Ongegronde klagte benadeel evangelie – moderator

Die artikel Ongegronde klagte benadeel evangelie – moderator hieronder het in Beeld verskyn op 23 April 2013 na aanleiding van dr Wynand Louw wat dr Ben du Toit by sy Ring aangekla het omdat hy sy legitimasie-eed verbreek deur ’n panenteïstiese geloof aan te hang en nie die belydenisskrifte te glo nie (Kyk ook Leraars in die NG Kerk skuldig aan bedrog!).

Net ’n paar opmerkings oor hierdie insident:

Hierdie insident herinner baie sterk aan die insident toe prof Julian Müller en prof Jurie le Roux van die Universiteit van Pretoria se teologiese fakulteit onskuldig bevind is aan dwaling terwyl Ferdie Mulder lewenslank uit UP se teologiese fakulteit geskors is.

Prof Nelus Niemandt sal dr Ben du Toit veral sterk ondersteun omdat hy sal voel dat hy ook ’n teiken was van “ongegronde aantygings” toe dr Wynand Louw aan prof Niemandt gevra het om sy geloofsoortuigings bekend te maak (kyk Ope brief aan prof Nelus Niemandt, gepos op Facebook 12/02/2012). In Moderator ontmasker “aanstootlike leuens” – prof Nelus se brief verdedig Nelus Niemandt homself hiervan, maar ongelukkig beantwoord hy nie veel van die eenvoudige vrae wat aan hom gevra is nie.

Dr Ben du Toit sê dat hy nie pas in die panteïstiese, panenteïstiese of postmodernistiese kassies waarin Louw hom wou dwing nie. Wat is sy geloofoortuiging dan? Is hy bereid om die volgende eenvoudige vrae te beantwoord sodat mense weet: Vrae aan predikante (en ander). Ek sal verbaas wees as hy bereid sal wees, want prof Nelus Niemandt was nie bereid om dit te doen toe dr Wynand Louw hom gevra het nie en het om van kwaadwilligheid beskuldig.

Teks in [blokhakies] hieronder is my kommentaar.

Kyk ook:

*********

Ongegronde klagte benadeel evangelie – moderator

2013-04-22 23:00

Neels Jackson

Voortdurende ongegronde klagte teen teoloë van die NG Kerk oor vermeende dwaalleer strek tot nadeel van die evangelie, het prof. Nelus Niemandt, moderator van die algemene sinode, gesê.

Dit het gebeur nadat dr. Ben du Toit, direkteur van kommunikasie van die Wes- en Suid-Kaapse sinode en die NG Kerk se verteenwoordiger by die parlement, opnuut onskuldig bevind is aan dwaalleer.

Niemandt het gesê die NG Kerk staan voor ’n groot uitdaging om die evangelie nuut en vars te bring.

Nou word teoloë soos Du Toit wat dit probeer doen, voortdurend onderwerp aan allerlei aanklagte wat al hul energie verg. Dikwels gaan dit gepaard met ’n swartsmeerdery en as dit ondersoek word, word daar bevind die teoloë is nooit skuldig aan al die wandade waarvan hulle beskuldig word nie.

Niemandt het gesê hy is baie bly dat Du Toit onskuldig bevind is en jammer oor alles wat hy moes deurmaak.

Du Toit is aangekla deur dr. Wynand Louw, ’n NG lidmaat wat beweer het Du Toit se oortuigings weerspreek die Bybel en belydenisskrifte.

Dit het gebeur nadat Du Toit by die vorige algemene sinode gesê het hy glo nie in die bestaan van die duiwel nie. Hy aanvaar die bestaan van die bose en die verlossing deur Jesus Christus egter absoluut.

Du Toit het gister gesê hy pas nie in die panteïstiese, panenteïstiese of postmodernistiese kassies waarin Louw hom wou dwing nie. [Indien nie, wat is Du Toit se geloofsoortuiging? Is Du Toit bereid om die volgende eenvoudige vrae te beantwoord: Vrae aan predikante (en ander)]

Hy praat uit ’n Christelike teologiese hoek. Hy vertrou op Jesus Christus vir sy verlossing en hy glo in die Drie-eenheid. [Kan ’n mens hierdie stelling glo? Is dit dieselfde Ben du Toit wat ook die artikel Aanbid ons almal maar dieselfde God? in Kerkbode geskryf het? En as Du Toit nie in die duiwel glo nie, waarvan moet hy verlos word?]

Die ring van die Paarl het bevind dat Louw nie sy klag kon bewys nie. Sy bewerings berus op sy afleidings en nie op aanhalings van Du Toit nie.

Louw hou ook nie rekening met aanvaarbare Bybeluitleg nie, maar meen sy manier om die Bybel te verstaan is die enigste geldige een.

Du Toit se standpunte val binne die raamwerk van die NG Kerk en hy is nie skuldig nie. [Neem in ag dat die raamwerk van die NG Kerk is dat daar ruimte gelaat word vir mense wat nie in die duiwel glo nie.]

Dr. Braam Hanekom, Wes- en Suid-Kaapse moderator, het by navraag gesê hulle het die saak verwys na ’n onafhanklike kommissie van die ring van die Paarl. Hy is baie dankbaar vir ’n deeglike ondersoek en het waardering vir die objektiwiteit en integriteit van die proses.

Hy hoop die kerk kan nou fokus op die belangrike werk wat gedoen moet word.

Repliek deur Henrietta Klaasing

Neels Jackson se berig: “Ongegronde klagte benadeel evangelie – moderator” ( Beeld, 2013-04-22) het betrekking.

Dat die NG Kerk voor ’n groot uitdaging staan, is duidelik uit die tienduisende lidmate wat die afgelope jare hierdie kerk verlaat het. Ek dink nie dis die “ongegronde klagtes” wat die evangelie benadeel nie, maar juis die sogenaamde “nuut en vars bring van die evangelie”  soos dit die afgelope dekade gedoen word.

Vir jare al ignoreer die NG Kerk se leierskap waarskuwende stemme van besorgde lidmate wat vra dat die kerk sy eietydse, Skrifgetroue en belydenisgetroue gees en karakter  handhaaf. Vir die soveelste keer is wat hier gebeur, ’n teken van die kerkleiers se ongeduld met behoudende en bekommerde stemme in die kerk. Hierdie benadering gaan die kerk nog duur te staan kom.

Ek bewonder Dr Wynand Louw dat hy die moed van sy oortuiging gehad het om op te staan teen die sogenaamde “nuwe denke” wat soos ’n kanker in die NG Kerk voortwoed.

– Dr. Henrietta Klaasing, Groblersdal

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui