Ongelegitimeerde Matie wil NGK help om ‘regstellings’ te maak

Kyk ook:

Vanaf Rapport gekopieer.

**************

Ongelegitimeerde Matie wil NGK help om ‘regstellings’ te maak

2011-12-10 23:06

Marlene Malan in Kaapstad

Sy’s geroep om predikant te wees.

Dit sluit in om te preek, nes haar gelegitimeerde klasmaats aan die fakulteit teologie van die Universiteit van Stellenbosch.

“Ek is nie vir ander kerkwerk geroep nie; ek het ook nie daarvoor gestudeer nie.”

Maar nou maak die NG Kerk “sý probleem, wat ’n biblistiese en konstitusionele regsprobleem is, mýne”.

Me. Lulani Vermeulen (28), die Matie wat Dinsdag haar lisensiaat in die teologie ontvang het, maar nie gelegitimeer kon word nie omdat sy nie ’n onderneming van selibaatskap aan die kuratorium van die NG Kerk kan – of wil – gee nie, sê dié optrede van die kerk is “onaanvaarbaar”.

“So asof ek ’n tweedeklasmens is. Dit maak méér as seer.”

Vermeulen sê die NG Kerk is haar belydeniskerk. “Ek glo ek kan my geloofslewe daar as predikant uitleef.

“Ek glo eerlik, opreg en met respek die kerk sal oor verskeie sake tot besinning moet kom, soos hy deur die jare oor baie sake sy standpunt gewysig het.

“’n Mens moet net die sinodale besluite van die vroegste tye af chronologies lees. Dit maak baie interessante leesstof oor reformatiewe denke uit.

“Neem byvoorbeeld die apartheidsbeleid wat kardinaal deel van die NG Kerk was, en selfs met God en die Bybel verdedig is.

“Ek glo eerlik, opreg en nederig daar is van die kerk se standpunte wat nie altyd duidelik is nie, en selfs teenstrydig met die Bybel. En wat die essensie en grondslag van die dogma betref wat deur die kerk verkondig word, sal ek nederig my rol wil speel om sulke regstellings te maak.

“Is dit dan nie die doel van Christenskap om van dag tot dag te poog om suiwer Christen te wees nie, al is jou beste daad ’n wegwerplike kleed volgens ons geloof?”

Oor watter “regstellings” sy bedoel, wil “ek my nie nou uitspreek nie, maar ek sal dit op ’n Christelike wyse eers met die kerk wou bespreek”.

Vermeulen, van Philippolis en ’n oudleerling van die Sekondêre Meisieskool Oranje, het aanvanklik eers ’n jaar by Kovsies geswot voordat sy in Engeland gaan werk en in 2006 by Maties begin studeer het.

“Ek is ’n doodgewone mens. Daar’s niks snaaks aan my nie. Ek volg ’n sobere, eerlike, opregte lewe – mensgerig, met die doel om ’n bydrae tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap te bring binne my menslike beperktheid, met die talente tot my beskikking.

“Ek verkies om enige dispuut deur dialoog, gesprek en oordenking uit te sorteer voordat ek my regte – watter regte ook al – op ander maniere sal afdwing.

“Ek glo ek is ’n diepdenkende mens, met baie liefde vir my medemens – wie ook al. Dis deel van my taak om vrede op aarde na te jaag volgens Jesus se Christelike opdrag. My deur staan oop vir almal.

“Ek is vriende met alle groeperinge en isoleer myself geensins nie.”

Haar twee lekkerste vakke was Nuwe en Ou Testament, “aangesien ons die Bybel bestudeer het en geleer het hoe om dit verantwoordelik te lees”. [Kommentaar: Dit beteken seker om dit nie letterlik te lees nie, maar om die Bybel aan te pas waar dit nie ooreenstem met die algemeen aanvaarde kultuur van die dag nie.]

Om ander maatskaplike en bedieningswerk te doen, pleks van op ’n preekstoel staan, is “hoegenaamd” nie onderhandelbaar nie.

“Dis eenvoudig: Ek is geroep om ’n predikant te word,” sê sy.

“Wat ek die graagste in die NG Kerk wil doen, is om die Woord te verkondig – van die preekstoel af.”

Kommentaar

Alhoewel die homoseksuele verklaring van 2007 (kyk 2007 NGK homoseksuele besluit) baie duideliker kon wees, het me Lulani Vermeulen baie goed geweet dat homoseksualiteit nie toegelaat word in die NGK nie. Daarom is dit vir my verbasend dat sy verbaas is dat sy geweier is om te legitimeer, ten spyte daarvan dat dr Coenie Burger haar lank voor die tyd daaraan herinner het (“Dr. Coenie Burger, wat voorsitter was van die kuratorium wat die besluit oor Vermeulen moes neem, het gesê hulle het probeer keer dat sy nie die nuus op die einde hoor nie en was heeltyd in gesprek met haar.” – uit NG Kerk sê nee vir gay vrou as predikant)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui