UV Teologiese Fakulteit omarm evolusie

Kyk ook:

Op 2 Februarie 2010 het die Universiteit van Pretoria (UP) se Teologiese Fakulteit die ateïs, George Claassen genooi om as gasspreker op te tree tydens hulle ope dag. Kort daarna was daar ’n versoek dat die skeppingsleerder, Mark Harwood, studente en belangstellendes ook toespreek, maar dit is geweier. Prof Julian Müller van UP het soos volg op die versoek gereageer:

“Dankie vir u vriendelike skrywe, maar ek kan nie aan u versoek voldoen nie. Die Fakulteit Teologie aan UP staan nie op ’n kreasionistiese standpunt nie en kan ongelukkig nie aan u ’n platform gee nie. Ons beskouing oor skepping is nie teenoor, en in teenstelling met, die evolusieteorie nie. Ons onderskryf die ‘seisoen van luister’, maar nie ten koste van gesonde, wetenskaplike ondersoeke nie.”

(Vir meer oor hierdie insident, lees UP Teologiese Fakulteit – Claassen in, Harwood uit.)

Nou skaar die Universiteit Vrystaat (UV) se Teologiese Fakulteit hom by ’n aanbieding van die planetarium op Navil Hill in Bloemfontein saam met BIOLOGOS CHRIST & CREATION. Biologos se uitgangspunt is om die evolusieleer met die Bybel te probeer versoen. Dit klink na ’n edele onderneming, maar die feit is dat die evolusieleer ’n heidense/ongelowige oorsprong het wat geheel en al nie met die Bybel versoenbaar is nie (kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?) en in die proses beïnvloed dit baie mense se geloof (kyk Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed).

Die volgende is deur die Sinode Vrystaat aan predikante versprei:

BIOLOGOS CHRIST & CREATION KONFERENSIE: Deelname aan hierdie geleentheid, vind per livestreaming plaas vanaf 29 tot 31 Maart 2017. Kontak vir Lyzette Hoffman by hoffmanl@ufs.ac.za indien julle meer inligting oor moontlike deelname in groepverband en via livestreaming, verlang – VBO-punte kan verdien word. Livestreaming en videos sal van die algemene lesings van die konferensie beskikbaar wees. Dit sal aangevul word deur plaaslike groepbesprekings by die Naval Hill Planetarium. Die konferensie self vind in Houston, Texas plaas. Mense kan individueel vir deelname per livestreaming registreer, maar die groepdeelname is baie goedkoper. Vir meer inligting oor die konferensie en die Biologos-organisasie, kyk gerus HIER.

Die Teologiese Fakulteit identifiseer hulleself so sterk met die saak dat leraars vir hulleself deur bywoning van die geleentheid VBO-punte daarvoor kan verdien. VBO staan vir “voortgesette bedienings ontwikkeling” en is ekwivalent aan die CPD-sisteem (continuing professional development) wat gebruik word in onder andere die mediese en ingenieursprofessies. Kyk ook VBO krediete: Hoe werk dit?

‘n Mens wonder wat moet gebeur voordat die NG Kerk se teologiese fakulteite ook bereid sal wees om die kant van skeppingsleerders aan te hoor.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui