’n Evangelie waar Eddie in die middel is (Dana Snyman)

’n Evangelie waar Eddie in die middel is
2012-06-01

Dana Snyman

(Van Beeld gekopieer.)

Dominee Eddie is nie meer ons dominee nie. Hy het uit die Kerk bedank en uit die pastorie getrek. Die Kerk het te klein vir sy siel geword. Dominee Eddie is nou ’n eiendomsagent, hy verkoop nou huise. Of hy verkoop net tydelik huise, totdat sy eerste boek gepubliseer gaan word, want eintlik is dominee Eddie nou ’n skrywer.

Ons weet steeds wat in dominee Eddie se lewe aangaan, want wanneer hy nie huise verkoop nie, is dominee Eddie op Facebook. En dit is nogal dikwels. Ons hoef nie meer oor dominee Eddie te skinder nie, want dominee Eddie skinder nou oor homself, en ons kan alles lees.

Soms vertel dominee Eddie selfs vir ons op Facebook wanneer hy te veel wyn gedrink het.

Dit lyk net of dominee Eddie nie mooi seker is hoe hy deesdae wil lyk nie, want hy verander gedurig sy foto op Facebook: Party dae staan hy daar pynsend in jeans met ’n bandana om sy kop, dan is hy weer vrolik in ’n Madiba-hemp met ’n wynglas in sy hand. ’n Ander keer was daar selfs ’n gepubliseerde digter saam met dominee Eddie op sy foto; en daar was sommer jel in dominee Eddie se hare ook.

Eintlik preek dominee Eddie steeds vir ons, sommer op ’n Maandag of ’n Dinsdag – veral laat in die aand. Facebook is nou dominee Eddie se kansel.

Maar, anders as toe hy nog in die kerk was, probeer dominee Eddie ons nie meer tot ’n goeie, verantwoordelike lewe roer nie.

Dominee Eddle probeer ons nou skok. Hy het versigtig daarmee begin: Eers het hy net vir ons op Facebook vertel die Bybel maak vir hom nie oral meer sin nie. Ons moet eerder in die wetenskap vir antwoorde gaan soek. Dominee Eddie die het eensklaps Einstein en Dawkins se name begin gebruik soos hy eens op ’n tyd Salomo en Paulus se name gebruik het. Dir het ons skynbaar nie genoeg na sy sin geskok nie, want daarna het dominee Eddie begin om wilde goed oor seks en verhoudings op Facebook te sê. Ook dít het ons nie genoeg na sy sin geskok nie.

Deesdae vloek dominee Eddie op Facebook om ons te probeer skok. Dominee Eddie vloek alles en almal, want dominee Eddie is nou pal kwaad, woedend, die donner in: Hy is kwaad vir rugby. Hy is kwaad vir Afrikaners, die spul idiote. Hy is kwaad oor sy hele verlede. En hoekom de hel is daar steeds skole waar kinders godsdiensopvoeding kry?

Dit lyk of dominee Eddie dink as hy ons skok, sal ons diep oor dinge soos rugby en die lewe begin dink. Tog lyk dit of dominee Eddie homself ook soms met sy vloekery en woede op
Facebook skok. Soms verwyder hy dit wat hy geskryf het ná ’n ruk van sy Facebook-blad af.

Dominee Eddie kan dit doen, want hy is deesdae die middelpunt van die nuwe evangelie waarin hy glo.

Nou die dag het dominee Eddie op Facebook geadverteer hy verkoop nou sy Audi. Dominee Eddie is verlore, heeltemal verlore sonder ons.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui