Opmerkinge oor die besluit van die Algemene Sinode oor dieselfde geslag huwelike ens.

Kyk ook:

Die volgende artikel is van hier gekopieer.

*******

Opmerkinge oor die besluit van die Algemene Sinode oor dieselfde geslag huwelike ens.

Sjoe, die NG Kerk het hier ’n streep in die grond getrek en gekies wie hy wil dien en hoekom.

Enigiemand wat die Rapport se hoofberig op die voorblad en Hanlie se gesprek met die Moderator gelees het, weet nou hoe die NG Kerk oor hierdie dinge dink en hoekom die NG Kerk, ten spyte van 7 baie direkte Skrifgedeeltes teen homoseksualisme, gekies het om in sy etiek eerder te kies om mense tevrede te stel.

Ek wil dit so teken:

Daar is drie fondasies waarop ’n mens kan kies om jou besluite (en ook etiese besluite) te baseer.

Die eerste fondasie is: Godsdiens (wette, godsdienstige reëls en tradisies en leringe van jou betrokke deel van die godsdienstige mensgemaakte struktuur waaraan jy behoort en waaraan jy lojaal wil wees).

Die tweede fondasie is: Polities, in lyn met die humanistiese standpunte van die gemeenskap rondom jou en wat polities as “reg” beskou word.

En die derde fondasie is die Koninkryk van God waarin Jesus Christus die Koning en Here is en Sy wil en Woord die enigste woord oor enigiets is. Hier is die Bybel ons finale toets as geïnspireerde Woord van die lewende God.

Dit is dus duidelik wat die NG Kerk in hierdie besluit gekies het as fondasie: Politiek, eerstens en Godsdiens tweedens.

So het die NG Kerk, na sy besluite van 2007 reeds in die verband, tydens hierdie sinode ook sommer alle onduidelikheid uit die weggeruim en sommer in die proses goedkeuring gegee aan die wettigheid van selfdegeslag huwelike wat reeds sedert 1 Des. 2006 ook in Suid-Afrika volgens wetgewing wettig is.

Omdat die leiers van die NG Kerk vooraf verwag het dat Jan Alleman in die NG Kerk nie hiermee sommer gediend sal wees nie, skryf die Moderatuur die Pastorale brief van die Algemene Sinode om dadelik na die Algemene Sinode aan alle gemeentes uit te stuur en te vra dat daar in alle gemeentes gemeentevergaderings gehou sal word om die plofbare situasie te ontlont so gou moontlik.

Nou sal elke gemeente en elke leraar en elke gelowige volgeling van Jesus vir hulleself moet besluit wie dien hulle en aan wie gaan hulle lojaal wees: God en Christus, of die NG Kerk?

Die NG Gemeente, Moreletapark, het klaar besluit en hier is hulle standpunt wat hulle openbaar gemaak het:

Standpunt van die Kerkraad van Moreletapark Gemeente oor homoseksualiteit

  1. Ons is oortuig dat die Skrif ons leer dat ’n huwelik die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is, wat mekaar met die liefde van Christus versorg. Ons aanvaar dat die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kom is tussen een man en een vrou waar Christus in die middelpunt is.
  2. Ons glo dat die Skrif daaroor duidelik is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik teen God se wil en plan is.
  3. Ons glo dat die beoefening van homoseksualiteit teen God se wil en plan is soos alle ander sondes waaroor die Skrif praat. Vir al hierdie sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die bloed van Jesus Christus.
  4. Die gemeente se deure staan met die liefde en deernis van Christus oop vir alle mense. Wanneer ’n persoon egter in enige sonde volhard kan hy/sy nie in ’n leiersposisie (leraar, personeel, bestuurslid, bedieningsleier of aanbieder) in ons gemeente dien nie.
  5. Ons wil steeds as kerk die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense genade, vergifnis en heling bied.

VERDERE OPMERKINGS VAN MY KANT AF HIEROOR

Hier is eintlik soveel sake wat deur hierdie besluit van die Algemene Sinode geraak word, soos:

Wie het die reg om die begrip “huwelik” te definieer?

Het die Staat die reg? Na my oordeel. Nee.

Het individuele geïnstitueerde kerke die reg? Weereens, na my oordeel, nee.

Na my oordeel, as gelowige volgeling van Jesus Christus, is God die Een wat die begrip “huwelik” definieer en dit het Hy reeds in Gen. 1 en 2, reg aan die begin van die skepping, gedoen.

Dit is naamlik ’n lewenslange verhouding tussen een man en een vrou, wat beleef het God het hulle vir mekaar bedoel om mekaar aan te vul en mekaar se lewenslange “helper” en “maat” te wees.

Deel van hierdie verhouding is ook die seksuele verhouding tussen hierdie man en hierdie vrou binne hierdie huwelik deel van God se genade-goedere aan hulle. Enige ander vorm van seks is volgens God teen Sy wil en orde.

En soos in enige ding waar God Sy wil en plan vir ons uitgespel het, is dit ons keuse of ons dit wil gehoorsaam of nie.

Soos dit daar in Deut. 30:15 so treffend staan: “Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou.”

Die OAV vertaal dit so: “Kyk, ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk.”

Ons keuses uit vrye wil, ook in die verband, kan of tot lewe lei of tot die dood.

Wat die seksuele betref, het God ook seks bedoel as tussen hierdie een man en een vrou binne hierdie huwelik. Dit is die “normale” en “natuurlike” soos Hy dit bedoel het. En dit is hierna wat Paulus verwys in Rom. 1:26 en 27 as daar sprake is van “die natuurlike omgang”, of fusiken in die Grieks?

Natuurlike omgang” beteken tog in doodgewone Jan Alleman se taal: die regte “tools” vir die regte “job” op die regte plek, soos God dit bedoel het!

Dit is nie vir my moontlik om hier reg te laat geskied aan alles wat in die Nuwe Testament en die res van die Skrif hieroor gesê word nie.

Daarom wil ek graag elkeen wat opreg soek na wat God self in Sy Woord vir ons hieroor sê in gedeeltes soos Rom. 1:18 e.v.; 1 Kor. 6; van die gedeeltes in Levitikus; en dan dit wat in Gen. 1 en 2 in die verband staan, uitnooi om na een van die wêreld se beste Nuwe-Testamentici, dr. Robert Gagnon, se uitstekende uiteensetting hiervan te luister (vir sowat 26 minute) deur die volgende skakel te druk:

God’s Design for Human Sexual Behavior – Dr. Robert Gagnon – Pt 2

Dit is dus duidelik dat die fundamentele beginsels op grond waarvan die besluit van die Algemene Sinode sy besluit gegrond het, nie meer eksklusief op die Woord van die Koning gebaseer is nie. En daaroor staan hulle verantwoordelik teenoor die Koning uiteindelik.

Wat die Algemene Sinode se besluit nou en reeds in 2007 so aanvegbaar maak, is dat hulle besluit het dat die seksuele voorkeur van mense en dus ook diegene wat ’n voorkeur het vir dieselfde geslag as hulle, ’n gegewe geskape werklikheid is. Dit “is dus net so” en is dus nie ’n keuse van die betrokkenes self nie.

Behalwe dat dit reeds net nog ’n uitvloeisel is van die fundamentele beginsels wat die Alg Sinode gekies het om sy besluite op te baseer, is dit direk in teenstelling met van die nuutste navorsing in die neuro-wetenskap wat iemand soos Dr. Caroline Leaf vir ons so treffend in haar studies aantoon.

Alhoewel dit geweldig kompleks is en onmoontlik om hier reg aan te laat geskied, wil ek net een sin van haar aanhaal wat van hierdie navorsingsresultate saamvat: “Scientists are discovering precise pathways by which changes in human thinking operates as signals that activate genetic expression, which then produce changes in our brains and bodies.” (Bl. 50, HOW TO SWITCH ON YOUR BRAIN. 2013, Baker Books).

Dit bly vir my ’n raaisel dat die NG Kerk so “akkommoderend” kan wees wat sekere sake betref, terwyl hy onversetlik kan weier om sienings te akkommodeer waarvoor daar duidelike Skrifgronde is (dink maar net aan die hele kwessie van die doop van gelowiges).

Met die 500-jarige viering van die Reformasie wat oor twee jaar voorlê, is dit baie duidelik dat die NG Kerk as geïnstitusionaliseerde kerk weer beslis aan die voete van Jesus Christus as Verlosser, Koning en Here, sal moet gaan besin oor die kern vrae wat die Reformasie-gebeure vandag aan ons vra. Volgens my oordeel is dit ook ’n geleentheid vir weer-reformeer, of moet ek eerder sê, ’n totale rewolusie en oorbou op die oorspronklike Woord-fondament soos die oorspronklike Nuwe Testamentiese gemeentes van destyds moes doen. En hier sal dit dan vrae moet aanspreek soos: Glo ons steeds dat die Bybel die geïnspireerde woord is van die lewende God? En hoe moet ons dit vandag interpreteer om aan ons oortuiging hieroor reg te laat geskied?

Natuurlik het hierdie hele krisis wat in gemeentes en lidmate se lewens plaasgevind het n.a.v. hierdie besluit van die Algemene Sinode ook weer ’n geleentheid aan almal gegee om te herbesin oor ons hele Kerk-begrip. Dit raak sake soos: Hoe rym ons die feit dat Jesus sê Sy Kerk is een, met die realiteit dat daar volgens mense wat sulke dinge tel, net in SA meer as 30 000 verskillende “kerke” is, waarvan die NG Kerk een is? As ek en jy as volgelinge van Jesus reeds deel is van Sy Een Kerk, is ’n ekstra lojaliteit aan ’n mensgemaakte geïnstitusionaliseerde kerk nie in ’n sin demonies nie? Wie dien ons en praat ons agterna as die mensgemaakte geïnstitusionaliseerde kerk waarvan ek tans deel is, anders sê en doen as wat Jesus self in Sy Woord vir ons sê? Wie is dan werklik my Here en Koning?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui