Satiriese opsomming van die NG Kerk se krisis, moontlike oplossings asook die inkonsekwente denke en ondermynende agendas van die liberales

Satiriese opsomming van die NG Kerk se krisis, moontlike oplossings asook die inkonsekwente denke en ondermynende agendas van die liberales

Ds Pieter Prinsloo (NGK Kroonstad-Wes dolerend)

Oktober 2021

Aan ons geliefde dolerende broers en susters in die NGK

Ons as liberales in die NGK rig graag in groot liefde aan julle die volgende skrywe. Ons is baie lief vir julle en pleit by julle om ons te glo as ons sê dat ons geraak is deur julle seer en dat ons julle ALTYD hoor as julle praat oor hierdie seer. Ons liberales wil julle ook graag verseker dat ons erns maak met die besluit van AS 2019 dat ons in die NGK, te midde van ‘n vasgelooptheid van Skrifverstaan, vir mekaar ruimte moet gee. Ons wil julle daarom uit ons harte verseker dat ons julle hoor as julle die volgende sê:

  • Ons hoor julle as julle sê dat ons julle beskrywingspunte al vir jare ignoreer by Sinodes.
  • Ons hoor julle as julle sê dat ons die Skrif, Belydenis en Kerkorde ignoreer en manipuleer.
  • Ons hoor julle as julle sê dat julle ons ondermyning van Skrif, Belydenis en Kerkorde afstootlik vind.
  • Ons hoor julle as julle sê dat julle alle vertroue verloor het in die drie teologiese fakulteite waarmee die NGK tans kontrakte het.
  • Ons hoor julle as julle sê dat die Teologiese Skool by Potchefstroom voldoen aan alle kerkordelike vereistes van die NGK.
  • Ons hoor julle as julle sê dat julle niks meer in gemeen het met ons nie.
  • Ons hoor julle as julle sê dat ons die NGK se strukture gekaap het vir valse leer.
  • Ons hoor julle as julle sê dat julle nie bereid is om julle gemeente-eiendom en finansies ook nog deur ons te laat kaap nie, en dat julle daarom nie net sal uittree uit die verband uit, met moontlike verlies van eiendom ensovoorts nie.
  • Ons hoor julle as julle sê dat julle ‘n veel groter kerkeenheid beleef met gemeentes uit talle ander kerkgroeperinge as met ons wat Skrif, Belydenis en Kerkorde so ignoreer.
  • Ons hoor julle as julle sê dat julle in ‘n vasgeloopte NGK, in die belang daarvan om voortgaande groeiende konflik te vermy, toegelaat moet word om op kerkordelike wyse julle eie streeksinode te kry.
  • Ons hoor julle as julle sê dat daar dus ‘n eenvoudige kerkordelike oplossing is vir hierdie groeiende konflik en spanning wat ons veroorsaak het.
  • Ons hoor julle as julle sê dat die Kerkorde dit moontlik maak dat alle NG gemeentes bloot met kerkraadsbesluite kan stem of hulle hulle wil voeg by die ander streeksinodes van die Algemene Sinode, of by die streeksinode waar julle as dolerendes ‘n eenheid wil vorm. Die AS kan gemeentes se keuses dan in almal se belang bloot goedkeur.
  • Ons hoor julle as julle vra dat dit die Vrystaatse Sinode moet wees omdat dit sentraal is vir al hierdie dolerende gemeentes van oor die land.
  • Ons hoor julle ook as julle verduidelik dat standplaaswisseling van leraars daarna geleidelik oor ‘n paar jaar uitfaseer kan word.
  • Ons hoor julle en ons waardeer julle eerlikheid.

Ons het egter besluit dat ons so lief is vir julle dat ons bereid is om julle te versmoor met ons liefde eerder as om julle enige ruimte te gee om ‘n eie streeksinode met eie teologiese opleiding te vorm. Moet dit asseblief nie sien as moedswilligheid en liefdeloosheid of dat daar enige bedekte agenda aan ons kant is nie. Ons is net te lief vir julle om julle te laat gaan al verag julle ons. Julle weet tog dat ons liberales die mense van liefde is en dat slegs julle dolerendes liefdeloos kan optree. Ons harte breek daarom dat ons uit liefde geen ruimte vir julle kan skep nie, maar getrou aan ons aard moet ons in liefde dink aan ‘n paar dinge: ons liberale medeleraars in behoudende gemeentes moet meer kans kry om die gemeentes se liefdelose harte te verander; ons vriende by die liberale teologiese fakulteite sal dalk ook nie meer studente kry om op te lei as ons aan julle ruimte gee om julle eie streeksinode en teologiese fakulteit te vorm nie. Ons prioriteit vir ons eie liberale doelwit om die NGK geleidelik te deursuur met ons teologie van liefde vra dat julle asseblief net geduldig moet bly met ons; ons beplan om binne vyf jaar vanuit die libberale teologiese fakulteite die NGK so te deursuur met ons teologie van liefde dat alle liefdelose teologiese strome in die NGK met hierdie golf van liefde verswelg sal wees. Ons vertrou julle het begrip dat ons hierdie pad van liefde en eenheid saam moet loop tot daardie blye dag aanbreek wanneer ons teologie van liefde alles in almal sal wees.

Ons wil net laastens weereens bevestig dat ons lief is vir julle en dat ons julle seer hoor.

Liefdevolle groete

Die Liberales

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui