Spanning binne NH Kerk bereik breekpunt

Kyk ook:

Spanning binne kerk bereik breekpunt | Volksblad

3 Junie 2012

Neels Jackson [in Volksblad]

PRETORIA. – Spanning binne die Hervormde Kerk het die naweek breekpunt bereik toe beswaardes ’n staat van belydenis teen die Hervormde Kerk verklaar het.

Verskeie gemeentes oorweeg dit blykbaar om hul bande met die Hervormde Kerk te verbreek.

Talle lede van die steedsHervormers, ’n beswaarde groep binne die kerk, het die staat van belydenis Saterdag op ’n saamtrek in Meyerspark onderteken.

Daarin verklaar hulle onder meer ’n besluit van die buitengewone algemene kerkvergadering (BAKV) van verlede jaar “verloën die evangelie van Jesus Christus as die opgestane Here”.

Met die besluit waarna die steedsHervormers verwys, het die BAKV gestaan by die standpunt van die vorige jaar se algemene kerkvergadering waarin die teologiese regverdiging van apartheid verwerp is.

Die steedsHervormers hou vol dat hul beswaar nie ’n politieke een is nie, maar dat dit gemik is op die onderliggende teologie van daardie besluit wat neerkom op ’n verloëning van Christus.

Die BAKV het dié beswaar geweeg en te lig bevind, maar die steedsHervormers het dit nou verhef tot ’n staat van belydenis.

Dit is een van die sterkste vorms van kerklike protes denkbaar. In 1982 het die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke dieselfde vorm van protes gebruik teen die Hervormde Kerk en NG Kerk se teologiese regverdiging van apartheid.

Die steedsHervomers se staat van belydenis kom nadat alle ander pogings om die spanning in die kerk by te lê misluk het.

Op Saterdag se vergadering, waar 370 Hervormde lidmate, 40 Hervormde predikante, asook belangstellendes uit ander kerke, teenwoordig was, is beklemtoon dat die ondertekening van die staat van belydenis ’n individuele keuse vir elkeen is.

Ondertekenaars moet nou teruggaan na hul gemeentes toe om te besluit oor die pad vorentoe.

Onder die steeds Hervormers was daar duidelik twee denkrigtings. Een groep wil steeds met die kerkleiding in die algemene kommissie praat, terwyl ander voel hulle het klaar gepraat.

Dié wat nog wil praat, het gesê hulle sal dit slegs doen as kerklike aanklagte teen die steedsHervormers gestaak word.

Minstens een predikant, ds. Jaap Steenkamp van Potchefstroom die Wilge, is reeds aangekla en daar is sprake van aanklagte teen ander leraars oor kwessies wat verband hou met die steedsHervormers se protes.

Adv. Roelof du Plessis, een van die steedsHervormers wat die groep ook met regsadvies bedien, het gesê dié wat voel hulle het klaar gepraat, kan hulle as gemeentes losmaak van die Hervormde Kerk en as onafhanklike gemeentes funksioneer.

Daar is volgens hom verskeie gemeentes wat dit oorweeg en formele besluite daaroor kan binnekort geneem word.

Dr. Johan Otto, voorsitter van die steedsHervormers, het egter beklemtoon dat hulle nie besig is met die stigting van ’n nuwe kerk of met kerkskeuring nie.

Ds. Dries Beukes, ondervoorsitter van die kommissie van die algemene kerkvergadering, het by navraag gesê die bewering dat die BAKV die evangelie van Jesus Christus as opgestane Here verloën, is heeltemal onwaar.

Hy meen die steedsHervormers het hulself nou buite die Hervormde Kerk geplaas. Hulle ignoreer besluite van die algemene kerkvergadering en meen slegs hul eie sienings is korrek.

Beukes sê in ’n sin is daar reeds ’n skeuring in die Hervormde Kerk.

Volksblad

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui