Gekeer om te studeer

Kyk ook:

Hierdie artikel het ook in die Volksblad verskyn onder die opskrif “Student skuldig bevind, gestraf”.

*******

Gekeer om te studeer | Beeld

Beeld, 22 Desember 2006

Student gestraf na klagte teen predikante

Die Pretoriase student wat teologiese vraagtekens oor verskeie van sy dosente en bekende predikante van die NG Kerk geplaas het, is nou ook deur die Universiteit van Pretoria skuldig bevind en gestraf.

Mnr. Ferdie Mulder, wat aanklagte van dwaalleer teen die predikante en die dosente ingedien het, mag nou nie weer by die fakulteit teologie inskryf vir verdere studie nie.

Die NG Kerk se kuratorium het vroeër reeds ’n stokkie voor sy legitimasie en ’n moontlike loopbaan as predikant in die kerk gesteek.

Die hele sage het middel verlede jaar begin toe Mulder ’n dokument met sy bedenkinge oor die dosente se leer wyd in die kerk versprei het.

Prof. Niek Grové, registrateur van die universiteit, sê dit het nie net die universiteit se goeie naam nie, maar ook die integriteit van die betrokke dosente aangetas en die vertrouensverhouding tussen die dosente en hul kollegas en ander studente in gedrang gebring.

Die universiteit tet daarom ’n tugondersoek teen Mulder begin. Oudregter Buddy Swart het dié ondersoek wat byna vier dae geduur het, gelei.

Daar is bevind dat Mulder vals bewerings of beskuldigings gemaak het en dat hy die dosente valslik van oneerlikheid of waarskynlike oneerlikheid beskuldig het. Hy het daarmee die goeie naam van die universiteit in gedrang gebring en die algemene onderrig aan die fakulteit teologie benadeel.

Grové sê in ’n verklaring die universiteit maak nie gewoonlik besonderhede bekend van tugondersoeke teen studente nie.

Mulder het egter self die saak die openbare domein ingedra. Omdat dit ook belangrike gevolge gehad het vir al die betrokkenes, is dit belangrik dat ouers, oudstudente en lidmate van die betrokke kerke kennis neem van wat gebeur het.

Mulder is vroeër ook deur die kuratorium skuldig bevind aan oneerlikheid in sy hantering van die saak.

Sy klagte van dwaalleer teen dosente en predikante is ook almal deur die betrokke ringe van die hand gewys.

Mulder self wou gister nie kommentaar lewer oor die jongste uitspraak teen hom of oor sy toekomsplanne nie.

Hy het volstaan met die opmerking dat hy baie opgewonde is oor die toekoms”.

njackson@beeld.com

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui