NG gemeente Groblersdal se standpunt oor SGV

Kyk ook:

Op die Kerkraadsvergadering van 1 November 2015 het die kerkraad die volgende besluit geneem tov homoseksualiteit:

  1. Ons is oortuig dat die Skrif ons leer dat ’n huwelik ’n lewenlange verbintenis is tussen een man en een vrou wat mekaar met die liefde van Christus versorg. Ons aanvaar dat die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kom, is tussen een man en een vrou waar Christus die middelpunt is.
  2. Ons glo dat die Skrif daaroor duidelik is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik sonde is, dus ook homoseksuele verhoudinge. Ons glo dat die Skrif duidelik is daaroor dat homoseksualiteit sonde is.
  3. Ons glo dat die beoefening van homoseksualiteit net so ’n sonde is soos alle anders sondes waaroor die Skrif praat en daarom sonder ons homoseksuele gedrag nie uit as onvergeeflike sonde nie.
  4. Die gemeente se deure staan met die liefde en deernis van Christus oop vir alle mense. Wanneer ’n persoon egter in enige sonde volhard, kan ons dit nie aanvaar of goedkeur nie en daarom kwalifiseer hy/sy nie om in ’n leiersposisie in ons gemeente te dien nie want God is ’n Heilige God en Sy kerk moet heilig wees net soos Hy.
  5. Ons wil steeds as die kerk die oop arms van Jesus wees, wat vir alle sondaars genade, vergifnis en heling bied. Ons ervaar in die praktyk in ons gemeente dat die liefde van God sondaars red en daar verlossing en hoop vir alle sondaars is, wat hulleself aan Christus verbind en so hulle ou lewe beëindig.

Verdere verduideliking:

  1. Onder leiersposisie bedoel ons leraar, personeel, bestuurslid, bedieningsleier of aanbieder.
  2. In die lig van hierdie besluit aanvaar hierdie kerkraad en gemeente geen selfdegeslagverbintenisse nie omdat ons ook glo dat dit volgens die Skrif direk in stryd is met God se plan vir die huwelik. Daarom sal predikante verbonde aan hierdie gemeente nie selfdegeslag verbintenisse bevestig nie.
  3. Dat hierdie besluit van die kerkraad aan die Ring en die Oostelike Sinode deurgegee word om daarmee ons standpunt teenoor die besluit van die Algemene Sinode te stel en dat ons nie die besluit van die Algemene Sinode oor homoseksualiteit en selfdegeslag verbintenisse aanvaar nie.
  4. Die drie Skrifgedeeltes wat die wil van God vir ons lewe hieroor die duidelikste is:
    1. Rom 1:18-3:20 – Dit is ’n klagstaat waarin daar 3 skuldbewyse uitgespel word, waarvan die 1ste skuldbewys verwys na die seksuele sondes heteroseksueel en homoseksueel buite die huwelik as ’n ontkenning van God se orde en bestaan en hoe die mens in sy eie selfsug voortlewe. Selfdegeslag seksuele verhoudinge ontken daarmee ook die natuurlike liggaam wat God vir ons gemaak het en misbruik dit op onnatuutlike wyse en so kan jou liggaam nie deel van die tempel van God wees nie.
    2. 1 Tim 1:9 – hier is dit deel van die sondelys vir wettelose en ongehoorsame mense en die 7de gebod word parallel teenoor die immorele ( pornoi) en die sodomietiese (arsenokoita) gedrag gestel as beskrywings van alle sondige seksuele gedrag buite die huwelik vir sowel heteroseksuele as homoseksuele gedrag. Met die 10 gebooie as God se permanente riglyne vir ons lewe ongeag die tyd en omstandighede is hierdie uitspraak algeheel geldend.
    3. 1 Tim 1:10 en 1 Kor 6:9 se gebruik van arsenikoites wys onomwonde dat die Bybel homoseksuele gedrag in die mees algemeenste en mees wydste teologiese taal as sonde beskou. God as Skepper, Wetgewer en Koning se oordeel oor hierdie sonde is baie duidelik.

Oor die leer en die lewe van leiers in die gemeente is Titus 1:6-9 en 1 Tim 3:1-5 baie duidelik dat hulle in ’n getroue huweliksverhouding moet staan as voorbeeld.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui