Waar staan die NG Kerk lidmaat nou in 2021?

Waar staan die gewone NG Kerk lidmaat nou (2021) ten opsigte van die Bybel, belydenisskrifte en dolering?

Deur Henriëtta Klaasing, 22 Maart 2021

Die doel van hierdie pamflet is om agtergrondinligting te verskaf oor die geskiedenis van die agteruitgang in die NG kerk, veral wat betref die gereformeerde benadering tot die Bybel en die insypeling van vrysinnige teologie. Dit wil ook bepaal waar kerkrade en lidmate tans (2021) staan ten opsigte van kennis aangaande die omvang van leerdwalings en dolering. Aan die einde sal kontakbesonderhede gegee word vir verdere navrae.

1. Agtergrondinligting.

Die dwalinge aangaande Skrifbeskouing en -interpretasie het geleidelik oor die afgelope 50-60 jaar by die NGK kerk plaasgevind. Postmodernisme, met sy verheerliking van twyfel en onsekerheid, verkies om alles te bevraagteken en saai twyfel oor dít wat in die Bybel staan (‘n Voorbeeld van die destruktiewe gevolge van postmodernisme is die “reis” van Dr Ben du Toit van gelowige tot ateis).

In die jaar 2005 het ‘n bom gebars by Tukkies se teologiese fakulteit: Ferdie Mulder is as teologiese student by Tukkies geskors omdat hy sy professore (onder andere Dirk Human, Julian Müller en Jurie le Roux) aangevat het oor hulle siening oor Jesus se opstanding. Van die reaksies was: ds Hanan Viljoen, dr Pieter Pelser en prof Dolf Britz van die Vrystaatse Universiteit het artikels en/of boeke geskryf om te wys op die dwaalleer in die NG kerk. Sarel van der Merwe het eweneens in daardie tyd DVD’s gemaak en versprei (Nuwe strominge in die teologie). Hierin word gewys op uitsprake van bekende teoloë soos onder meer Julian Müller, Jurie le Roux en Sakkie Spangenberg.

IS U BEWUS VAN DIE VOLGENDE ON-BYBELSE ALGEMENE SINODE BESLUITE?

In 2011 word besluit om ruimte te maak vir saamwoon en verskillende sienings oor die duiwel. In 2015 word besluit om ruimte te maak vir selfdegeslagverhoudings en hierdie besluit word in 2019 verder geneem deur ‘n omvattende besluit aangaande selfdegeslagverbintenisse. Hierdie Algemene Sinode het selfs so ver gegaan as om te bepaal dat ’n “formulier” vir selfdegeslagverbintenisse ontwikkel moet word. Is u verder bewus daarvan dat 11 voorstanders van homoseksualiteit in 2019 ‘n hofsaak teen die NG kerk gewen het?

2. Waar staan kerkrade/lidmate tans ten opsigte dolering, kennisname aangaande die dwaalleringe en verspreiding van inligting?

Hierdie pamflet wil Kerkrade en lidmate oproep om tot aksie oor te gaan soos die Here dit hulle op die hart mag lê. U is baie welkom om hierdie pamflet te dupliseer en dit so wyd as moontlik te versprei. U word ook aangemoedig om ander lidmate aan te spoor om tot aksie oor te gaan en te doleer.

3. Kontakinligting:

Besorgde lidmate het in 2010 ‘n boek geskryf “Die Trojaanse perd in die NG kerk – die kanker van evlousie en liberalisme” (hierdie boek is as e-boek te lees by www.glodiebybel.co.za ). Op hierdie webwerf is ‘n magdom van inligting. U kan ook daar kommentaar lewer en verdere inligting aanvra.

Vir verdere navrae kontak:

Henrietta Klaasing: hetta37@hotmail.com

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui