federale hooggeregshof gedien het, oorlede.

Haar afsterwe het gekom te midde van ’n fel politieke stryd in die VSA wat die land in absolute teenoorstaande en uitsluitlike “linkse” en “regse” kampe verdeel het.

Bader Ginsburg het, soos uitgebeeld in die biografiese drama On the Basis of Sex, haar vir geslagsgelykheid en die regte van vroue beywer, veral die wetlike status van vroue en hul reg tot selfbeskikking. Te midde van ’n stryd wat gekenmerk is deur politieke uiterstes en weens haar sterk steun aan aborsie-regte, het daar vrees én hoop ontstaan oor die moontlikheid dat iemand wat ’n ander politieke verwysingsraamwerk as Bader Ginsburg het, haar plek kon inneem. En dat dit uiteindelik kan lei tot die tersydestelling van die historiese Roe vs Wade-uitspraak van 1973.

Daardie besluit van die hooggeregshof het die presedent geskep vir die wettiging van aborsie in die VSA. Bader Ginsburg was nie betrokke by die 1973-uitspraak nie en sy was krities ten opsigte van die hooggeregshof se benadering daartoe. Tog het die kwessie van aborsie opnuut op die politieke agenda van die onwaardige verkiesingstryd in die VSA beland.

Die uitstaande kenmerk van die aborsie-debat is dat dit ’n opponerende of binêre karakter het. “Binêr” is ’n verwysingsraamwerk (of ’n stelsel van taal en denke) waarin twee konsepte teenoor mekaar gestel word as die enigste moontlikhede om die werklikheid te verstaan en te beskryf. Dit, terwyl die kontinuum of glyskaal van moontlikhede wat tussen die twee uiterstes bestaan, nie erken word nie. Dit is ’n nadelige nalatenskap van ’n Westerse filosofiese denkraamwerk waarin afgegrensde rasionaliteit die enigste manier is om sin te maak van wat om jou aangaan. In die proses sukkel mense meestal met enigiets wat nie binne die bestek van die twee uiterstes pas nie. Die gevolg is ’n onvermoë om kompleksiteit te benader of te waardeer, wat veroorsaak dat mense gemakliker is om hulself en ander in een van die teenoorgestelde “kampe” te plaas.

In ’n binêre aborsie-debat word kampe gevestig op grond van die oortuiging dat die een standpunt noodwendig die ander een teengaan of uitsluit. Byvoorbeeld, vroue se reg om keuses uit te oefen ten opsigte van hul biologiese vermoë om kinders te baar, sluit per implikasie die moontlikheid uit om lewe te beskerm. Of, van die ander kant af beskou, sal ’n keuse om die swangerskap enduit deur te sien, outomaties daarop neerkom dat daardie vrou nie die besluit uit vrye wil geneem het nie. Dit is ’n valse teenstelling, want om ten gunste daarvan te wees om keuses te kan maak, beteken nie dat jy gekant is teen lewe nie, of nie vir iemand lewe gun nie.

Om lewe te waardeer, kan omgekeerd ook nie beteken om gekant te wees teen iemand se reg en vermoë om vir hulself te kies en besluite te neem nie.

In aborsie-debatte word daar op hierdie manier ’n wedersyds uitsluitende raamwerk gevestig waarin ’n sogenaamde pro-lewe-oortuiging outomaties die vyandige teenoorgestelde is van ’n sogenaamde pro-keuse-oortuiging. Dit is ’n oorvereenvoudiging van die kompleksiteit en misterie van menswees, terwyl dit ook getuig van ’n bepaalde naïwiteit of doelbewuste verontagsaming van die kwessies wat verweef is met die verwekking en baring van kinders.

Tydens my voorgraadse teologiestudies was ’n module oor seksuele etiek deel van ons leerplan. Die inhoud van die kursus het hoofsaaklik vier temas gedek: die huwelik, egskeiding, homoseksualiteit en aborsie. Ek is nie noodwendig voorgesê oor hoe om te dink nie, maar dit was my eerste kennismaking met die onkritiese en oneerlike wyse waarop daar binne ’n bepaalde Christelik-etiese raamwerk met die kwessies van verhoudings, seksualiteit, seks en geslagsrolle omgegaan word.

Onkrities en oneerlik omdat die wyse waarop vroue se liggaamlikheid deur eeue van die Christelike kerk se geskiedenis op ’n negatiewe wyse anders as die liggaamlikheid van mans benader is, nie deel was van daardie kursus oor seksuele etiek nie.

Onkrities en oneerlik omdat die teoloë wat ’n wesenlike invloed gehad het op die Christelike kerk se benaderings tot menslike verhoudingsvorme en menslike seksualiteit, doelbewus vroue se liggaamlikheid verdag gemaak het en dit as die wortel van alle kwaad voorgestel het. Dit het die direkte gevolg gehad dat seks slegs ter wille van voortplanting (prokreasie) bevorder en beklemtoon is en dat enigiets wat die “natuurlike doel” van geslagsgemeenskap (en per implikasie die Godgegewe rol van moederskap) in gevaar stel, noodwendig onnatuurlik, oneties en immoreel is. Op hierdie wyse het aborsie die vyand van hierdie vorm van Christelike etiek en moraliteit geword.

Daarmee saam word filosofies-teologiese (en mediese) debatte oor wanneer lewe begin en die aard of bestaan van ’n siel by die fetus, dikwels ingespan om die binêre idee te versterk dat aborsie die vyand van lewe is. As gevolg van beperkte menslike kennis en die misterie en kompleksiteit van menswees, sal hierdie debatte altyd onbeslis eindig en het dit nie noodwendig ’n doel binne die aborsie-debat nie, behalwe om as rookskerms gebruik te word om ’n heteroseksuele huwelik en die natuurlike (en uitsluitlike) rol van vroue as moeders te beklemtoon. Dit gebeur ten koste van die wonderlike verskeidenheid van mense, hul verhoudings, hul vermoëns en die rolle wat hulle kan vervul – wat ewe “natuurlik” en Godgegewe is.

Vanuit ’n binêre verwysingsraamwerk waarin lewe ongekwalifiseerd en in alle omstandighede “goed” is, en dood “sleg” is, kan lewe die vyand word van lewe self. Om lewe te skenk, is een ding. Maar kan daardie lewe wat geskenk word, in stand gehou word? Wie se verantwoordelikheid is dit? Is lewe in alle gevalle ’n geskenk? Is die gebeure wat lei tot die ontstaan van die nuwe lewe, in alle gevalle “mooi”? En is die omstandighede waarin lewe verwek word, vir almal dieselfde?

Die Duitse teoloog Jürgen Moltmann het byna ’n dekade gelede in sy Ethics of Hope geskryf dat hierdie debatte dikwels ’n geïdealiseerde konsep van menswees as vertrekpunt het. Daarvolgens is ’n mens altyd ’n gelukkige, gesonde, selfversekerde en suksesvolle persoon. Maar dit is helaas onmoontlik om dié konsep ongekwalifiseerd aan ’n nuutgebore baba of ’n embrio toe te dig en dis nog moeiliker om dit te doen wanneer daardie nuutgebore baba of embrio as 30-jarige mens demensie het of in ’n koma is.

Daarom is dit ons taak om rekening te hou met verskillende moontlikhede en verskillende identiteite van menswees en op grond daarvan ’n breë etiese raamwerk te formuleer wat ruimte maak vir wisselende identiteite en omstandighede.

’n “Etiek van lewe” berus op die erkenning dat menslike lewe onvoorspelbaar is en nie in afgegrensde boksies geprop kan word nie. Verskeidenheid gee aanleiding tot lewe, nie dood nie. Om te kan kies, is daarom nie die einde nie, maar juis die begin.

Miskien kan dit Ruth Bader Ginsburg se erfenis wees.

Kommentaar

Daniel Louw

Tanya is wel verbonde aan die Hervormde Kerk, maar ek is seker sy sal alle studente bekendstel aan haar siening van dinge.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui