Hanlie Retief gesels met Nelis Janse van Rensburg

Kyk ook:

Die NG Kerk se nuwe moderator is duidelik progay. ’n Mens kry die idee dat dit belangriker is wat ander mense van die kerk dink as wat God van die kerk dink.

**************

Hanlie Retief gesels met Nelis Janse van Rensburg

Die cool is deur die kerk

Hanlie Retief, Sondag 11 Oktober 2015 05:10

Drie dae agter die stuur van die NGK-boot, en hy tref die witwaters. Ds. Nelis Janse van Rensburg, ’n boorling van Riversdal met ’n bry om dit te bewys, is die nuwe moderator van die NG Kerk. Foto: Nelius Rademan

‘As daar ooit ’n dag in sy geskiedenis was wat die NG Kerk ondubbelsinnig gesê het die kerk glo in die menswaardigheid van alle mense, dan’s dit vandag.

“Die NG Kerk het ’n fundamentele skuif gemaak in sy houding teenoor mense, en ons moet dit raaksien. Dit het ons kerk se geskiedenis op sy kop kom draai.”

Daar’s nie staccato’s in ds. Nelis Janse van Rensburg se woorde nie. Kalm. Gerusstellend. Nes die splinternuwe moderator die debat hanteer het toe die NG Kerk finaal uit die kas geklim het. As hy “kerrrk” sê, kry sy ronde Riversdalse bry behoorlik vlerke.

“Wat hier gebeur het, is lotsbepalend van hoe mense die NG Kerk gaan beleef – binne én buite die kerk. Nooit weer sal ons beskuldig kan word dat ons die waarde van mense minder ag nie.” [So wat ander mense van die NG Kerk dink is vir hom belangriker as wat God van die kerk dink.]

Skaars ure vroeër het die sinode bepalend ja gestem dat gay predikante in die NG Kerk binne ’n burgerlike verbintenis hul seksualiteit mag uitleef. Tot nou toe moes hulle selibaat bly. Predikante mag nou gay paartjies trou en gays mag in kerkampte verkies word. Gemeentes mag egter self besluit of hulle dit wil doen.

Hy’s ook skaars drie dae in die voorsitterstoel, en dié nuwe moderator het saam met sy sinode ’n dubbele Rubicon oorgesteek: nie net oor gays nie, maar ook oor die Belhar-belydenis.

Die NG Kerk se sinodes kan nou hul eie belydenisskrifte aanvaar wat nie in stryd is met die Bybel en die kerk se ander belydenisskrifte nie. Dit gee die Wes- en Suid-Kaapland-sinode (en ander wat graag wil) die geleentheid om die Belhar-belydenis amptelik te aanvaar.

“Met albei dié kwessies definieer die kerk homself as ’n baie ruimer huis.”

Die gay-debat is wêreldwyd ’n brandnetel vir kerke. Nadat een van die hoofstroomkerke in Amerika gays verwelkom het, het dié kerk geskeur. Die meeste kerke sit steeds op die draad hieroor. En hier kom ’n Afrikaanse kerk, ná apartheid, en doen ’n profetiese ding, sê ’n kerkkenner.

Die groot vraag is nou: Gaan die NGK óók skeur?

“Dis seker moontlik, maar ek sal so teleurgesteld wees. Ek glo die gom wat ons as kerk bymekaarhou – ons kernbelydenis, die gravitas van ons gesamentlike oortuigings – is sterker as die kwessies wat ons verdeel.”

Nelis sê daar’s ’n stuk tegemoetkoming in albei hierdie besluite ingebou. Oor die gay-kwessie het ’n leraar wat nie saamstem met die sinodebesluit nie, ruimte binne sy eie gemeente om sy kerkraad anders te lei. Oor Belhar kan sinodes self besluit.

Maar moet die NG Kerk tot elke prys verenig bly? Daar’s duidelik twee opponerende denkstrome.

“Ja. En dis nie net oppervlakkige verskille nie, dis fundamenteel.”

Dis hoekom daar nou skeuringspraatjies is.

“Maar ek glo daar’s genoeg gemeenskaplike oortuiging, pássievolle oortuiging om ons bymekaar te hou,” sê hy met ewe passievolle oortuiging.

Hy bly versigtig stil. Sê dan: “Ek is bang vir wat jy gaan skryf. Dit gaan vorentoe moeilik wees om almal bymekaar te hou – die kerk is vir my belangrik, en elke lidmaat is vir my belangrik. Ek’s bang daar’s mense wat seerkry en ek wil graag ’n pad saam met hulle stap.”

Wat hom moed gee, is dat dit so ’n “verskriklik bedagsame” debat was. “Ons het die wonderlikste sinode gehad. Daar’s ’n groot behoefte aan begrip vir mekaar.”

Vrydag is in die media berig oor “trane wat vrylik gevloei het”, oor dr. André Bartlett wat die gay-besluit beskryf as ’n “Kairos-oomblik” vir die kerk.

“Ja-ja, daar’s sulke woorde gebruik,” sê hy, en jy sien sommer voor jou hoe hy hom bekommer, dié skeidsregter, oor te veel emosie, oor wenspan-lekkerkry.

Hy en die nuwe assessor, ds. Dirkie van der Spuy van die Moreletapark-megagemeente in Pretoria, beplan reeds ’n versoenende videogreep vir gemeentes. “Ek en Dirkie moet nou ’n pad saam loop.”

Die meer behoudende ds. Van der Spuy was aanvanklik ’n gunsteling om moderator te word, nadat die vorige assessor, dr. Braam Hanekom, by die noordelike sinodes in onguns verval het oor sy hantering van die Belhar-belydenis se stemmery. Gewoonlik word die assessor die volgende moderator.

Wat waarskynlik vir ­Nelis die deurslag gegee het, is sy sterk verhoudings met kollegas – ook in die noordelike sinodes. En ja, die noord-suid-suspisies is groot, lag hy.

“Ek is verskriklik jammer vir Braam, dis ’n verlies dat hy nie in ’n pos verkies is nie. Hy’t ’n groot ekumeniese netwerk, baie groter as myne. En sy openbare vaardighede is uitstekend, beter as wat ek ooit kan droom. Ek sal hom so veel moontlik betrek.”

Dit was vir hom ’n verrassing toe hy tot moderator verkies is.

“As ek enigsins gedink het ek het ’n kans, sou ek beter voorberei het, die agenda darem beter ingestudeer het,” lag hy. “Toe ek laas Sondag hier kom en ’n hele klomp kollegas sê sterkte met die verkiesing, was my gevoel: O gaats, hulle’s ernstig hieroor. En toe slaap ek daai aand báie sleg.”

Sy vrou, Aletta, is dadelik getwiet ná die uitslag, en toe hy weer sien, toe’t sy haar tas in die Welgemoed-pastorie daar onder Tygerberg gepak, Gauteng toe gevlieg en hom in die sinodesaal tegemoet gestap. Hulle’s 31 jaar getroud.

Dit was vir hom nooit ’n ambisie om moderator te word nie, sê hy. “Wat ek wel weet: In die kerk is verhoudinge alles. Met wie jy jou omring.”

Jare terug, toe iemand vir sy pa vra hoe dit met Nelis gaan, het hy geantwoord: “Ek kan nie veel van hom sê nie, maar hy omring hom met wonderlike mense.”

“Ek dag toe dís wat ek moet doen. Dit het so half ’n lewensmotto geword: Ek het my nog altyd omring met talentvolle mense.”

Sy pa, Helgard, was 20 jaar lank ’n parlementslid en waarnemende speaker. Tydens ’n verkiesing in die Mosselbaai-kiesafdeling – Nelis was nog ’n tiener – het die opposisieparty in ’n buurdorp verkondig dat sy pa, ’n getroue kerkganger, nie kerk toe gaan nie. Nelis, erg verontwaardig, dring toe daarop aan dat sy pa iets daaromtrent doen.

“Nee, kind, ek gaan iets doen,” sê sy pa rustig. “Maar wat?” vra Nelis. “Ek gaan Sondag kerk toe.”

Ook dit het vir Nelis ’n sleutelnoot vir sy openbare lewe geword: “Jy verdedig nie jou karakter deur in ’n debat daaroor te gaan nie, jy doen dit net deur karaktervol te lewe.”

Dis vir hom “verskriklik belangrik” om die sinode se vertroue te behou. “Die ou in die voorsitterstoel moet almal laat veilig voel in die vergadering, sodat hulle vrylik hul sê kan sê.”

Toe Nelis die TV-kameras met die gay-debat in die vergadersaal verbied het, het enkele sinodegangers dit bevraagteken. As die NG Kerk deursigtigheid in sake soos Nkandla vereis, moet die kerk mos self deursigtig wees, was die reaksie.

“Ek twyfel nie dat ek die regte ding gedoen het nie,” sê Nelis. “Ek het al by sinodes opgetree en terwyl ek praat, sien ek op my selfoon twiets oor wat ek twee sinne vroeër gesê het. Twitter, Instagram, Facebook, joernaliste – hier’s oorgenoeg deursigtigheid. Maar kameras? Hier’s ’n klomp broos mense in die vergadering wat dink: Gits, ek is vanaand op nasionale TV.

“Nee. Ons moet hul broosheid omarm en ’n veilige plek skep waar hulle kan práát.”

In die debat waar 31 sinodegangers in drieminuut-sessies vir oulaas voor die stemming hul sê kon sê, het die emosies hoog geloop, maar “liefde” en “begrip” was omtrent in elke tweede sin.

Dis soveel anders as 20 jaar terug, toe die gay-gesprek in die NGK begin het, sê Nelis.

“Dit was toe veel growwer, meer robuust. Daar’t ’n genaakbaarheid ingetree. Dis fenomenaal. Daar’s nie baie sulke kerke in die ­wêreld nie. Ons is next level, soos die ­jonges sê.”

Anders as sy voorganger, prof. Nelus Niemandt, wat hom vroeër vanjaar sterk uitgespreek het dat gays in die kerk verwelkom moet word, wil Nelis nie in die openbaar sterk uitsprake oor sy persoonlike standpunt maak nie.

Die sewe tekste in die Bybel wat na homoseksualiteit verwys, is belangrik, sê hy, en jy kan dit nie sommer ignoreer nie. “Maar ons het te doen met twee kontekste, toe en nou, en daar is verskillende interpretasies van die oorspronklike konteks. Hou bou ons nou ’n brug tussen twee onstatiese werklikhede?

“Dis ook verskriklik belangrik dat ons verstaan ons het ’n Christelike etiek, nie net ’n Bybelse een nie. As Christene volg ons Christus, en tussen dié twee werklikhede moet ons ons afvra: Hoe volg ons Jesus Christus hierin?

“Ons moet verstaan Hy maak die binneruimte van die geloofsgemeenskap al hoe groter, skuif die grense al ­hoe wyer . . .”

In die middaguur, terwyl teologiestudente vir hom ’n bord kos aandra – wat hy weer nie kans kry om te eet nie – begin dié gemoedelike man huiwerig, onwillig amper, ’n storie uit sy lewe vertel.

Hy was die derde van vier kinders. Sy sussie, ’n jaar ouer, was intellektueel erg gestremd. “Vandat ek gebore is, het ek met intellektuele gestremdheid te doen. Sy moes baie hulp en aandag kry, en dit het van mý ’n aandagsoeker gemaak. Stout. Bedrywig.

“By die skool is ek heeltyd gelooi, dit het ’n bietjie van ’n identiteitsding geword, so ek het emosioneel baie stadig grootgeword. Toe ek op Maties in Dagbreek beland, was dit soos die hemel. Ek het maar klasse gemis,” grap hy.

Hy’t teologie gaan studeer nadat hy op hoërskool begin Sondagskool hou het op die plase buite Riversdal saam met ’n VGK-lekeprediker met die naam van Popeye. “So ’n kort mannetjie met blok-armpies – ek wens ek kan hom weer raakloop.”

In daardie Sondagklassies, en met sy gestremde sussie by die huis, het iets in Nelis begin roer: die aanvoeling vir die broosheid van mense. “Wat is die waarde van mense, het ek gewonder. Wat is ’n mens werd wat arm is, wat gestremd is?

“En later word dit my lewe se grootste ironie: Net toe ek dink ek het al die lesse oor intellektuele gestremdheid geleer, toe pitch Nico op . . .”

Sy seun. Intellektueel gestremd. En “bepalend vir wie en wat ek is en doen. Daai deernis waaraan jy gedurig herinner word, jy staan op daarmee en jy gaan slaap daarmee: Die waarde van menswees, wat nie bepaal word deur funksionaliteit nie, maar dit wat God in sy liefde toegesê het.

“Dis die tema van my lewe.”

Ek onthou Nelis vroeër in die voorsitterstoel, die sinode voor hom met hul kruise om die nek, en die vyf gay toeskouers alleen, doelbewus soos ’n aanklag, in die een hoek van die galery.

“Daardie vyf daarbo help ons onthou om nie ons teologie in ’n borrel, eenkant, te bedryf nie. Dat ons moet praat met dié oor wie ons praat.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui