Ons sien uit na gesprek met die Sinode van Namibië – Nelis

Kyk kommentaar onderaan die artikel.

*******

Ons sien uit na gesprek met die Sinode van Namibië – Nelis | Kerkbode

Kerkbode

23 Maart 2022

Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter: Algemene Sinodale Moderamen, skryf: Die brief “Oor Namibië se ‘ultimatum’” verwys. Die Algemene Sinodale Moderamen en Algemene Kuratorium het by verskeie geleenthede lidmate, kerkrade, ringe en sinodes genooi om oor teologiese opleiding met konkrete besware of voorstelle na die Algemene Kuratorium te kom of om hulle kommer oor die teologiese opleiding van ons studente toe te lig.

Ons het veral gehoor dat daar kommer bestaan dat die studente blootgestel word aan ’n sogenaamde liberale teologie. Maar ons het gevra dat die beweringe gesubstansieer word sodat dit opgevolg kan word.

Ons het ook die Kairos Netwerk, waarvan Henrietta Klaasing die segspersoon was oor teologiese opleiding tydens ons ontmoeting, genooi om met die Algemene Kuratorium te ontmoet en saam met die Algemene Kuratorium te kyk na die kurrikulums wat gedoseer word by die fakulteite, of om spesifieke gevalle waar daar, soos hulle beweer het, valse leerstellings aan studente geleer word, uit te wys. Die KN het tot op hede nie op die uitnodigings tot deelname aan gesprekke met die Algemene Kuratorium gereageer nie. Die drie kuratoria van die drie geakkrediteerde teologiese fakulteite waar die NG Kerk se studente opgelei word, kan nie met algemene beweringe iets doen nie, maar kan baie vermag in verhouding met die ander kerke en die onderskeie fakulteite om verbeterings en regstellings te doen, waar nodig.

In die gesprek tussen ds Dubois du Toit en dr Frederick Marais waarna Henrietta Klaasing verwys, het dr Marais uitgebreid verduidelik hoe die kerk se verhouding met die fakulteite werk en watter remedies daar is vir die kerk wanneer daar ontevredenheid is oor dit wat by die fakulteite aangebied word. Dr Marais het ook verduidelik wat die NG Kerk se seminariums doen om aanvullende opleiding te verskaf, asook begeleiding en geloofsvorming te doen. Uit die videos het dit duidelik geblyk dat dit nodig was om hierdie toeligting te gee. Niemand ontken egter dat dat daar nie kommer en agterdog oor die teologiese opleiding bestaan nie. Die Algemene Kuratorium kan egter nie op beweringe in videos reageer as hulle nie bedien word met die nodige ondersteunende inligting sodat hulle verantwoordelik daarop kan reageer nie.

By die laaste ASM-vergadering van 2021 is almal, na ’n lang en deeglike bespreking oor teologiese opleiding, weer genooi om hulle besware met die Algemene Kuratorium te bespreek op ’n wyse wat dit moontlik maak om verantwoordelik en waar nodig regstellend daarop te reageer. Ds Du Toit was deel van die Namibiese afvaardiging by daardie vergadering. Daar was daarna egter slegs een lid van die moderamen uit ’n ander sinode wat die kuratorium genader het met toegeligte besware. Die besware word tans hanteer en ons hoop dat daar spoedig ’n bevredigende uitkoms sal wees.

Die Algemene Sinode was ook in gesprek met die Goudlandse Sinode oor hulle besware oor teologiese opleiding. Ook hierdie besware was algemeen van aard. Die sinode is genooi om verdere toeligting te verskaf. Die gesprekke met die Goudland Sinode was konstruktief en duur voort.

Die Algemene Kuratorium is tans besig met ’n proses om die formaat van die teologiese opleiding van ons studente te hersien. Dit is ’n deursigtige proses waarin die deelnemende sinodes genooi is om insette te maak ten opsigte van die voorstelle wat tans op die tafel is.

Ons sien uit na die gesprek met die Sinode van Namibië en glo dat dit konstruktief en verrykend sal wees.

Kommentaar

Soos in Namibië se ultimatum aan die NG Kerk beweer Nelis dat die Algemene Sinodale Moderamen en Algemene Kuratorium nie “konkrete besware of voorstelle” ontvang het oor teologiese probleme by die teologiese fakulteite nie.

Dit is nie waar dat die Algemene Sinodale Moderamen en Algemene Kuratorium nie “konkrete besware of voorstelle” ontvang het nie. Tydens die vergadering tussen die Kairos Netwerk en ASM verteenwoordigers op 22-23 Feb 2021 is daar dokument aan die ASM oorhandig, insluitende ’n dokument van Henrietta Klaasing oor teologiese opleiding – kyk Memorandum oor NG Kerk teologiese fakulteite.

Maar selfs al het hulle nie konkrete besware ontvang nie dan het hulle steeds ’n verantwoordelikheid om self ondersoek in te stel indien daar “mense is wat daaroor brom” en indien daar “algemene besware” is (kyk Namibië se ultimatum aan die NG Kerk).

Die volgende analogie is van toepassing:

Veronderstel ’n vrou se man en enigste seun (15 jaar oud) verongeluk. Na vier dae het haar predikant haar nog nie kom besoek nie. Naderhand bel van haar vriendinne die predikant om hom te vra om haar te besoek. Hy antwoord egter dat hy gereeld ’n uitnodiging aan mense maak dat hulle die predikant kan kontak indien hulle wil hê dat hy hulle moet besoek. Hy het egter nog geen versoek van haar ontvang nie en hy kan nie op bewerings reageer nie.

Nelis, daar is meer as genoeg bewyse vir teologiese probleme in die teologiese fakulteite:

2 thoughts on “Ons sien uit na gesprek met die Sinode van Namibië – Nelis”

  1. Mooi so Nelis. Wys vir die behoudendes wat jy as pous met hulle kan doen. Hulle is soos klei in jou bekwame pouslike hande.

    1. Baie dankie professor. Dit is wat ons nodig het, ’n pous wat die kerk teen die beswaarde behoudendes kan beskerm. Dit werk vir baie eeue al so want anders is daar te veel pousse in een kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui