Waarheen is die NG kerk op pad?

Waarheen is die NG kerk op pad? | Creation

Deur Hennie Mouton

Februarie 2010

Die ateïs en evolusionis, prof. George Claassen, is uitgenooi om as hoofspreker by die openingsdag op 2 Februarie 2010 van Universiteit Pretoria se Fakulteit Teologie te praat oor Skepping en Evolusie. Dat ‘n ateïs uitgenooi word om by so ‘n geleentheid die hoofspreker te wees, laat al klaar ‘n paar vrae, maar die probleem is vererger deur die twee amptelike replieke daarop, waar die twee teologie-professors grotendeels nie van hom kon verskil nie.
“Ek kan nie van jou verskil nie”, het prof. Cornél du Toit gesê, alhoewel hy darem later gereken het Claassen laat hom te veel uit op die terrein van die teologie, waarvan hy te min weet.

“Genetika is volgens evolusioniste die doodskoot vir God”, het prof. Danie Veldsman gesê, en hyself aanvaar evolusie, maar hy glo darem die teologie kan argumenteer teen die nie-bestaan van God.

Altwee hierdie professors was skynbaar meer bekommerd oor hul teologie wat in ‘n slegte lig gestel is, as om God se eer na behore te verdedig.

Die tragiese is dat George Claassen nie net evolusie gepropageer het nie—hy het geloof in God en God self blatant aangeval. Hy het by implikasie beweer dat moderne wetenskaplikes, onder andere Charles Darwin, groter gesag as die Heilige Gees het. Sy redenasie was eenvoudig—die evolusionistiese wetenskap het die Bybel verkeerd bewys, Christene glo dat die Heilige Gees die Bybel geïnspireer het, en daarom weet moderne wetenskaplikes meer as die Heilige Gees en het dus hoër gesag. Dit is nou ingeval die Heilige Gees bestaan, wat Claassen in elk geval nie glo nie. Omdat beide teologie-professors geen probleem het om evolusie as ‘n feit te aanvaar nie, kon hulle hom nie hierop behoorlik antwoord nie.

Dit spel maar net weereens uit watter doodloopstraat Christelike teoloë hulself in mag bevind as hulle blind is vir die leuen van evolusie. Dan bly slegs die pad van die al meer liberale teologie vir hulle oor. Want daarvolgens kan mens maklik afstand doen van die God-geïnspireerde aard van die Bybel—dit is maar net ‘n menslike boek met menslike gedagtes oor God. In kort word die antwoord eenvoudig dat die Bybel verkeerd is daar waar dit nie klop met die mens se huidige opinie nie.
Sekerlik het die teologiestudente (en predikante wat daar was) by bogenoemde geleentheid te wete gekom hoe die wêreld dink, maar hoe om Bybelgelowig daarop te antwoord, was bitter min sprake van. Was die effek van die geleentheid dus tot opbou of afbreek van die Christelike geloof? Hoe gaan die leuens wat daar verkondig is en die onvoldoende antwoorde daarop, se negatiewe impak reggestel en omgekeer word? Het George Claassen enige oproep tot bekering daar ontvang van enige van die teologie-professors? Waar gaan die liberale teologie van sommige van die teoloë in ons kweekskole eindig?

Leopold Scholtz het op 5 Februarie 2010 in ‘n artikel “Ateïs mag predikant bly en sê God bestaan nie” in die Beeld berig dat ‘n predikant van die Protestantse Kerk in Nederland van sy preekstoel af verkondig dat God nie bestaan nie. “God is vir my geen wese nie, maar ‘n woord vir wat tussen mense kan gebeur,” het hy glo gesê. Lidmate in sy gemeente was baie ontsteld, maar sy kerkraad en die klassis van Zierikzee in die “oorweldigend konserwatief-Protestantse” provinsie Zeeland het bevind dat sy ateïsme nie die fondamente van die kerk aantas nie, en hulle het die prosedure teen hom afgesluit.

Die krities belangrike vraag is of die teologie, en spesifiek die NG kerk se teologie, nie op dieselfde pad is nie. Ten minste sal die kerk dan “pragtig” met ateïste kan saamwerk, en die droom van sommige kan verwesenlik van een, groot, “gelukkige”, humanistiese wêreld-kerk. En vir sommige lidmate mag God bestaan, vir ander nie, vir ander mag hy die Moslem-god wees, of Hindoe-gode, maar solank niemand net verkondig dat daar net een ware God en geloof is nie, want dit sou “fundamentalisties” wees. Almal kan tog saamstem oor die goeie waardes wat onder baie gelowe en groepe bestaan. En niemand mag natuurlik geoordeel word nie, behalwe die “fundamentaliste”. Mag God ons in sy genade van so ‘n Godlose kerk bewaar.

Die enigste ware antwoord is om na die Bybel en die God van die Bybel terug te keer. Die evolusie-hipotese het nie die Bybel verkeerd bewys nie, want dit faal oorweldigend op talle wetenskaplike terreine. Maar hoe sal teoloë dit ooit te wete kan kom as hulle die leuen glo dat skeppingsleer pseudo-wetenskap is en daarom nooit eers bereid wees om enigsins objektief na skeppingsleerders te luister nie?

Genetika is allesbehalwe ‘n doodskoot vir God—inteendeel dit is juis ‘n wonderlike bevestiging van God se alvermoë. Genetiese kodes is geweldig ingewikkeld en moes boonop van die begin af gelyktydig ‘n sender en ontvanger gehad het, want kode op hul eie is nutteloos. Kode het geen evolusionistiese rede om sonder ‘n ontvanger te bly bestaan tot laasgenoemde eendag te voorskyn kom nie. Om te dink dat dit oorspronklik deur ‘n toevallige proses soos evolusie tot stand gekom het, terwyl die statistiese kans onmoontlik klein is, bevestig ook maar dat evolusie ‘n geloof is—spesifiek die geloof dat daar geen Skepper betrokke was nie.

Die nuutste ontdekkings wys dat die genetiese kode nog vêr meer kompleks is as wat enigiemand ooit kon dink. Dit wys dat die mens nog heeltemal te min weet om byvoorbeeld persentasies toe te ken aan DNS-ooreenkomste tussen verskillende organismes soos byvoorbeeld die mens en die sjimpansee. Die DNS-kode word nie slegs lineêr, in een rigting en opeenvolgend gelees, soos die letters en woorde in ‘n boek nie. Dit word oorvleuelend gelees met verskillende begin- en eindpunte, en sommige kode word van voor na agter én van agter na voor gelees! Evolusioniste het op ‘n stadium gedink dat die 97% van die menslike genoom (genoom verwys na al die genetiese inligting) wat nie instruksies vir proteïenvervaardiging bevat nie, nutteloos is en dus die oortollige oorblyfsels van evolusie is. Intussen is ontdek dat hierdie gedagte, soos met die saak van die sogenaamde oorblyfsel-organe, geheel en al verkeerd is, en dat meeste genetiese inligting meta-inligting is—met ander woorde inligting oor inligting, dus inligting oor hoe om die inligting te gebruik.

Kan enigiemand regtig met eerlikheid glo dat sulke multi-dimensionele kode bloot deur natuurlike prosesse te voorskyn gekom het? Vir my is dit duidelik dat wetenskaplikes wat nie eers intelligente ontwerp wil oorweeg nie, ondanks glashelder voorbeelde soos hierdie, dit doen om hul eie geloofsredes.

Gaan die NG kerk daarin slaag om die effek van liberale, humanistiese doktrines te stuit en terug te keer na Bybelgebaseerde waarhede? Die kans lyk nie goed nie. Die geskiedenis het al meermale gewys dat sou ‘n kweekskool eers op ‘n liberale glybaan beland, dit baie selde omkeer. En omdat kweekskole die toekomstige predikante oplei, vermenigvuldig die afdraande effek baie vinnig. Die oplossing is gewoonlik ‘n nuwe groep wat van vooraf begin met Bybelse waardes—terug na die Bybel is immers waar die reformasie begin het. Gaan die NG kerk die normale geskiedenis verkeerd bewys? Ek glo by God is alles moontlik.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui